Sedert inperking het die aktrise Jana Strydom se perspektief “geglobaliseer”.

Sekere vrae het by Jana opgeduik: Wat is regtig belangrik? Wat is oud en tyd om te laat gaan?

“Vir ’n periode in tyd is die mensdom regoor die wereld gekonfronteer met ‘n uitdagende universele tema wat ons almal forseer om na binne te keer en ons realiteit te herevalueer,” vertel die krulkop aktrise wat onlangs in Fynskrif te sien was.

Jana en haar drie kinders. FOTO Instagram / Jana

Die Covid-19-pandemie het ’n groot ruimte vir onsekerheid gelos. Hoe gemaak as jy drie kinders moet grootword en self nie antwoorde het op hul vrae nie?

Volgens Jana het sy en Hannes nog altyd probeer om vir hul kinders, Ohan, Luka en Anouk, groot te maak om hulself te ontdek, te leer ken en te verstaan. “Jy is nie die stemmetjie binne jou wat jy hoor nie, jy is nie wat jy voel nie ... jy is die een wat voel dat jy voel. En wanneer jy in verhouding met jouself staan, dan het jy alles tot jou beskikking om ’n betekenisvolle en gelukkige lewe te kan lei.”

Jana-hulle maak tyd om te gesels én om te luister.

“Ons probeer ons kinders bemagtig deur vir hulle taal te gee om sin te maak en uit te druk wat binne hulle is. Ons probeer ’n voorbeeld stel deur dit wat die lewe ons kant toe bring te hanteer met aanvaarding en die les te soek in moeiliker uitdagings ... Ons leef eerlik.”   

Sy self moes in die lewe waag én haar grootste een was om liefde te kies. “Ek het grootgeword met die idee dat ware liefde net ’n sprokie is waaroor jy droom, dit bestaan nie werklik in die volhoubare sin nie en een of ander tyd gaan liefde jou hart breek.”

Maar haar man, Hannes, het nog altyd in liefde geglo. En toe hy haar op 15-jarige ouderdom sien, het hy geweet dat ek sy liefde is. “Oor tyd het ek insig verkry en ek kon my geloofstelsel, my waardestelsel verander. My gesin is die vrugte van my arbeid. Ek het nog nooit so heel en gelukkig-tevrede gevoel soos nou nie.”