2020 het my geleer dat ...

2020 het my geleer dat jou planne vir jouself nie noodwendig God se planne vir jou is nie. Ek dink ons is so gewoond en ingestel aan ons daaglikse roetine dat ons net aanneem more is gewaarborg, maar eintlik is nóú al wat ons het. Vanaf hierdie jaar is ek net meer ingestel om te leef in die oomblik, om alle uitdagings aan te gryp, kanse te vat en eerder op die positiewe kant van alles te fokus.

As ek net 3 apps op my selfoon mag hê, dan kies ek:

As ek net drie apps op my selfoon mag hê dan kies ek: Bible-app, want dis ’n toeganklike manier om daagliks op enige plek en tyd, tyd te maak vir God. Whatsapp, want jy kan met al jou vriende en familie in kontak bly. YouTube, want dis ’n platform waar jy enige iets kan kry.

’n Suid-Afrikaanse vrou wat my inspireer:

Ingrid Jonker is ’n Suid-Afrikaanse vrou wat my inspireer, omdat sy deur haar gedigte leef. Drie jaar terug toe ek vir die eerste keer haar gedigte begin lees, het die vraag by my opgekom: “Wat keer my om te skryf?” Nou het ek al meer as twintig gedigte waarin ek my emosies en ervaring op papier neerskryf. Dit is waar ek my totale self kan wees sonder om geoordeel te word. Ondanks haar struikelblokke en donker tye, het Ingrid ons lewens verryk met haar kreatiewe denke en woorde. Selfs al is sy nie meer hier nie, leef sy deur haar werk voort. Ek hoop dat ek eendag my trots sal kan sluk om my gedigte met ander te kan deel, want wie weet, dalk het iemand daardie woorde nodig.

Alanis Meyer se inskrywingsfoto's
Alanis Meyer se inskrywingsfoto's
Alanis Meyer se inskrywingsfoto's
Alanis Meyer se inskrywingsfoto's
Alanis Meyer se inskrywingsfoto's
Alanis Meyer se inskrywingsfoto's

Die ‘reality show’ oor my lewe sal wees:

Die naam van ’n “reality show” oor my lewe sal Myne wees. Ek weet nie watter inhoud dit sal bevat nie, omdat ek nie juis “reality shows” kyk nie, maar dit sal beslis eie en uniek wees aan my. Al is daar soveel goed wat ons kan sê is dieselfde, ervaar ons almal dit steeds op ons eie manier. So wees jy in beheer van jou eie storie! 

Ek droom om eendag:

Ek droom om eendag ’n verskil in iemand se lewe te maak. Ek is die afgelope drie jaar deel van ’n uitreikspan, en elke dag besef ek weereens dat daar niks beter is as om iemand te laat glimlag nie. Om uit te reik na die gemeenskap, ’n verskil te maak en net om daar te wees vir iemand is iets wat ek nooit sal ophou om te doen nie. Soveel mense, families en kinders het ons nodig en partykeer is jou tyd meer as genoeg vir hulle.

Die wenner van SARIE Nuwe Gesig word 17 Augustus op SARIE se Instagram-blad aangekondig. Maak seker jy volg ons! SARIE Nuwe Gesig word trots aangebied in samewerking met die Isa Carstens Akademie