Amor Vittone sê sy is besig om te knak onder die druk van die afgelope weke.

“Ek is jammer Joost is siek. Ek is spyt ek het gepraat oor die vrae in my gemoed. Ek wens ek kan net ’n gewone ma wees. Ek wens my sprokie het nooit skeefgeloop nie. Dat al die seer, trane, verraad en leuens kan verdwyn en dat ons almal net kan aangaan met ons lewens. Ek wil nie hê Joost moet doodgaan nie. Dit gaan verskriklik wees as my kinders moet sien hoe hul pa agteruitgaan en moontlik sterf.”

Sy is die laaste tyd uitgekryt oor sy vrae gevra het oor die erns van Joost se siekte en sy geldsake. Mense het op Facebook en op webblaaie gesê sy is “gevoelloos” en ’n “fortuinsoeker”.

“Dit is nie wat ek vir Joost wil hê nie. Ek gun hom die beste, maar mense verstaan skynbaar nie hoe onseker ek? voel nie. My vrae klink vir hulle harteloos. Ek is nie. Ek weet instinktief Joost is baie siek en ek het al nagte daaroor gewroeg en gehuil.”

Die oud-Springbok Joost van der Westhuizen is voorlopig met terminale motorneuronsiekte gediagnoseer, maar met ons ter perse gaan, is daar nog op die uitslae van verdere toetse gewag.

Amor benadruk dat sy lankal uitvra oor sy geldsake omdat hulle besig is met ’n egskeiding en hulle binne gemeenskap van goedere getroud is. “Ek het hom vóór Paasnaweek, vóór sy siekte aangekondig is, ernstig daaroor begin konfronteer en nié nadat hy siek geword het soos die koerante beweer nie.”

Sy glo al is Joost siek, en miskien juis in die lig van die erns van sy siekte, het sy die reg om te weet vir watter deel van sy skuld sy verantwoordelik gehou kan word en watter finansiële implikasies sy siekte vir haar en die kinders inhou.

“Glo my, ek het al vir lank báie goeie rede om bekommerd te wees oor Joost se geldsake, maar gaan nie nou daaroor uitwei nie. Ek is moeg vir die moddergooiery. Ek verneem Mike Bolhuis [die private ondersoeker] wil Joost vir sowat R300 000 dagvaar. Hy beweer Joost skuld hom R700 000. Hoe moet ek weet hy skuld nie nog mense geld nie? Hierdie dinge is tog al voor Joost se siekte opgehaal?”

Sy weet mense se simpatie is by Joost omdat hy ernstig siek is. Hare is ook. Maar sy is ook ’n bekommerde ma wat skerm vir Kylie (5) en Jordan (7) se belange.

As Joost terminaal siek is, hou dit nie net hartseer en emosionele implikasies in nie. Amor sal dalk ook hul huis moet verkoop en die kinders sal moontlik na ’n ander?skool moet gaan.

“Weens Jordan se gehoorprobleem is hulle in ’n private skool, want dis die enigste hoofstroom-skool wat hom wil toelaat. Ek sal toilette skrop om hom daar te hou. Ek het ook beplan om ’n dansskool in die huis se groot motorhuise te begin vir ’n ekstra inkomste. Nou weet ek nie . . .

“Mense verwag van my om Joost alles te vergewe en hom terug te neem noudat hy siek is. Ek sal hom bystaan, maar ek gaan hom nie terugneem nie. Daar is goeie redes daarvoor. Joost weet baie goed hoekom.”

Sy vertel in trane daar het meer in hul huwelik verkeerd gegaan as net die opspraakwekkende seksvideoskandaal twee jaar gelede.

“Ek het Joost ná die skandaal ?gesmeek om sy lewe te verander en hy het nie. Hy het op die ou trant voortgegaan. Ek het nog nie daaroor gepraat nie en ek gaan ook nie nou nie. Mense kan hul eie afleidings maak. Hierdie dinge het nie skielik verdwyn noudat hy siek geword het nie.

“Ek het baie moeilik opgestaan die afgelope twee jaar, maar ek het dit gedoen. Ek het harder as ooit gewerk omdat ek onseker was oor my en die kinders se finansies vorentoe. Ek is ook die een wat hulle in die toekoms sal moet versorg.”

Sy was gevlei toe SARIE haar in Februarie genader het vir dié voorblad. Sy sou oor haar loopbaan, wat deesdae floreer, gepraat het. Maar kort voor ons die artikel kon afhandel, het die aankondiging oor Joost se siekte gekom.

“Ek wou van die begin af nie daaroor gepraat het? nie en net oor my loopbaan. Maar toe begin Huisgenoot en Rapport met vrae en mense trek my uitmekaar oor? my vrae oor Joost se siekte en sy finansies. Wat moes? ek doen toe joernaliste my begin konfronteer? Stilbly ?en myself nie verdedig nie?”

Sy voel gefrustreerd, want sy weet nou selfs dit het niks gehelp nie. “Of ek kommentaar gelewer het of nie, mense glo wat hulle wil. Nou is ek spyt ek het gepraat. Ek wil dit van die berge af gaan skreeu.”
Sy voel die ou wonde is oopgekrap en die seer is dieper as met die seksvideoskandaal.

“Joost se moontlike terminale siekte en ons egskeiding is ook nou betrokke. My kinders is groter en verstaan meer. Hulle ervaar ons spanning. Boonop dink hulle nou hul pappa is besig om dood te gaan.”

Sy het ’n oorweldigende moegheid oor haar en wens al die dinge wil net verdwyn. “Die dokter moet môre vir my happy-pille gee. Sommer baie van hulle.”

'n LANG PAD

Amor is trots op wat sy die afgelope twee jaar bereik het. Sy was onder meer in Februarie vanjaar in die klopdans-produksie Strictly Tap Dance Fever in die Mandela-teater in die Johannesburg-teaterkompleks te sien en in Maart in Streets of Gold – The Musical by Gold Reef City. In albei kon sy al haar liefdes saamsnoer – sing, dans en toneelspeel.

Met ’n nuwe CD later vanjaar onderweg waarin sy dansmusiek gaan sing (sy skryf baie van die liedjies self), én ’n moontlike aanbiederspos in ’n nuwe TV-program, is dinge steeds aan die gebeur vir haar.

Sy was van kleins af ’n presteerder. Hoofmeisie op skool, cum laude-student op universiteit. Die webblad ?www.famousfaces.co.za noem haar “een van die mees gepubliseerde glansmense in Suid-Afrika”.

“Ek was nog altyd ’n entertainer,” sê sy, “maar niks is nog ooit vir my op ’n skinkbord gegee nie. My ouers was nie ryk nie. Daar was nie luxuries nie. By hulle het ek geleer wat harde werk is. Ek het alles ingesit as sangeres, danseres en aktrise voor mense geweet het wie Amor Vittone is.”

Sy het sedert sy 16 was aan verskeie vertonings en promosies gratis deelgeneem om haar naam te help vestig.

“Ek het jare lank vir niks nee gesê nie. Ek het aangehou, want iewers moes iemand my begin raaksien. Ek moes nog vir elke kans wat ek gekry het oudisies aflê. Daar is honderde oudisies in my loopbaan wat ek nie geslaag het nie.”

Kinders sê soms vir haar hulle wil ook graag bekend? wees soos sy.

“Roem is die verkeerde fokuspunt. Jy moet dít wat jy doen, uit jou hart en siel wíl doen. Jy moet bereid wees om hard te werk en jouself te ‘verkoop’ as ’n brand. Ek is net so goed soos my laaste show en my laaste CD.”

DANSERES

Eintlik het Amor al op drie jaar aan haar loopbaan begin werk toe sy begin klopdans het. Haar ma het haar as kind van die een dansklas en oudisie na die ander aangery. Op skool was sy sewe jaar agtereenvolgens die Suid-Afrikaanse kampioen in klopdans en moderne dans.

“Dans praat met my siel. Dis deel van wie ek is. Die? ritme voer my weg na ’n idilliese plek waar ek gelukkig ?en tevrede voel.”

Sy moes voor die twee dansproduksies vanjaar tot 12 uur per dag oefen.

“Ek was van kleins af ’n natuurlike danser. Ek is opgelei om presies te weet wat kan watter spier in my lyf doen. Al raak jy uit oefening, kom dit gou terug.”

Vir die sensuele rol van Sheba in Streets of Gold moes ?sy stywe korsette en hoë hakke dra en baie been wys.

“Maar ek glo my bewonderaars weet dit was net ’n rol?wat ek vertolk het.”

Dit was vir haar ook ’n wonderlike kans om deel te hê aan die toer van die Britse produksie Strictly Tap Dance Fever waarin sy saam met Britse klopdansers opgetree het.

“Dit het my teruggevoer na die goue era van Fred Astaire en Ginger Rogers.”

SANGERES

Amor se Italiaanse pa, Dario, het haar op 19 ’n tjek gegee om ’n CD te laat opneem. “Gaan maak jou drome waar,” het hy gesê. “Die werklike hoogtepunt van my loopbaan was toe ek daardie eerste CD in my hand kon vashou. Dit was 1998. Wild Cherry Kisses.”

Dit was nie ’n groot verkoper nie, maar dit het haar drome om ’n sangeres te word moontlik laat lyk. Sy het aangehou met haar sanglesse en die vrugte gepluk met nog drie Engelstalige CD’s.

“Dit was eers toe my eerste Afrikaanse CD, Voluit, ?in 2006 goue status bereik het [meer as 20 000 verkope], dat ek regtig gevoel het ek bereik iets as sangeres. Maar ek sal altyd ’n beter danseres wees as ’n sangeres. My stem is goed, maar ek train hom. Ek werk hard daaraan.”

Op haar nuwe CD (dit het nog nie ’n werkstitel nie), wat later vanjaar uitgereik word, gaan sy van die lirieke self skryf.

“Nie swaarmoedige goed nie. Ek is mal oor lekker funky dansmusiek. Onlangs het ek en Kurt Darren gespot oor die dae toe ons soms voor 12 mense moes optree. Dit het lank geneem voordat mense besef het die Lotto-meisie is daardie een wat darem kan sing ook.”

TV-AANBIEDER

Benewens die Lotto-program, Road2Riches, wat haar ’n huishoudelike naam gemaak het, was daar ook ander aanbiederswerk op TV, soos Legkaart Bonanza, Junior Topsport, Spot-on, Mainly for Men, Top Billing en In die kryt met Joost en Amor.

Verlede jaar het Amor as aanbieder van Droomhuis op kykNET die fokus op spoghuise in Suid-Afrika laat val.

“Ek was nog nooit skaam voor die kamera of op die verhoog nie. TV-werk is ’n groot uitdaging en ek sal nie omgee om nog baie daarvan te doen nie. Ek sal ook nie nee dankie sê vir ’n lekker rol as aktrise nie. Ek het mos al gewys ek kan.”

RADIO-WERK

“Ek doen my werk met perfeksionisme en is áltyd voorbereid,” sê Amor. “Ook vir my weeklikse radioprogram op Jacaranda 94.2.”

Sy het by Jacaranda gevorder van die graveyard shift Sondagaande laat tot ’n program Sondagoggende tussen 10:00 en 14:00. (Haar kontrak het sedertdien tot 'n einde gekom.)

Sy en die luisteraars gesels oor alles wat ’n vrou se hart raak – van kinders en wat hulle die middag gaan kook, tot diep hartsdinge.

“My groei as aanbieder het baie te doen met die pad wat ek as mens gestap het,” meen sy. “Ek praat met luisteraars vanuit my eie verwysingsraamwerk en ondervinding en ons leer oor en weer by mekaar.

Ek dink ek moes eers geleef het voor ek dit kon doen.”

MA

Die gesprek gaan immer terug na Kylie ?en Jordan. Sy kan haar aanvoeling vir ritme veral in Jordan sien. Saans skuif hy in sy kamer agter die klawerbord in en Kylie neem haar kamma-kitaar. Dan perform hulle saam met Amor.

“Ek sal hulle nooit keer as hulle die vermaak- of sportwêreld wil betree nie,” sê sy, “maar ek sal hulle voorberei om emosioneel intelligente besluite te neem.

“Ek leer elke dag so baie van hulle. Kylie is bereid om te baklei vir wat sy in die lewe wil hê, en Jordan vaar goed op skool en laat hom glad nie deur sy gehoorgebrek onderkry nie.”

Amor het nie ’n au pair of nanny nie.? Sy help Jordan elke middag twee uur lank met sy huiswerk en moedig hom aan om sy bes te doen.

Sy sê ondanks die terugslae in haar lewe wou sy nog nooit bejammer word nie – nie toe nie en ook nie nou nie. Die laaste paar jaar het sy duur lesse geleer.

“Ek het my vertroue in die mensdom in ’n stadium heeltemal verloor. Ek het vriende verloor. Daar was mense wat lekker gekry? het oor my leed.”

Sy is steeds lief vir mense en sosiale geleenthede. “Maar my huis is nou my hawe van stilte en vrede. Saans as ek en die kinders klaar gelag en gesels het en hulle slaap, steek ek die kerse aan en tap ’n bad vol olies en soute. Dan maak ek my kop skoon.”

Met Joost se siekte en al die storms rondom haar lê ?daar nuwe uitdagings voor.

“Maar hartseer maak ’n mens sterk. Ek weet dat ek ook hiermee sal kan cope.”