Die Kanadese akteur Keanu Reeves het nou 'n tweede werk. Ja, die ster van die Matrix-trilogie gee deesdae boeke uit!

The New York Times berig Keanu en die kunstenaar Alexandra Grant het 'n klein uitgewery, X Artists' Books, in Los Angeles begin. Hulle het reeds vier boeke uitgegee.

"Ons wil kwaliteitboeke uitgee," het Keanu aan die koerant gesê. 

X Artists' Books fokus daarop om kunstenaars se werk in boeke om te sit en sodoende toegankliker te maak. Dis as't ware kunswerke in boekvorm. "Die uitdaging is om die kunstenaars se werke in die wêreld te kry. Dis ons verantwoordelikheid as uitgewers. Wat kan ek meer sê? Ek hou van 'n goeie boek!"

Een van X Artists' Books se kunstige boeke. FOTO Instagram/ X Artists' Books

Keanu is nie al akteur wat sy lyf entrepreneur hou nie.

In Suid-Afrika is daar 'n paar celebs wat hul eie besighede besit. Dink maar aan Leandie du Randt-Bosch, aktrise en eienaar van Skoonma Clothing. En die aktrise Elma Postma is ook 'n grimeerkunstenaar en binneversierder, terwyl die aktrise Milan Murray die mede-eienaar van uitgewersmaatskappy vir kinderboeke is. Die sanger Willem Botha is ook 'n professionele fotograaf en André Schwartz het sy eie bemarkingsmaatskappy. Hulle almal is deel van 'n groep bekendes met 'n tweede loopbaan.

Die aktrise Elma Postma is ook 'n aanbieder, grimeerkunstenaar en binnehuisversierder. FOTO Facebook/ Elma Postma Aktrise

Die beste raad wat Leandie gekry het, was van haar vriendin, die aktrise Hanna Grobler. "Jy moet ook iets anders kry om te doen, anders gaan jy 'n desperate aktrise word. Toneelspel moet jou stokperdjie wees," was Hanna se woorde aan haar.

Dít het Leandie se lewe verander. Sy was toe besig met haar graad in bedryfsielkunde. "Ek het baie gebid en my liefde vir selfhelpboeke en motiveringspraatjies het gegroei. Ná ek my honneursgraad in bedryfsielkunde verwerf het, het ek 'n motiveringsboek, Gemaklik in jou eie lyf, vir jong meisies, geskryf," vertel Leandie. Mettertyd het sy ook 'n klerereeks, Skoonma Clothing, ontwikkel. "Ek het 'n unieke klerestyl en mense het dikwels gewonder waar ek my klere koop. Dit was dikwels tweedehandse winskopies."

Aktrise Leandie du Randt besit ook die kleremaatskappy Skoonma Clothing. FOTO Instagram/ Leandie du Randt

"My skoonma, Marie Bosch, het my met die eerste twee reekse gehelp. My oorlede ma se patrone en masjien is gebruik en verwys na die 'ma' in die naam. Dit maak die naam van my onderneming baie spesiaal."

Dit is uitdagend om meer as een beroep te behartig, maar sy ou daarvan om besig te wees, werk te skep en het die hoogste lof vir haar span, vertel Leandie.

"Ek raai enigiemand in die kunste aan om nog iets te doen waarmee jy geld kan verdien, sodat jy nie angstig raak nie. Kies iets waaroor jy passievol is. Kry die regte mentors en moenie bang wees om te vra nie. Lees boeke oor die sakewêreld - ek het onlangs Jim Colin se Good to Great en Marnus Broodryk se 91 Rules for Entrepreneurs gelees. Begin dan. Dit neem 10 000 uur om professioneel te raak - moenie bang wees om ervaring op te bou nie." 

Die sanger Willem Botha is ook 'n fotograaf. FOTO Instagram/ Willem Botha

Die sanger Willem Botha se loopbaan as professionele fotograaf het in Pretoria begin, toe hy vriende begin afneem. "Ek het eintlik as kind reeds van fotografie gehou en heeldag op die plaas rondgeloop en perde afgeneem."

Hy reken omdat hy self 'n kunstenaar is, het hy 'n oog vir wat werk. Sy foto's het al hoe meer in tydskrifte begin beland en 'n stokperdjie het in 'n werk verander. Hy beskou homself as 'n "one stop-shop" en doen die fotografie, hare, grimering en stilering. "Ek glo daaraan dat jy altyd meer moet leer en jouself kreatief moet uitdruk." Hy kry dit tot dusver reg om sy twee werke goed te kombineer.

In 2015 het Keanu 'n uittreksel gelees van die Franse kunstenaar Paul Gauguin se Noa Noa: