As kind het Carel Nel die akteur Frank Opperman as sy held beskou. Nou, dekades later, speel hy teenoor hom in die rolprent Dominee Tienie.  

Die fliek is gegrond op die joernalis Dana Snyman se gewilde eenmanstuk. Dis een van die ses vollengte-rolprente wat vandeesweek by kykNET se Silwerskermfees in Kampsbaai vertoon gaan word.

"Ek vertolk die rol van 'n hawelose man, Sparky Jordaan, wat terminaal siek is." Die teks dui nie aan watter siekte Sparky het nie.

"Toe ek vir die rol voorberei het, het ek en die regisseur, Sallas de Jager, besluit dat Sparky 'n chroniese obstruktiewe longsiekte het. Ek kon toe op 'n geloofwaardige manier, waar nodig, die siekte se simptome oordra in my spel," het die bekroonde akteur aan SARIE gesê.

Die akteur Carel Nel as Sparky Jordaan in die fliek 'Dominee Tienie'. SKERMGREEP YouTube/ kykNET
'n Toneel uit die rolprent 'Dominee Tienie'. Frank Opperman speel die titelrol. SKERMGREEP YouTube/ kykNET

Voordat die verfilming in Johannesburg begin het, het Carel met hawelose mense gaan praat om uit te vind hoe hulle oorleef. "Jy sal verbaas wees om te sien dat niemand hulself bejammer nie. Net soos die res van die mensdom probeer hulle die beste van hul omstandighede maak."

Sy kleintydheld Frank het hom die waarde van 'n goeie gesindheid op stel, aandag aan detail en goeie voorbereiding gewys. "En ek het aanmekaar vir hom gelag. Hy het my ook geïnspireer om op te hou rook!"

Dis Carel se derde jaar by die Silwerskermfees. "Die fees is belangrik vir die bedryf. Jongmense wat pas klaar gestudeer het en nog altyd rolprente wou maak, word die platform en finansiering gegee om hul stories te vertel. Die fees kweek nuwe skrywers en regisseurs. Ek sien jaarliks veral uit na die kortfilms ... meer kanse word gewaag met die stories wat vertel word. Danksy die fees was ek verlede jaar bevoorreg om aan die kortfilm Slaaf te werk."

Hy is bekommerd daaroor dat Afrikaanse rolprente die afgelope ruk nie so goed by die loket vaar nie. "Heelwat faktore, veral die swak ekonomie, kan dit beïnvloed, maar ek reken ons moet veral let op die stories wat ons vertel. Ons is geneig om te veilig met die plot en karakters te wees. Ons moenie die kykers onderskat nie en meer uitdaag. Suid-Afrika hét die talent."

Carel was einde verlede jaar te sien in kykNET se dokumentêre drama Hartstog, waarin hy die rol van die hartchirurg prof. Chris Barnard vertolk het. 

Carel Nel as prof. Chris Barnard in 'Hartstog'. SKERMGREEP YouTube/ kykNET
'n Toneel uit 'Hartstog' SKERMGREEP YouTube/ kykNET

"As voorbereiding het ek alles moontlik oor die befaamde hartchirurg opgelees en video's van hom gekyk. Ek het gewonder wie was hy voor hy roem bereik het. Wat was sy vrese, wat het hy gedoen om die mediese wetenskap te verander. Het hy die omvang daarvan besef? Teen die tyd dat hy harte oorgeplant het, het hy al soveel keer die operasie op honde gedoen, maar hulle het nie lank oorleef nie. Ek wou dus in sy mental state inklim. Ek wou weet hoe jy by 'n plek uitkom waar jy die onmoontlike moontlik maak."

Carel geniet sy werk op die verhoog, in rolprente én vir televisie. "Ek is 'n akteur en of ek nou by die KKNK op Oudtshoorn speel, op 'n verhoog in Pretoria is of voor 'n televisiekamera werk, ek is gelukkig. Solank ek myself net voortdurend kan verbeter deur elke ervaring."

Sy spel word gedryf deur 'n soeke na die waarheid en 'n menslikheid in elke karakter. "En dan was daar die mooi kompliment in 2012 voor die eerste vertoning van die verhoogstuk Die rebellie van Lafras Verwey ... In 'n kaartjie met die groot vyf op die voorkant en binne-in: 'Mag Lafras jou vestig as een van die groot vyf. Jy is huge.' Dit was my eerste hoofrol in 'n professionele teaterstuk en dit het vir my ongelooflik baie beteken."

Kyk die lokprent van Dominee Tienie hier:

- Die kykNET Silwerskermfees begin Woensdag 22 Augustus by The Bay Hotel in Kampsbaai. Hou SARIE.com en ons sosiale media dop vir meer stories oor dié filmfees.