EK HOOP

ek is ’n goeie mentor vir my kinders, Phillipa (11), Thomas (9) en Georgia (2), en my kollegas. Onderwys is my passie. (Sy is die stigter van ’n inbelsentrum waar onderwysers skoliere telefonies raadgee.) Ek is veral toegerus om my kinders te help om hul emosionele intelligensie te ontwikkel. Ek glo dis dié belangrikste ding om jou doelwitte in die lewe te bereik.

om so fiks en gesond moontlik te bly sodat ek my doel op aarde kan vervul. Ek stel voortdurend nuwe doelwitte aan myself. Ek het vanjaar die Midmar-myl die derde keer geswem en ek sal ook later vanjaar ’n 10 km- en 21 km-wedloop draf. Dít inspireer my weer om ander uitdagings aan te durf.

om einde vanjaar my diploma (waarvoor ek drie jaar gestudeer het) aan die Demartini-instituut te verwerf. Dié instituut is deur dr. John Demartini van Amerika gestig en spits hom toe op die bestudering van menslike gedrag. My familie, vriende en die publiek vra dikwels my raad en gebruik my as klankbord. Ek wil ingeligte antwoorde gee wat hul lewens verryk. Dít stimuleer en help my groei. Ek sal nooit ophou om die mens se gedrag te ondersoek en te bestudeer nie.

dat my kinders dié dinge in die lewe sal vind wat hulle opgewonde maak en dít dan ook sal doen.

om my man, Leighton, in al sy ondernemings te ondersteun. In ’n huwelik is dit belangrik om jou maat in sy gesinslewe én in sy werk te stimuleer. As ek hóm bystaan, doen hy dieselfde vir my. Dan word dit makliker vir albei van ons om te groei en ons eie doelwitte te bereik. Leighton is ’n sterk, intelligente
individu en deur te kyk hoe hý sukses bereik, help dit mý ook. Goeie kommunikasie is die hoeksteen van ons verhouding.

dat ons “tiener-demokrasie” in Suid-Afrika sal grootword en in ’n wonderlike “volwassene” sal ontpop met leiers wat met integriteit en liefde na hul mense sal omsien.

EK IS BANG

vir terminale siektes, om ’n kind te verloor, my man te verloor, dat dit sleg gaan met my onderneming en dat ek my verstand verloor – die gewone angste wat alle mense het.

Maar angs regeer nie my lewe nie. Ek glo dat pyn en plesier deel is van die lewe. Ek glo dat die Groot Skepper in beheer is van my lewe en daarom dink ek nooit te lank oor my angste na nie. Hoe meer jy daaraan dink, hoe meer energie bestee jy daaraan en dán trek jy dit net na jou toe aan.

WAT EK NOU WEET

As skoonheidskoningin het ek geleer deur getrou aan jouself en ander te wees kan jy staande bly as individu.

Moederskap het my geleer dat kinders jou altyd buite jou grense sal druk. En dít is wat ’n mens so lief maak vir hulle.

Om ’n vrou te wees is ’n groot eer, maar bring ook baie verantwoordelikheid mee – ons moet onder meer ander lei, bystaan en raad gee.

Vriendskap is baie waardevol, want vriende hou my sterk. Sekere vriendskappe is kort en ander hou ’n leeftyd. Albei soorte is belangrik en dien ’n doel.

Leighton het my geleer as jy ander gee wat hulle nodig het, dan kry jy wat jy wil hê. Ek probeer ook my kinders dié waarheid leer.

My kinders het my laat besef hoe eenders ek en hulle is en dat die klein lessies en beginsels wat ek hulle probeer leer, dikwels die dinge is wat ek in myself probeer verander.

Ek weet dat ek nie op aarde is om noodwendig gelukkig te wees nie, maar om vervul te word. Die lewe het my geleer dat jyself die leier van jou drome is. Ek kan van niemand anders verwag om so toegewyd of opgewonde oor mý drome te wees as ekself nie. Dán is ek onredelik!

My gesin is vir my ongelooflik belangrik. Ek doen moeite om ons verhoudings gesond te hou en om spesiale geleenthede te skep wat die gesin saamsnoer. Dis vir my belangrik om my met
liefde te omring. Dit hou my gelukkig.