''Baie dankie aan al die SARIE-lesers vir jul ondersteuning en liefde. Ek waardeer dit geweldig en dit beteken vir my baie. Nou die dag by SPAR in Fourways het die bestuur vir my 20 rooi rose gegee toe ek uitloop. Hulle sê toe dis om my op te beur. Hulle kon seker sien ek het nie lekker gevoel nie. Dit was vir my so stunning, ek het hulle omhels en begin huil. Ek was ook emosioneel dié dag. Daar is soveel goeie en mooi mense, en ons moet fokus op die "goed"! Dis waaroor die lewe gaan. "Ek voel so geseënd om musiek in my lewe te hê. Sonder dit sou ek nie deur elke dag kom nie. Elke sekonde van die dag word gevul met musiek, in die ateljee, op die verhoog, lekker luister op die bank...dis regtig my terapie. As ma en vrou is dit vir my nou noodsaaklik om sterk te staan en die steunpilaar te wees, al wil ek party dae net wegkruip of weghardloop. Ek vermy enige media-stories en lees dit nie. Ek fokus op ons as familie en vertrou my hart.

"Ek het onlangs dié aanhaling gelees, wat my baie geraak het. Dit lees: `Success is not a matter of being the best and winning the race, but a matter of handling the worst and still finishing the race...’ Ek gaan nie so gou tou opgooi nie, vir myself en my kinders se onthalwe gaan ek dit nie doen nie. Integriteit is wat belangrik is. Almal vertel my wat om te doen, en gee my advies, wat ek so waardeer. Maar diep binne-in elke vrou is daar 'n "stem" wat praat en ek moet luister daarvoor.

"Die lewe is te kort om te wil baklei, ek wil dit nie doen nie. Baie mense het ewe skielik opinies en stories oor my of Joost. Dis vernynigheid en jaloesie wat hier saamspeel en ek gaan myself nie tot op daardie vlak laat daal nie. Elke dag is 'n nuwe dag, met nuwe doelwitte. Ek wil lewe en dit saam met die mense doen vir wie ek omgee! "

* Amor is die voorbladgesig van SARIE se Desember-uitgawe - nou te koop!

SARIE Desember 2009