Hy vertolk die rol van F.W. de Klerk en speel teenoor die Hollywood-ster en sanger Jennifer Hudson, wat die rol van Winnie vertolk. Ons het hom sommer dadelik oor dié opwindende projek gekontak.

Dié fliek word tans op verskeie plekke in die land, onder meer in Pretoria, die Transkei en die Vrystaat, verfilm. Deon sou in dié toneel waarvoor hy opgevlieg het,  as "F.W" in die parlement aankondig dat hy Mandela gaan vrylaat. En in die voorafgaande toneel sou hy in sy kantoor aan ene brig. De Vries (vertolk deur die Kanadees Elias Koteas) sê hy het geen ander keuse nie! Die res is, soos ons
sê . . . geskiedenis.

Darrell J. Roodt, die Suid-Afrikaanse rolprentvervaardiger wat ook vir onder meer Cry, the Beloved Country en Sarafina verantwoordelik was, sal dié rolprent maak. Terrence Howard vertolk die rol van Mandela.

Baie geluk met dié rol - hoe voel jy daaroor? En dink jy jou kaalkop het ook iets daarmee te doen?
Ek voel baie opgewonde daaroor, veral om só 'n grootse figuur in ons geskiedenis te speel. Twee redes hoekom ek dit gekry het: Ek en Darrell het saamgewerk aan die TV-reeks League of Glory en hy het my voorgestel toe hulle na 'n F.W. gesoek het. En ja, natuurlik het die kaalkop gehelp. Dis altyd makliker om vir 'n rol 'n pruik te dra as om jou hare af te skeer!

Hoe het jy navorsing gedoen vir dié rol?
Ek was bevoorreg om oudpres. De Klerk by verskeie geleenthede te ontmoet en met hom te praat tydens my jare in die hotelbedryf. Destyds het baie van die onderhandelngs vóór mnr. Mandela se vrylating by een van die hotelle plaasgevind. Ek het ook opnames van sy toesprake bestudeer en veral gelet op sy uitspraak en manerismes. Vir my is dit belangrik om sy aandeel, wat ek dink nié genoeg beklemtoon word nie, oor te dra. As dit nie vir hom was nie, was die 2010-Fifa-sokkerfees ook nie 'n werklikheid nie. Hy het op die regte tyd die regte besluite geneem en só baie bloedvergieting verhoed. Soos oudpres. Mandela is oudpres. De Klerk ook 'n staatsman wat vereer moet word.

Dink jy daar is genoeg plaaslike talent in die rolprent gebruik?
Beslis.

Daar was kritiek dat Jennifer Hudson as Winnie gekies is. Kon daar nie maar 'n plaaslike vrou gebruik word nie? Of het sy dit goed gedoen?
Ek het nog geen tonele saam met haar verfilm nie en sal haar later tydens verfilming van die "inhuldiging" ontmoet, maar ek dink dit is reg dat sy die rol speel. Kom ons wees eerlik, dit maak tog 'n verskil in dié stadium in die bedryf ten opsigte van bemarking met 'n naam soos Jennifer Hudson in die hoofrol. Sy sal die rol uitstekend kan vertolk. Vir ons plaaslike akteurs is dit wonderlik om saam met internasionale kollegas te werk. Dit gee ons baie aanmoediging en bevestig dat ons goeie werk doen. En bewys dat ons geensins hoef terug te staan as dit by vertolking en professionaliteit kom nie. Dis die geldelike belegging in plaaslike produksies wat ontbreek, nie die talent nie.

Jy werk glo baie lekker saam met die Kanadese akteur Elias Koteas . . .
Darrell het my die oggend op stel, voordat ons begin werk het, vertel ek gaan dit baie geniet om saam met Elias te werk, aangesien hy so onvoorspelbaar is tydens verfilming. Hy is 'n wonderlike akteur en nie een van ons opnames was dieselfde nie, aangesien hy altyd iets nuuts probeer of byvoeg, soos in sy lyftaal, nuanses en die afwisseling van gedagtes en dialoog. Dit hou almal skerp en dit hou die produk vars omdat jy heeltyd moet fokus op wat sy karakter doen en sê, sodat jy spontaan kan reageer. Ek en Darrell het dit geniet. Elias is ook baie rustig en aangenaam en het respek vir sy beroep en mede-akteurs. Ons twee sal beslis ons verhouding as akteurs voortsit.

Wat het jy by Darrell geleer?
Hy het baie insig en weet presies wat hy wil hê. Hy is gelykmatig, tree altyd dieselfde op teenoor akteurs en die filmspan. Hy gee die pas aan op stel en maak dit vir almal aangenaam, en dit het 'n baie goeie invloed op die eindproduk. Hy laat jou as akteur toe om jou interpretasie van die rol te gee en dit respekteer ek. Dít word dan, indien nodig, aangevul deur sy insette en hy is geweldig ondersteunend en eerlik. Hy is oopkop, 'n plesier om mee saam te werk.

Jy was pas te sien in Die Proponentjie, 'n toneelstuk by Die Volksbladfees. Wat doen jy alles in dié produksie en hoe is dit ontvang?
Ek vervaardig dit en speel ook self, as die Proponent. Ons was baie suksesvol, ook vanjaar by die KKNK, en die gehore het ons staande toegejuig. Ons is later vanjaar ook by die Aardklop-kunstefees op Potchefstroom. Kyk, dit is moeilik om Pieter Fourie se wonderlike teks met 'n goeie ensemble akteurs en 'n uitstekende regisseur soos Paul Eilers te laat misluk, maar dit is ook belangrik om die geselskap gelukkig te hou en te verseker dat dinge vlot verloop. Ek glo my jare lange ondervinding in vyfsterhotelle help my nou om ook as vervaardiger die mense en die produksie doeltreffend te bestuur.

Vertel bietjie meer van jou werk in die hotelbedryf.
Ná my drama- en onderwysstudies was ek bevoorreg om 13 jaar lank verskeie vier- en vyfsterhotelle te open en te bestuur. Ek het dit baie geniet, maar wou my passie ook uitleef en hopelik is toneelspel 'n goeie kombinasie van albei. Ek het altyd vir my personeel gesê die hotel is soos 'n opvoering. Hulle is soos "akteurs" (die kelners) wat opgelei word, die spyskaart is die "dialoog", elkeen kry 'n "kostuum" (uniform) en die restaurant/ontvangsgebied is die "verhoog". Elke bestuurder tree op as regisseur van sy eie afdeling. Sommige sjefs is veral goed met optredes en geniet die tyd op die "verhoog".

Hoekom geniet jy toneelspel?
Afgesien van die skepping van 'n karakter vir elke repetisie, bly die vertolking van 'n denkbeeldige of ware karakter baie uitdagend en is dit vir my belangrik om dit geloofwaardig aan die gehoor oor te dra. Dit is wonderlik om te sien hoe 'n produksie deur sy groeipyne gaan en dan staande toegejuig word.

Aan watter projekte werk jy alles in hierdie stadium?
Ek gaan weer ná die Winnie-projek werk aan 'n nuwe rolprent, Roepman, met regie deur Paul Eilers. En ek werk aan Die Proponentjie.

Wat is die projek tot op hede waarop jy die trotsste is?
Ek is in 2008 benoem vir 'n Fleur du Cap-toekenning as beste akteur vir die toneelstuk Wrestlers by Kunstekaap. Maar ek glo die beste moet nog kom.

Wat doen jy vir ontspanning?
Ek is geseënd met 'n wonderlike gesin. My vrou, Tilla, werk as finaniële bestuurder. Nicci (14) en Liam (10) wens die vakansie hou nooit op nie en is nou terug by die skool. Hulle ondersteun my en hou my voete op die grond. Tussen werk deur ry ek hulle rond na en van die skool en sport. Nadat hul huiswerk gedoen is, skop of gooi ons enige bal en speel graag buite. Ek gim ook en ry volgende jaar my tiende Argus-fietstoer.

Het jy 'n gunsteling-aanhaling?
''Alles is moontlik, solank jy jouself net doelgerig daarop toespits.'' Maar my gunsteling is: ''Whenever you are asked if you can do a job, tell 'em: 'Certainly, I can!' Then get busy and find out how to do it.'' - Theodore Roosevelt

Wat sal jy as akteur nog baie graag wil bereik?
Meer groot filmrolle en dan ook 'n rol in 'n musical (eendag).

Wie is jou gunsteling- Hollywood-akteur?
Sean Penn/Robert de Niro.

En die flieks wat die grootste indruk op jou lewe gemaak het?
The Mission en Chicago.