Vyftig dae gelede was die Alles Malan-ster tot stilstand gedwing. Suid-Afrika het ’n staat van inperking afgekondig en almal moes tuisbly. Skielik het Ivan slegs twee vooruitsigte gehad: Stilte en tyd. Twee dinge wat gesorg het dat die lirieke van ’n ou liedjie weer in sy kop kom draai het. 

“Mandjie vol sterre” is deur sy wêreld-reise geïnspireer. En die wete dat ons almal, in die groter prentjie, ewe klein is én in dieselfde bootjie roei. 

“Ek hoop dat hierdie les my sal bybly tot selfs ná hierdie tyd,” het Ivan aan SARIE.com gesê.

Ivan, wat die liedjie 12 jaar terug geskryf het, het besluit om nuwe lewe daarin te blaas en met drie kreatiewe siele saam te werk: Esté en Lourens Rabé van Bottomless Coffee Band, asook Lionel Smit, ’n talentvolle skilder en beeldhouer.

Ivan het saam met Lourens en Esté Rabé van Bottomless Coffee Band, asook die kunstenaar Lionel Smit gewerk. FOTO’S Kikitography (BCB) / Verskaf

Terwyl Lionel die lirieke van “Mandjie vol sterre” omgetoor het in bewegende beelde, het Bottomless Coffee Band en Ivan die musiek saamgeweef en herverwerk. 

“Ons het nog altyd geweet Ivan het hierdie weggesteekte gawe wat min mense van weet,” verklap Esté.

En só is ’n splinternuwe weergawe van sy liedjie gebore:

Nes Ivan, het Esté en Lourens ook nuut oor die gawe van tyd begin dink. 

“Die gawe om uiteindelik te kan kies hóé om hierdie tyd te bestuur. Ons het ook geleer hoe ons afhanklik is van mekaar, ander. Ons dink so maklik dat ons in beheer is van alles. Maar dan gebeur so iets en jy besef ... jy is nie in beheer nie.”

Esté meen ’n tema wat nou duidelik na vore kom is herskepping. “Too reinvent yourself ... iets nuuts in ons en rondom ons gemeenskappe. Om nuwe maniere te kry om te dien, om nuwe maniere te kry vir inkomste genereer. Dít herskep letterlik ons gedagtes.”

Die musiekvideo bevat visuele beelde deur kunstenaar Lionel Smit. SKETSE / KONSEP Lionel Smit

En wanneer die nuwe normaal uiteindelik aanbreek, gaan Esté-hulle dankbaar wees vir die mense rondom hulle. Kunstenaars, vriende, geliefdes, mense, die gemeenskap. 

“Ons het die ongelooflikste gebare gedurende hierdie tyd gesien. Die waarde van tyd én die priotisering daarvan om dit te gebruik om die mense in jou onmiddellike omgewing te dien. Al wat ons het om te gee in hierdie tyd, is dít wat in ons harte klop.”

Ivan sal altyd hierdie tyd van onsekerheid koester. 

“Ná elke klein apokalips ontstaan ’n wonderlike geboorte. Ek gaan dankbaar wees vir tyd. Elke dag.”