Vasvat kan jy haar nie, want aktrise Hanna Grobler se lewe en werk wemel van die kontraste. Sy doen nie óf dit óf dat nie, sy doen áls - van superplastiek tot superreal...

Hanna Grobler het ’n manier om jou onkant te betrap. Destyds al, in die TV-werklikheidsreeks Survivor SA: Santa Carolina, het sy vriend en vyand verras toe dit gou duidelik raak: sy’s dalk fyn en blond, maar g’n liggewig nie. Sy’s taai. (Wie sal die episode vergeet waar sy emmers water van 64 kg sowat 40 minute lank op haar rug gehou het?)

Dis drie jaar later, en ons is in ’n effens anderste eilandopset: luilekker aan’t gesels in die strand-restaurant van die vyfster-oord Long Beach op Mauritius. Hanna, deesdae ’n brunet, vat ’n hap tuna, verskuif haar sonbruin bene en leun vorentoe om haar eie kunswerk op haar slimfoon te wys. Ek hou ’n standaard- beleefde reaksie gereed. Maar die foto van haar skildery van ’n nguni-bul op die foon se skerm laat jou dadelik regop sit. Wow. Hanna kán skilder.

"Ek's g'n blonde poppie" - Hanna

Sy het aan die Pro Arte-kunsskool in Pretoria gematrikuleer, ’n merietebeurs gekry om kuns op Maties te studeer, maar toe op drama besluit. Daarna het sy tien jaar lank nie aan ’n verfkwas gevat nie, maar deesdae werk sy tussendeur aan opdragwerke in haar kunsateljee by die kantore van haar liefdadigheidsorganisasie, die Hanna Charity and Empowerment Foundation, in Hazelwood, Pretoria.

In retrospek was SARIE se fotosessie die oggend op die strand ’n voorloper van wat jy kan verwag van ’n onderhoud met haar.

FOTO: Leana Clunies-Ross

Jy kry haar net nie vasgevat nie – jy dink dalk jy leer haar ken, maar dan vang sy jou onkant met ’n antwoord of stelling en jy besef jy ken haar eintlik glad nie.

Of sy nou model speel vir die kamera, of net haarself is, sy verras jou. Dis daardie amperse onpeilbare eienskap, reken Fanie Cronjé, ons stylredakteur. Die een oomblik lyk sy soos die kelnerin Lulu wat ons in (die kykNET-sitkom) Moeggeploeg leer ken het, die volgende trek sy na ’n jong Demi Moore ... Hanna hét baie fasette. Daar’s die Hanna wat van kleins af ingestel was op die underdog, wat maats gemaak het met die kinders wat arm of ongewild was, die een met die sagte hart wat groot genot daaruit kry om deur haar stigting “dinge beter te maak vir mense” en hulle in hulself laat glo. Maar daar’s ook die Hanna wat nie nonsies vat van dieselfde mense vir wie sy so omgee nie. Soos sy later in die onderhoud in haar amperse kleindogtertjie-stemmetjie sê: “Mense weet al, moenie my vertel iemand steel by jou krag nie, kom met ’n plan. Dit is wat ek wil hoor: ‘Ek wil werk, dit en dit is wat ek wil doen.’ Ek is sag, maar ek kan streng wees ook.”

In Hanna Grobler se handsak

Sy peusel ingedagte aan ’n stukkie brood, glimlag as jy verwys na die kontraste in haar lewe, die twee verskillende wêrelde waarin sy ewe gemaklik lyk. Aan die een kant aktrise, aan die ander kant baas van ’n groot organisasie wat buiten talle vrywilligers, vyf voltydse werkers het wat al die projekte koördineer – van werkskeppingsprojekte tot betrokkenheid by ouetehuis en kinderhuise.

FOTO: Leana Clunies-Ross

Van superplastiek tot ... “... superreal?” val sy jou in die rede. En dan lag sy, vee ’n los krul uit haar blougroen oë. “Kom ons wees eerlik, dis ongelooflik narsisties om akteur te wees. Daardie selfliefde in toneelspeel is iets waarmee ek myself nie kan vereenselwig nie. Ek vat dit maar vir wat dit is. Ek sal ook nie akteurs oordeel wat so is nie. Ek is dankbaar dat ek vanself die anderkant verstaan. Ek kyk met humor daarna.”

Tog lok die bedryf haar steeds en is sy mal oor aktrisewees, “al definieer dit my nie”. Sy sosialiseer nie juis veel met ander akteurs nie. “Ek het een of twee goeie aktrisevriendinne, maar my beste vriendin van laerskool is nog steeds my beste vriendin.” Sy is opgewonde oor die fliek As jy sing*, waarin sy die rol vertolk van mev. Cecilia Bredenkamp, die skoolhoof se vrou. Sy en Robbie Wessels (mnr. Bredenkamp) is die twee komiese karakters in hierdie musiekrolprent, maar hulle gaan nie self sing nie.

“Dis vir my heerlik om mense te vermaak. In die bedryf kan jy ook ’n boodskap oordra, net soos jy dit kan doen deur liefdadigheid. Selfs met ’n oppervlakkige komedie kan ek tog mense laat lag en hulle vir ’n oomblik van hul slegte omstandighede laat vergeet.”

FOTO: Leana Clunies-Ross

As sy kans kry om aktrise te wees gryp sy dit aan, maar die stigting bly haar voltydse werk. Dis die groot konstante, reeds sedert 2008 toe sy dit tot stand gebring het. Baie dinge het ook verander in haar lewe. “Ek is nou by ’n nuwe hoofstuk. In my 20’s het ek hierdie pop gespeel. Die Barbie, die blonde bom. Nou wil ek nie meer daardie rolle vertolk soos [Getroud met rugby se] Kiki nie. Noudat ek 30 is, wil ek meer ouderdomsgepaste goed vertolk.”

FOTO: Leana Clunies-Ross