Sy was nog altyd ’n bok vir kattekwaad, en skroom nie om met ’n bos blomme op die kop te poseer nie. Sy wou immers ’n aktrise word, maar Amore Bekker se verhoog is nou die radio. Want dit gee haar die kans om “siel teenoor siel” te praat. Elke middag as die rooi lig in die RSG-ateljee om presies drie-uur vir haar program, Tjailatyd, aangaan, bruis haar adrenalien tot vyfuur. Dan is dit net sy en die mikrofoon en daardie één mens wat alleen in haar motor op pad huis toe na haar luister. Sy praat net met haar, want as jy met een praat, praat jy met almal.

Radio is vir haar ’n intieme medium. Jy moenie probeer om met die massa te kommunikeer nie, want dan bereik jy eintlik niemand nie, glo Amore. Sy verkies radio bo TV, omdat mense mekaar te maklik visueel oordeel. Op radio is dit net die oor waardeur die gesprek vloei - die oog se oordeel is nie daar nie. Sy voel die vibrasie van energie van die luisteraar oor haar mikrofoon aan. En hulle voel haar emosies.’n Perfekte wisselwerking van siel tot siel, glo sy.

Met die skuif na die middagtydgleuf vir Tjailatyd mis jy seker Brekvis met Bekker?
Nee, meisie, ek’s mal oor verandering! Ek het die verandering na die middagprogram gevisualiseer en daarvoor gebid dat ek elke dag kan uitsaai en nie meer net Saterdagoggende nie.

Hoe het jou liggaam by die verandering aangepas?
Met een hengse proses. Saterdagoggende was nag! Ek moes drie-uur opstaan, want ek het in Pretoria gebly.

Waar kry jy al die energie wat ’n mens oor die radio kan aanvoel?
Ek wil nie klink soos Helen Steiner Rice nie, maar ek is só opgewonde oor die lewe.

Gee jy baie van jouself oor die radio?
Dit maak nie saak hoe jy jouself beskerm nie, die mikrofoon jok nooit nie. Dis direk. Dis baie sensitief. Luisteraars kom jou bui agter. As ek hartseer is, gee ek my net oor aan die radio en aan die einde voel ek so goed.

Wie is jou luisteraars?
Toe ek 25 in my kop was, was my luisteraars 25. Ek wil nie ’n ouderdom daaraan koppel nie, maar dis mense wat dieselfde instinktiewe aanvoeling as ek het. Iemand wat soos ek voel op ’n koue dag - gedurig honger en ’n bietjie broos. Wat weet hoe dit voel as jy op ’n Vrydagaand ’n bietjie te veel drink, want jou siel moet unwind.

Jy moet mense seker goed ken?

Ek neem fyn waar, maar ek merk nie op as iemand 2 kg gewig aangesit het of haar hare gekleur het nie. Ek absorbeer jou vibe.

Hoe weet jy as luisteraars kwaad raak?
Ek voel dit aan. Ons kry e-posse, maar dis nie verteenwoordigend van die luisteraars nie. Ook nie altyd die kwaai een wat inbel nie. Ek kon onlangs met ’n gesprek oor vigs aanvoel baie luisteraars was kwaad. Ek het net gesê gebruik ’n kondoom en toe kry ek so 10 haat-e-posse uit die 400 000 luisteraars wat vra hoe ek seks voor die huwelik kan goedpraat. Maar dit gebeur. Dis hoekom ek sê: Dra ’n kondoom in jou handsak. Sit een langs jou bed. Jy gaan hom dalk nodig kry. Ek is nou op hierdie missie om vigsbewustheid oor te dra.

GUNSTELINGE

MUSIEK: Niks kommersieels nie. Dit voel soos werk. Ek luister na klassiek, jazz en reggae. Mineurs wat mense se harte raak. Selfs boeremusiek.

KOS: Indiese en Moslem-kerrie

PLEK: Ek mis nie die Kaap nie, ek dra die see en die berg in my hart saam. Ek is mal oor die Midde-Ooste.

OOMBLIK: Toe my vorige huishulp, Jossie, vir my gesê het goeie dinge begin nie noodwendig goed nie.

WOORDE: Leonard Cohen sê jou lewe moet krakies hê, want hoe anders gaan die lig deurkom?

OMROEPER: Helen Naudé omdat sy sulke intelligente, groot woorde kan gebruik. As ek na haar luister, dink ek ek wil ook bietjie daarvan hê.?RAAD: Op skool het my pa gesê ek moet wiskunde so gou moontlik los. Ons was so verlig daarna!

MENTOR: Oprah en Pippie Langkous. Oprah kan vir haarself lag en eerlik wees. Pippie is anders en selfstandig.

Jy hou van praatradio?
Ek het moeg geraak van kommersiële radio, want ’n mens speel net musiek en praat te min. By RSG kan ek ná elke liedjie praat. Mense kan inbel en gesels. Dis elke omroeper se droom as jou luisteraars deelneem aan die gesprek. (Sy was al by Radio Algoa in Port Elizabeth, Goeie Hoop en Kfm in Kaapstad.)

Moet jy soms versigtig wees wat jy sê?
Daar moet grense wees. Jy kan nie altyd jou mening uitspreek nie. Jou instink waarsku jou. Maar ek het al my jis gesien. Gelukkig is Magdaleen Krüger, stasiebestuurder van RSG, wonderlik as jy te ver gegaan het. Sy sal jou ondersteun en by jou staan. Die leuse is: “As jy twyfel, moenie.” Ek het eenkeer ’n dominee “skat” genoem, toe kom ’n paar luisteraars iets oor. Ek was ook al in die moeilikheid toe mense ’n Paasfeesgrap as godslasterlik beskou het.

Voor RSG het jy ’n “donker” tyd beleef?
Toe ek in 2002 in Gauteng aangekom het, het ek sonder werk gesit. Ek het al die bronne in die Kaap uitgeput en was lus vir ’n verandering.

Toe maak jy handskoene en bak beskuit?

Ek het gedink die handskoene is ’n briljante plan, want die son skyn hier elke dag en vroue se hande is op die stuurwiel in die son. Ek wou iets ontwerp wat hul hande kan beskerm. Ek meen, dit help nie jy beskerm jou gesig teen die son en jou hande lyk soos hoendernekke nie. Met my Funky Moffies met hul fur, knope en strikke het jou vingers steeds uitgesteek sodat jy ’n greep op die stuurwiel kon hê. Toe gaan ek Aardklop toe met 400 paar en dink ek gaan almal verkoop. Ons het nie eens 100 verkoop in die vyf dae nie. Dit was aaklig. Ek het nie geld gemaak nie, maar dit het my besig gehou - dit was die belangrikste.

En jou radio-droom?
Ek het daarna werk by die gemeenskapstasie Radio Rippel gekry. ’n Vriendin het in daardie tyd administratiewe werk by ’n siekefonds gekry. Toe vra sy haar baas of sy 2½ dae kan werk en ek die ander 2½ dae. Ek het dit nog tot Mei vanjaar gedoen.

En jou pad na RSG?
Ek het huis gesoek. Toe vra die eiendomsagent vir my hoekom ek nie RSG toe gaan nie. Hulle het my voorheen al weggewys en my ego sou nie nog ’n verwerping kon vat nie! Toe verskyn ’n oud-kollega een nag drie-uur in ’n droom aan my en sê ek moet gaan.

Hoe benader jy die lewe?
Ek voel en lewe vir die oomblik. Nou is alles perfek. Ek het nie ’n saak met môre en vanmiddag nie. Dis nog nie hier nie. Just flow with it.

Is jy soms neerslagtig?
Ek raak baie hartseer en dan tjank ek. Veral as ek ’n audience het. As jy moet huil, moet jy baie huil. Dan voel jy weer vars.

Raak jy gestres?
Ek is ’n baie gespanne mens. Ek het al die energie, maar ontspan nie maklik nie. Joga kalmeer my.

Maak jy foute?
Jy skop jouself soms oor die keuses wat jy maak. ’n Vriendin sê onlangs “die universe” het dit en dat aan haar gedoen. Twak, man, jy doen dit aan jouself.

Waaraan glo jy nog?
Ek is spiritueel, maar nie godsdienstig nie. Ek ken nie Bybelverse nie. Ek wil God liefs vandag beleef. Ek luister elke dag na Sy stem. Ons verhouding is hier en nou.

Jy is baie reguit oor wat jy wil en nie wil nie?
Ek is baie spesifiek oor wat ek glo en waarvan ek hou. Ek is byvoorbeeld presies oor kos. Ek eet nie slegte kos nie. Ek wil nie in ’n restaurant gaan eet waar kos nie met respek behandel is nie.

Ander passies?
Afrikaans is vir my soos asemhaal. Ek leef in medeklinkers, nie klinkers nie. Moenie vir my ’n rollende “r” of ’n sagte “g” gee nie, ek soek ’n bulderende “R” en ’n grommende “G”! Die medeklinkers van Afrikaans weerklink in my siel. Ek omarm ook al die tale wat Afrikaans gemaak het wat hy is, en sien dit nie as ’n bedreiging nie. En die dialekte moet seëvier, want dit maak ons taal ryk.

Hoe dink jy moet ons Afrikaans bevorder?
Deur nie hardlywig te wees oor Afrikaans nie. Die boetebessie in my program (wat die verkeersverslag doen), Danielle Wass, is van die Noord-Kaap, en sy praat nou die dag van Crêdock. Toe bel ontstoke luisteraars en sê nee, dis Cradock. Maar daardie gesindheid help ons taal nie veel nie, en verarm hom net.

Hou jy van jouself?
Ek het die afgelope tien jaar baie reise na binne onderneem. Ek is nou vriende met myself en my demons. Ons het almal ’n donker kant. Hoe meer jy dit ontwyk, hoe donkerder raak dit. Jy is nie op jou mond geval nie.

Was jy ’n stout kind?
Ek was die maklikste kind, maar ek het lekker kattekwaad in Durbanville, waar ek grootgeword het, aangevang. Daarsonder sou ek nie skool oorleef het nie. My broer, Vossie, is drie jaar ouer as ek, en my suster, Cora, ’n jaar jonger. Ek is ’n ekstrovert. Ek het nie my huiswerk gedoen nie en onderwysers gemanipuleer.

Wat het jou ouers jou geleer?
Selfvertroue. My pa, Ivan, is ’n pediater en my ma, Amor, ’n skilder. Hulle het ons geprys in alles wat ons doen. Al was dit nie so waffers nie.

Het jy jou op universiteit gedra?

Toe ek drama aan Potch (nou die Universiteit van Noordwes) gestudeer het, het ek nie tyd gehad vir kattekwaad nie. Jy repeteer elke aand, Matilda.

Wat wil jy nog regtig doen?
Ek dink nie aan groot goed nie. Ek wil elke dag net vrede hê. Ek wil net my opgewondenheid oor die lewe behou. Ek wil graag in die heelmaak-bedryf gaan. Ek is nou in die derde jaar van my sielkunde-studies aan Unisa, maar ek wil nie sielkundige word nie. Daar is wonderlike ander helende terapieë.

Watter soort mens raak jou lewe aan?
Toe ek in Pretoria gewoon het, het een van Jossie, my huishulp, se ander werkgewers, ’n ryk vrou van Waterkloof, haar eendag gevra hoe sy kan maak dat haar man vir haar liewer word. “Mevrou moet eers vir Mevrou self lief word,” was haar antwoord. So iemand raak my. Sy het my “Meisie” genoem en ek vir haar “Mevrou”. Sy het ses kinders in die wêreld gebring. Sy het twee jaar lank bakstene gemaak en toe haar huis met haar eie hande gebou. Sy het haarself uit die Bybel leer lees en skryf. Dís ’n MEVROU!

Jy het al seergekry?
Ek was eenkeer na aan trou. Ek het in 1993 ’n week alleen in Griekeland gaan vakansie hou, ’n man ontmoet en drie weke gebly. Ek weet nie of hy handsome was nie. Ek kyk nie so na mans nie, maar hy het iets gehad. ’n Passie vir die lewe. Mettertyd het ek geweet dit gaan nie werk nie. Ons het vir ’n ruk Suid-Afrika toe gekom om te kyk hoe hy in my milieu aard, maar toe daai Griek hier land, toe verloor hy al sy sjarme. Ek het hom op ’n eksotiese plek ontmoet, hy het ’n eksotiese taal gepraat en gesing. Ek was verlief. Maar toe ons moes teruggaan Griekeland toe, toe weet ek, daar is geen manier nie. Ek was 28. Ek het gerou, dit was seer. Nou is ek 42 en ek is steeds ongetroud.

Ander mans?
Ek het daarna wonderlike mans ontmoet, maar ek is versigtig om te glo dit is liefde voor jy nie verby daardie eerste verliefdheid gekom het nie.

Maar een ware liefde?
Nou het ek ’n wonderlike man van Jo’burg.

Jou grootste persoonlike oorwinning?
Miskien die dag toe ek besluit het ek gaan nie met die Griek trou nie. Ek is bly ek kon besluit my geluk is belangriker as my liefde vir hom. Dit was hartseer toe hy Januarie alleen terug is Griekeland toe, maar teen Junie het hy my gebel op die dag toe hy met ’n Griekse meisie sou trou. Die Grieke is tog só melodramaties. Hy het gesê hy is so hartseer die vrou vir wie hy die res van sy lewe sal liefhê, is nie by hom nie. Watter twak.

Het jy al slegte verslawings gehad?
Ek het al sosiaal gerook. En ek was eenkeer aan ’n man verslaaf. (Nie die Griek nie.) Ek kon myself nie help nie. Dit was soos ’n gat wat ek wou vul. Soos ander verslaafdes daardie gat met dwelms of alkohol vul, so het ek dit met daardie man probeer vul. Ek het seergekry en elke keer teruggegaan. Ek was 37 jaar oud, maar hy was nie die liefde van my lewe nie.

Hoe het jy uit die ding gekom?
Ek kon dit nie regkry om hom self te los nie. Ek het dit vir God gegee. Toe los hy my daardie volgende dag. Dit was vrek seer en swaar. Ek kon dit net vyf minute op ’n keer hanteer. Ek het dit net oorleef deur na aan God te leef. Dit het ’n jaar geneem voordat ek reg was.

Glo jy dan nog aan die liefde?
Dis die sleg van liefkry. Dit laat jou huil. Jou ego suffer, maar dit maak ander pyn ook los. Maar dit help nie om bang te wees om lief te hê nie, jy kan jou hart nie stop nie. Ek is bly ek is weer verlief.