Vanaand glinster die sterre in Kampsbaai. Dis die jaarlikse kykNET Silwerskermfees en kunstenaars kom vertel hul stories vir Kaapse gehore. Ellen, die storie van Ellen Pakkies gaan die filmfees amptelik open. 

Die storie het die wêreld in 2007 geruk: ’n Ma van die Kaapse Vlaktes, Ellen Pakkies, verwurg haar tik-verslaafde seun, Abie. Wat dryf ’n ma tot so ’n daad? Hoe desperaat moet sy nie wees om haar eie kind se lewe te neem nie?

'n Toneel uit die rolprent 'Ellen, die storie van Ellen Pakkies'. Abie Pakkies (Jarrid Geduld) konfronteer sy ma, Ellen Pakkies (Jill Levenberg). SKERMGREEP YouTube/ kykNET

Die akteur Jarrid Geduld, in die rol van die 20-jarige Abie, maak vanaand sy debuut by die fees. Hy vertel dit was ’n emosioneel uitmergelende rol waarvoor hy 13 kg verloor het. Maar dit was ook een van die hoogtepunte van sy lewe. "Almal op stel het besef ons is besig om ’n spesiale storie te vertel.’’

Oor Suidooster se Jill Levenberg, wat die rol van Ellen vertolk, sê hy: "Sy was ’n sonstraal, ’n besonderse vriendin. Ons het ongelooflik goed saamgewerk en báie gelag."

Jarrid het voorberei deur die draaiboek oor en oor te lees. Hy wou die storie, elke nuanse van die karakter, verstaan omdat hy nie met Abie kon praat nie. "Ek moes weet hoe tik-verslaafdes se koppe werk, wat hulle motiveer om sekere dinge te doen." Dit het ook gehelp om "in die karakter se lyf te kom" toe hy 13 kg afgeskud het.

Jarrid Geduld moes 13 kg vir sy rol verloor het. SKERMGREEP YouTube/ kykNET

Dit was vir hom ’n voorreg dat Daryne Joshua, bekroonde regisseur van Noem my Skollie, hom met die rol vertrou het. Hulle wou gehore insig gee in die dwelmprobleem op die Kaapse Vlakte.

"Toe ek tannie Ellen ontmoet het, was ek nogal geïntimideer, maar sy is ’n warm vrou met ’n lieflike hart. Sy is lewenslustig en vol vreugde. Ek was nie juis gemaklik om haar oor sekere dinge uit te vra nie, maar sy het openlik my vrae beantwoord. Sy het my verseker dat dit nie saak maak wat met jou gebeur nie, die Here waak altyd oor jou."

Die rolprent het hom weer in voeling gebring met elke aspek van menswees. "Ek het so nederig gevoel ná die projek. En ek het soveel positiewe terugvoer van die publiek gekry, mense wat hul eie stories vertel het."

'n Dramatiese toneel uit "Ellen, die storie van Ellen Pakkies". SKERMGREEP YouTube/ kykNET

Dis vir hom die wonder van toneelspeel – dit maak stories lewendig en laat jou groei.

"Ek is dankbaar ek kan deel wees van die Silwerskermfees, want dis belangrik vir die bedryf. Dit gee opkomende en gevestigde talent die geleentheid om hul werk te wys en om te netwerk. Ek hoop ek kan in die toekoms draaiboeke skryf en die regie daarvan doen – aanvanklik vir kortfilms en later ook vollengte rolprente."

Hy werk op die oomblik aan ’n dramareeks vir kykNET, maar kan nog nie veel daaroor sê nie.

Kyk die lokprent hier:

- Die kykNET Silwerskermfees begin vandag, 22 Augustus, by The Bay Hotel in Kampsbaai en duur nog tot Saterdag, 25 Augustus. Hou SARIE.com en ons sosiale media dop vir meer stories oor dié filmfees.