Sy dink nie sy is regtig ’n voorbladmeisie nie. En op hul familie-vakansieplaas by die Komas-hoogland in Namibië weet sy ook sy is nie ’n plaasmeisie nie. Maar Amalia Uys weet baie goed wat haar drome is. En sy sal nooit weer dat iemand dit van haar probeer wegneem nie . . . Sy moes die afgelope jaar ’n baie belangrike besluit oor haar lewe neem, een wat seergemaak het . . .

Maar ’n smartvraat is dié bondel energie nie. Sy “dans” in haar motor op pad werk toe op die maat van Regina Spektor en ander “mallerige kunstenaars soos Razorlight en Chris Chameleon - enigiets wat my wange rooier maak en my op en af laat hop!” En as motoriste om haar op mekaar skel en tekens wys, draai sy haar venster oop en blaas borrels. Regtig. Sy het altyd ’n botteljie borrels byderhand vir spitsverkeerontlading. Want waar Amalia is, is daar lewe, sê een van haar beste vriendinne, Tanya-Anne Steyn, wat saam met haar drama aan die Universiteit Stellenbosch gestudeer het. “Sy het ’n kop vol mal goed en filosofieë. Sy is altyd entertaining. Sy is ondersteunend en lojaal.” Vir haar ouboet, Theunis, is sy Mali, die kleinsus na wie hy eintlik opkyk. “Sy is ’n energieke, multidimensionele mensie. Ons het ’n byna telepatiese verbinding van kleins af.”

Sy was bang om in Johannesburg te gaan woon. “Die mense is hier om te werk en ’n mens moet tog net nie in hul pad beland nie.” Sy maak ook stadig vriende. “Ek hou van my mense na aan my. Ek is die jongste. Ek mis Theunis, wat in Kaapstad woon. Die res van die familie woon in Pretoria en ek sien hulle darem gereeld.” Sy het nog skoolmaats met wie sy kontak hou, maar het ook goeie vriende op universiteit en by die werk gemaak. “Op die stel van 7de Laan is ek maats met Vicky Davis (wat Tessa speel). Ons deel ’n kleedkamer.”

Mense soos Karin Retief, die stemafrigter, die grimeerkunstenaars en Henry Mylne, een van die regisseurs, maak haar dae vrolik. En die pers het al bespiegel oor ’n verhouding tussen haar en Hendrik Cronjé, wat Lukas Mulder in 7de Laan speel, maar hulle is “net goeie maats”. “Hy is ’n sterk man. Ek wil nie die broek in die verhouding dra nie. Ek het ’n sagte plek vir hom.” Hendrik sê Amalia se intelligensie trek hom aan. “Ons is lekker vriende en het dieselfde belangstellings. Sy is ’n goeie maat.”

Sy is nog ’n groentjie in 7de Laan en haar karakter, San-Mari van Graan, begin nou eers ontwikkel. En eersdaags, hoor ons, kom daar ’n lekker kinkel in haar sepie-lewe. Sommige kykers is juis reeds verslaaf aan San-Mari. “Noudat Dezi weg is, is sy my gunsteling,” vertel Erna du Toit van Waverley, Pretoria. “Sy gee nuwe lewe aan die reeks. Ek hoop die meisiekind bly nog lank.” Elsie Cronjé van Linden, Johannesburg, meen Amalia gaan nog een van ons groot aktrises word. “Sy is talentvol. Ek glo sy gaan San-Mari nog ’n kernkarakter maak.”

 

Ek voel so nederig, want in die stadium van my lewe gebeur dinge te maklik

 

Van Amalia se vriende terg haar omdat sy en San-Mari so baie van mekaar verskil. En sy erken sy is weliswaar nog besig om San-Mari te leer ken. By tye dink sy San-Mari is nogal eienaardig. “Maar soms raak ek bang ek raak te veel soos sy, of ek speel haar te veel soos ek is.”

Nee, sy is nie heeltemal so energiek soos San-Mari nie. Sy kán soms wees, maar sy het dae wanneer sy net in ’n hoekie met ’n boek wil sit. “Dis nogal moeilik om die bol hoppende energie te speel as ek die dag ’n bietjie tam is. Dan moet ek al my kragte saamspan en fokus. Ek kry ’n insinking vieruur smiddae, maar daarna kry ek ’n tweede asem. Soms moet ek myself dwing om te gaan slaap. Dan sukkel ek om soggens op te kom.”

Sy het nie geweet wat om te verwag by 7de Laan nie. Sy kon aanvanklik baie aande nie slaap nie. “Ek het gedink: Wat het ek aan myself gedoen? Wat maak ek hier? Maar ek het mettertyd selfvertroue ontwikkel.” Sy weet nie hoe lank sy nog in 7de Laan gaan bly nie. “Ek sal gaan as ek voel die tyd is reg. Ek dink ná ’n paar jaar kan ’n mens in ’n gemaksone beland. Ek leer elke dag iets en ek glo nie ek gaan binnekort by die punt kom waar ek nie nuwe kennis opdoen nie.” Sy glo iemand soos Elma Postma, wat die reeks onlangs verlaat het, het die regte besluit geneem . . . hoe moeilik dit ook al vir haar moes gewees het. “Maar dis jammer dat Elma weg is. Sy was ’n voorbeeld vir ons almal.”

Amalia self is ’n voorbeeld vir ander jong meisies. As sy nie aan haar drome vasgehou het nie, het sy byna die geleentheid by 7de Laan misgeloop. Sy glo sy is ’n sterk mens en krop nie op nie. Sy sorteer emosies uit, maar “is baie emosioneel en kry maklik seer”. Sy haat konfrontasie en is geneig om ’n pleaser te wees om die vrede te bewaar. “Ek moet daaraan werk, anders loop mense oor my.” Dit het al gebeur. Sy het uit ’n onlangse liefdesteleurstelling baie geleer.

“Ek het ’n verhouding met ’n Kaapse man gehad. Dis verbreek omdat hy geen respek gehad het vir wat ek doen nie. Hy het geweet ek staan op die drumpel van ’n hele loopbaan en hy het my dit nie gegun nie. Hy het my gemanipuleer totdat ek uiteindelik vir hom gesê het: Goed, ek sal September wanneer my kontrak verby is, teruggaan Kaap toe.” Gelukkig het sy betyds besef dis die verkeerde besluit. “Ek is nou so bly ons is nie meer saam nie. Dis die beste keuse wat ek in die laaste drie jaar van my lewe gemaak het.” Sy glo dis belangrik om binne jouself eers te weet wat is jóú drome, wat wil jý bereik. “Enigiemand wat oor jou pad kom en dit van jou probeer wegvat of jou probeer afbreek, moet die rooi lig laat flikker. Draai om en loop weg. Jy is net een keer jonk en sommige kanse kom net een keer.”

 

Ek is bly ek het geleer ek kan ook gelukkig wees met my eie geselskap

 

Sy wou verhoog toe vandat sy nege was, sê dié gebore Namakwalander wat in Pretoria grootgeword en op Stellenbosch gestudeer het. Toe haar eerste dramajuffrou haar die eerste keer op ’n verhoog sit, het sy geweet dís wat sy wil doen. Kunswedstryde en dertien jaar se ballet het haar besig gehou totdat sy aan die Hoërskool Menlopark gematrikuleer het.

“Ek wou oorsee gaan en Oscars wen! Maar nou wil ek vir Suid-Afrika en my taal iets beteken. Hier kan ek my potensiaal bereik. As ek oorsee gegaan het, sou ek as aktrise rou gewees het.” Sy het beplan om haar honneursgraad in drama by Maties te doen voor sy die oudisie vir 7de Laan geslaag het. Dit het op die regte tyd gebeur, glo sy. Sy was in daardie stadium ook op die kortlys vir ’n rol in kykNET se Geraldina die Tweede. Dis op Stellenbosch verfilm en sou haar gepas het, want sy sou met haar studies kon voortgaan.

Maar toe kom die goeie nuus van 7de Laan. “Ek het dit dadelik aanvaar. Ek het myself verbaas, want ek kan besluiteloos wees. Net ná my oudisie het dinge skeefgeloop met my beplande honneurs, omdat net twee van ons ’n spesifieke kursus wou doen. Die kort sitkom waarin ek gespeel het voor die oudisie vir 7de Laan (Gabriel op SABC2) het my goed voorberei op die rol.”

Die kollig-ding is nog nie vir haar erg nie. Sy proe nog net daaraan. “In hierdie stadium is dit nog vir my vreemd dat mense my herken. Ek voel regtig dit is net my werk. Daar is baie talentvoller en mooier meisies as ek wat nie rolle kry nie.” Sy het ander drome ook. Sy wil graag goed teken en skryf - maar weet sy kan beslis nie sing nie. Sy skryf sommer ’n mengelmoes van prosa en gedigte. Dis soos terapie. Soms dink sy sy moet daaraan werk vir publikasie, maar sy is bang vir verwerping

“My gedigte is in hierdie stadium meer vir myself en nog baie rou . . . Dit gaan oor die donkerder, ernstiger dele van my menswees. Kom ons sê ek is nog nie goed genoeg bevriend met die wêreld om dit te deel nie.” Sy kan nog nie sê hoe sy kritiek op haar werk as aktrise hanteer nie, want sy was nog nie aan die ontvangkant nie, maar sy weet dit is daar buite.

“Ek wil nie as ’n mooi poppie bekend wees nie. Ek wil as aktrise gerespekteer word. Ek weet ek moenie so dink nie, maar ek wag vir die dag dat ek sal moet veg om iets te kry. Ek voel so nederig, want in dié stadium van my lewe gebeur dinge te maklik.” Haar groeiproses as mens en aktrise die afgelope jaar het haar laat besef een van die belangrikste dinge in haar lewe is dat sy ten eerste gelukkig en tevrede binne haarself moet wees. “Ek wil graag weer ’n groot liefde hê, maar ek is bly ek het geleer ek kan ook gelukkig wees met my eie geselskap.”