Met Simeon se koms om die draai, hoe kry jy dit reg om op die rooi tapyte te verskyn? Waar kry jy die energie?
In hierdie stadium is elke minuut saam met my man alleen vir my soos 'n date. So, as ek die kans kry gaan ek dit vat! En menige swanger vrou voel nie altyd sexy en aantreklik nie, so ek is baie dankbaar vir 'n geleentheid waar ons bietjie kan opdollie en moeite doen. Die energievlakke is nog redelik goed op hierdie stadium, maar ek kan nou begin agterkom na middagete wil hierdie ogies toeval.

Hoe het julle op sy naam besluit?
Met Lian was ek goed voorbereid (soos dit maar met 'n eerste baba is). Voor ons uitgevind het wat die geslag is het ons 'n dogtertjie- en seuntjie-naam gehad, alhoewel ek gewéét het ons gaan net die seuntjie-een gebruik. Met Simeon was dit heel anders, daar was nie tyd vir dink en droom oor 'n naam nie. Ek het my vriendin gevra om saam met my te bid en te droom oor my baba (dit was die dag voor ek uitgevind het dit is 'n seuntjie). Sy het vir my gesê sy het dit al gedoen en dadelik die gevoel gekry dat hierdie baba soos Samuel van die Bybel gaan wees wat God se stem kon hoor. Samuel is vir my 'n mooi naam in Engels maar wou iets anders in Afrikaans hê. Ek het in my naamboeke gaan kyk wat Samuel beteken en dit was "God het gehoor" toe sy ma, Hanna, vir hom gebid het. Maar die naam is twee-ledig, hy sal God hoor en God sal hom hoor. Dit was vir my baie spesiaal. Ek het 2 aande in die bad gelê met die boek en ander name gesoek met dieselfde betekenis. Ek het op Simeon afgekom (ek het dit reeds gemerk voor Lian se koms want dit was vir my 'n baie mooi naam). En toe wraggies, toe ek kyk wat dit beteken was dit presies dieselfde as Samuel. En net daar en dan was hy baba Simeon Carl (Heinz se naam) Winckler.

Aletté-Johanni Winckler

Hoe voel Lian oor sy bababoetie se koms? Dink jy hy gaan bietjie jaloers wees? En hoe voel dit vir jou om te weet dat jy binnekort nie nét meer vir Lian het nie en dat jy jou aandag tussen 2 sal moet verdeel?
Ek moet eerlik wees ek is bietjie bekommerd hieroor. Ons vertel Lian die hele tyd van "boetie" en hy soen my magie en ons het nou pas die cot en enkelbed uit Lian se kamer gehaal en in die babakamer gesit. Hy het nou 'n groot bed, maar ek dink steeds nie hy besef lekker wat aangaan nie. Lian is versot op aandag en ek kan dink die aanvanklike aanpassing met 'n nuwe baba gaan seker vir hom moeilik wees, veral omdat hy nou vir bykans 2 jaar ons alles was. Ons gaan regtig baie moeite met hom doen as Simeon kom om hom deel te maak van die proses, en ek sal graag ook elke dag nog alleen-tyd saam met hom wil hê. Ek moet ook sê ek kan dit nie dit indink om nog 'n babatjie te hê en vas te hou en lief te hê nie. Al my vriendinne sê dit gebeur so natuurlik en jou kapisiteit van liefde verdubbel sodra jy daai baba vashou. Ek sien baie uit, maar ek is baie senuweeagtig!

Aletté-Johanni en Lian Winckler

Met 'n lewe in die kollig, Heinz se optredes, jou eie baie besige skedule . . . Het jy hulp? Hoe gaan jy 'cope' met 2 kleintjies? Watter planne het jy gemaak om dit vir jou te laat werk?
Ek en Heinz het aan die begin van die jaar vir ons 'n assistent aangestel en dit help alreeds BAIE, en dit gaan dit baie makliker vir my maak om af te skakel en net op die kinders te fokus en te weet dinge in die kantoor gaan aan.  Ek vat doelbewus 3 maande af om net "mamma" te wees. Lian is van Januarie af so 3.5 ure per dag in die skool en hy floreer, so in die oggende gaan ek net op Simeon fokus en in die middae sal Lian betrek word met als. Ons het ook 'n "nanny" wat help deur die dag, maar net gistraand se ek vir Heinz: "Wat maak ek op naweke wanneer hy nie by die huis is nie en ek geen hulp het nie?" Sy antwoord aan my: "Daar is baie vrouens wat al met baie erger omstandighede die mas opgekom het." So... nie baie simpatie nie..

Aletté-Johanni en Heinz Winckler

Aletté-Johanni, Heinz en Lian Winckler

Kry jy en Heinz dit nog reg om 'n tydjie vir julleself af te knyp? Hoe werk julle dit so tussendeur julle skedules? 'n 'Date night', 'n vinnige gereelde ontbyt so in die week...?
Oe, jitte, vang julle ons nou uit. Ons het baie INTENSIES om dit te doen, maar eerlikwaar kom ons nie daarby uit nie. Ons alleentyd is gewoonlik na 7 in die aande wanneer Lian reeds slaap en ons 'n paar van ons stories wat ons opgeneem het kan inhaal. Ons eet darem ook meestal elke middagete en aandete saam en ons werk darem ook in kantore REG langs mekaar ,so ons kry baie van mekaar te sien, alhoewel ons nie altyd alleen is nie. Ons gaan darem nou vir so 5 daggies bietjie saam met Lian Ballito nou voor Simeon kom, net om daai laaste alleentyd saam met hom te he en en ons gedagtes reg te kry oor die koms van Simeon!