We are the rainbow people and we make the difference

Dís die woorde op die lapbehangsel teen die sitkamermuur van die Vredestigting in Milnerton, Kaapstad, waar emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu en sy span hul werk vir wêreldvrede voortsit. In allerhande kleure reik die hande daarop na mekaar uit.

Presies só kan ’n mens die Arch se werk opsom: Hy laat mense oral hande vat. Hy het immers in 1984 die Nobelprys vir Vrede ontvang. En as hoof van die Waarheids-en-versoeningskommissie moes hy help om ’n brug óór apartheid te bou na ’n nuwe, vergewensgesinde SA. Hy moes na aangrypende en skokkende verhale luister. Van dag een af kon hy die trane nie keer nie, vertel hy self.

Oral in die sitkamer pryk trofeë vir sy humanitêre werk. Selfs die Internasionale Gay en Lesbiese Menseregtekommissie het hom vanjaar bekroon vir sy “uitgesprokenheid oor gay-regte”. Die Desmond Tutu-HIV-Sentrum help HIV- en vigslyers en as voorsitter van die Global Council of Elders, bestaande uit internasionale leiersfigure en vorige Nobelpryswenners, beywer hy hom vir die oplos van wêreldkrisisse.

Dié man se hart is gróót. En hy draai nie doekies om nie, al trap hy op wié se tone. Daarom is hy al “die gewete van die volk” genoem. Roz Zander, ’n Amerikaanse motiveringspreker wat SA vanjaar besoek het, vertel hoe sy saam met die biskop straataf is om te gaan ontbyt eet. Byna niemand het hom herken nie.  “Want wie verwag nou ’n wêreldfiguur in ’n kabeltrui op straat?” Toe twee tienermeisies agterkom wie die man in die trui is en agter hul hande giggel, het hy nader gestap, hul gesigte een-een tussen sy hande geneem en elkeen op die voorkop gesoen.“’n Gebaar wat hul lewens sal verander,” reken Roz.

Op die kop elfuur word ’n trollie met tee en Marie-beskuitjies by die Vredestigting se sitkamer ingestoot. “Dis ’n instelling. Die Arch voel dis belangrik dat almal wat hier werk soggens saam tee drink,” vertel sy assistent, Lavinia Browne. Die sitkamer word stadigaan voller en ook die vrou wat pas die mat gestofsuig het, sluit by ons aan.

Hoe voel dit om saam met so ’n groot gees te werk? Dan Vaughan, kantoorbestuurder, sê die Arch is menslik, “and he definitely practises what he preaches”. Mthunzi Gxashe, die biskop se skoonseun, wat saam met hom werk, sê met vonkelende oë:  “Vir jou is hy dalk famous. Vir my is hy maar net ’n gewone mens.”

Dan kom biskop Tutu (77) self die vertrek binne. Hy’s nie veel langer as 1,6 m nie. Maar sy teenwoordigheid vul die hele kamer. Hy dra ’n swart hemp en broek en die groot silwer kruis om sy nek, ’n geskenk van ’n non, verklap hy is ’n man van God. Later, toe hy die klein silwer kruisie met kristalle om my nek sien, sê hy laggend:  “Joune is mooier as myne.” Hy groet gulhartig op Afrikaans. Die tee word aangegee en hy vertel van sy onlangse besoek aan die kinderafdeling van die Tygerberghospitaal, waarvan hy beskermheer is. “Dis ongelooflik om te hoor van die operasies wat dokters daar op vroeggebore babas doen. Weet julle hoe klein is hul bloedvatjies?” Ons is klaar tee gedrink. “Nou toe kom, Ousie, laat ons gaan praat,” sê hy glimlaggend en lei my aan die arm by sy reuse kantoor in. Ek trek dadelik weg met die vrae - ons het min tyd in sy besige dag. Maar die Arch lig sy hand. “Let us first pray . . . ” En toe die onderhoud klaar is, groet hy met ’n drukkie.

Wat was tot dusver die hoogtepunt in jou lewe?
Die geboorte van my seun, Trevor (deesdae ’n entrepreneur in Johannesburg). Hy’s die eerste van vier kinders. Ek en my vrou, Leah, het by my ouers naby Krugersdorp gewoon. Leah is in die hospitaal opgeneem en ek wou bel om te hoor hoe dit gaan. Daar was in die hele township nie ’n telefoon nie, net die plaaslike verpleegsterstehuis het een gehad. Ek hardloop toe die myl soontoe en bel. My seun is toe pas gebore! Ek was so opgewonde, ek het al die pad terug huis toe gehardloop om vir my ouers te sê ek het pa geword!

Julle het ook drie dogters. Wat doen hulle nou?
Thandeka Teresa het onlangs van Amerika teruggekom om haar in Suid-Afrika te hervestig. Sy’s by primêre gesondheidsorg betrokke. Naomi Nontombi (wat die Tutu-Stigting vir Ontwikkeling en Noodleniging in SA begin het) is ’n openbare spreker en konsultant in Amerika. Eerwaarde Mpho Andrea is ’n priester in die Episkopaalse Kerk in Amerika en die uitvoerende direkteur van die Tutu-Stigting vir Gebed en Pelgrimstogte.

Hoe moet ouers hul kinders se suksesse en mislukkings hanteer?
As ons kinders ons teleurstel, praat ons met hulle en probeer hulle laat verstaan dat ons hulle liefhet, ongeag wat. Kinders is méér as net hul suksesse en mislukkings. Maar ons vier hul suksesse en troos hulle wanneer hulle misluk.

Hoe is dit om oupa te wees?
Dis fantasties! Ek het sewe kleinkinders.

Hoe behou ons geloof in ’n deurmekaar wêreld?
Dis God se wêreld en dit maak nie saak hoe sleg dinge raak nie, alles sal uiteindelik oukei wees. Intussen word ons gekonfronteer met uitdagings. Omdat ek ’n Christen is, glo ek niks kan so hopeloos wees soos die situasie op Goeie Vrydag nie. Toe is ’n Goeie Persoon aan ’n kruis gespyker. Daarna was daar die triomf, die opstanding. Die goeie het oor die bose geseëvier. Soos dit altyd sal.

Al ooit deur God teleurgestel?
Ek het nog nooit my geloof verloor nie, maar ek was al baie kwaad vir Hom. Daar was tye dat ek gevra het: God, waar is U? Veral wanneer ek die hulpelose slagoffers van apartheid gesien het. Dit was ’n donker tyd, maar tog het ons bly glo geregtigheid sal triomfeer. En dit het . . . ’n Mens moet altyd onthou geloof is nie individueel nie. Ons behoort aan ’n liggaam, ’n kerk, en daar is ander wat voortdurend vir ons bid. Daarby het ons altyd probeer om ons sin vir humor te behou.

Jou hartlike lag is kenmerkend . . .
Ja, ek het geleer om myself nooit te ernstig op te neem nie. Selfs toe ek destyds begrafnisse moes lei waar honderde mense weens geweld gesterf het, het ek stories vertel om ander te laat lag. En hulle hét.

Gunstelinge

BOEK A Lesson of Love: The Revelations of Julian Of Norwich (onverkort) vertaal deur vader John-Julian OJN.

ROLPRENT Stormy Weather (1943) met Lena Horne

AKTEUR Bill Cosby

AKTRISE Lena Horne

MUSIEK Wanneer ek bestuur, luister ek graag na klassieke musiek, veral Beethoven.

DRANKIE Dit was altyd rum en Coke, maar nou drink ek hot chocolate.

KOS Beslis beesstert

LEKKERS Marshmallows

PLEK Huis!

WÊRELDLEIER Madiba. Hy is 'n inspirasie en altyd nederig.

Jy skroom nie om te kritiseer as jy dink dis nodig nie, of dit nou Mugabe of Mbeki of Zuma is. Hoekom is dit belangrik om te praat?
Ek lewer nie kritiek om klippe te gooi of nasty te wees nie. Ek sê wat ek dink omdat ek dié mense wil help verander om só ons land ’n beter plek te maak.

Wat is die belangrikste boodskap in jou jongste boek, God has a dream?
Dat ons almal familie is; broers en susters. En jy sal tog nie steel van jou suster, of jou broer doodmaak nie. As ons dít eers besef, kan ons aangaan. Ek het die boek geskryf omdat ons almal tye van hartseer en wanhoop deurmaak. Soms verloor ons moed en dink ons die swaarkry in ons lewens en ons wêreld gaan nie ophou nie.

Is jy altyd heilig of soms ook stout?

Ek is, soos almal, ’n sondaar. Ek probeer om ’n heilige te word.

Enige slegte gewoontes?
Mmm . . . Ja! Ek is geneig om jaloers te raak op enigiemand wat aangeprys word en aandag kry!

Wat was die grootste openbaring tydens die Waarheids-en-versoeningskommissie?
Dat die mens wesenlik goed is. Ons het aaklige dinge gehoor en dit ís so dat ons almal in staat is om boos te wees. Maar ons het ook ’n ongelooflike vermoë om selfs die aakligste gebeure te vergewe. Dit was fantasties om te besef.

Hoe belangrik is vergifnis in ons lewens?
Ek kan nie dink hoe ons daarsonder kan oorleef nie! Ons kan mekaar so seer maak. Neem die huwelik as voorbeeld. As ons mekaar nie vergewe het nie, was die egskeidingsyfer nóg hoër.

Julle is al 53 jaar getroud. Wat is die suksesresep?
’n Mens moet besef wie die baas is . . . Sý is! Nee, ons moet mekaar net nooit as vanselfsprekend aanvaar nie. Waardeer mekaar. En sê ook so.

Watter rol speel Leah?
Ek skryf alles wat ek is aan haar ondersteuning toe.

Watter soort mens is sy?
Sy is radikaal en ek is konserwatief. Sy het ’n wil van haar eie, maar is tegelykertyd baie ondersteunend.

Was jy ooit die skottelgoed?
Ja, wanneer ek en Leah alleen tuis is. Sy kan nie lank staan nie, sy sukkel bietjie met haar rug. Andersins gebruik ons die skottelgoedwasser. Ek neem ook vir haar soggens tee in die bed.

’n Boodskap aan diegene wat dink ons land is op pad na ’n tweede Zimbabwe?
Moenie net terugsit nie. Dit is jóú land. Doen iets! Verhoed self dat ons nog ’n Zimbabwe word. Neem ons vryheid as voorbeeld. Dit het beslis nie vanself gekom nie. Ons siviele gemeenskap was aktief. Jy moet net sê: Nee, dit is genoeg!

Waar het dinge in hierdie land dan so verkeerd geloop?
Onthou, ons vryheid is net 14 jaar oud. Natuurlik sal daar uitdagings wees. Selfs lande wat lankal vryheid het, worstel met vraagstukke. Wat tel, is hoe ons elke uitdaging aanpak en uitvoer.

Is daar hoop vir die jeug?
Ek is glad nie bekommerd oor ons jongmense nie. Hulle is fantasties en die toekoms van ons land lê in hul hande. Wanneer dinge wel verkeerd gaan, soos wanneer ’n jongmens moor, is dit ons volwassenes wat hulle op die verkeerde pad gelei het.

Jy het al vir Oprah ontmoet. Watter soort mens is sy?
Sy is aangenaam, warmhartig en sy gee regtig om. Maar sy’s ook baie, baie ryk!

Die filmster Richard Gere het glo kom kuier?
Ja! Ek neem hom toe na die kantoor hier oorkant waar baie vroue werk. Hulle het soos tieners te kere gegaan, gegil en ge-oe en ge-a. Ek kon dit nie glo nie!

Jy reis baie en het al by tye oorsee gewoon. Benewens SA, van watter land hou jy die meeste?
Noorweë, omdat hulle ons in 1984 (toe hy die Nobelprys ontvang het) baie spesiaal laat voel het. Dis ook my gunsteling-land om in vakansie te hou.

Watter bederf kies jy wanneer daar ’n vrye tydjie is?
Ek slaap, eet rum-en-rosyntjie-roomys en lees.

Jy inspireer so baie mense, wie inspireer jou?
Trevor Huddleston, die anti-apartheidsaktivis, het ’n sterk invloed op my geestelike ontwikkeling gehad. Hy het beslis geglo dat almal na God se beeld geskape is. Hy was passievol oor regverdigheid en het omgegee vir minderbevoorregtes. As kind het ek op ’n dag saam met my ma in die straat in Sophiatown gestaan toe dié wit man in priestersklere verbyloop. Hy het sy hoed vir haar gelig. Ek kon my oë nie glo nie. Hier was ’n wit man wat ’n swart werkersklas-vrou groet! Ek het my seun na hom genoem. My ma, Aletta, is dié ikoon na wie ek opgesien het. Sy was nie besonder geleerd nie, sy was ’n skoonmaker en kok by ’n skool, maar sy was ’n ongelooflike vrou, ’n saggeaarde omgee-mens. Sy het byvoorbeeld altyd meer kos gemaak as wat nodig is, ‘vir ingeval iemand wat honger is’ opdaag. Ek strewe daarna om soos sy te wees.

Hoe gaan dit nou met die gesondheid?
Die kanker is terug en ek kry behandeling. Maar ek is orraait. God is goed.

Wat moet eendag op jou grafsteen staan?
‘Hy’t liefgehad, hy’t gelag en hy’t gehuil.’ Ons weerkaats God se liefde. Ek lag maklik, maar ek huil net so maklik. Ek is baie sensitief . . .

n Sin om jouself te beskryf?
He loved to be loved.

Sou jy sê SA het al ’n lang pad gekom?
Absoluut! Kyk maar net na ons rugby. As Bryan Habana ’n doel aanteken, hardloop al die spelers na hom toe. En is dit nie wonderlik as die hele skare vir Tendai Mtawarira op sy bynaam noem nie? Beast, beast, beast dreunsing almal gelyk. Dan’s daar nie so ’n ding soos ras nie.

Jy het hard gewerk sodat almal in ons land kan stem, maar nou sê jy jy gaan nie stem nie. Moet Suid-Afrikaners wel in die komende verkiesing gaan stem?
Ja, gaan. Almal moet net mooi dink hoe hulle daardie stem gaan uitbring.

Wat hou 2009 vir ons in?
Interessante en uitdagende tye. Maar ons kan nie hoop opgee nie. ’n Christen is ’n gevangene van hoop.

’n Kersboodskap aan SARIE-lesers?
Vier die geleentheid saam, maar moet nooit die minderbevoorregtes vergeet nie.