André Schwartz is terug met 'n nuwe produksie: Liefde? Aldan nie . . . Hierin gaan hy 'n vars blik gee op die wel en wee van die liefde. Sy boodskap is dat die liefde geen maklike begrip is nie - dis dikwels eiesoortig, heerlik, aaklig en selfs verwarrend. Tobie Cronjé doen die regie. Marguerite van Wyk het met André gesels.

Hoekom sing jy so graag oor die liefde?
Die tema is universeel en van die mooiste songs in die wêreld handel daaroor.

Wat probeer jy als oor die liefde in dié show sê?
My hoofdoel is om totale verwarring te skep! Dié wat verlief is, gaan twyfel, die wat nie verlief is nie, gaan verlief wil raak en dié wat probleme met die liefde het, gaan 'n kat koop.

Waar gaan julle orals optree?
Die Innibos-fees, Volksbladfees, Kirkwood, Aardklop-kunstefees. In September is ons twee weke lank by Pieter Toerien se teater by Montecasino in Johannesburg en in November twee weke by Theatre on the Bay in Kampsbaai.

Hoe was dit om saam met Tobie Cronjé te werk?
As ek eendag groot is, wil ek wees nes Tobie. Hy is die wonderlikste persoon. Hy is so ondersteunend en opbouend en is 'n uitstekende regisseur met 'n verbysterende goeie oog. Ek het elke uur wat ons saamgewerk het 'n groter aanhanger geword en ontsettend baie geleer.

Wat is jou gunsteling liedjie in die show en hoekom?
''Quiet Love'' van Charles Aznavour. Dit vertel van 'n verhouding met iemand wat doof is en ek moes gebaretaal aanleer.

Bring jy 'n CD vanjaar uit?
'n Heerlike treffers-CD wat teen middel Junie beskibaar gaan wees, Top Treffers, met twee nuwe snitte: ''Vlieg saam met my'' en ''Vat my ver'' asook 'n splinternuwe weergawe van ''Ek wil jou nooit weer sien.''

Wat het jy oor die jare geleer uit die liefde?
Dat jy altyd jou kop ignoreer en luister na jou hart.

Wie sal almal kan identifiseer met jou nuwe show?
Sjoe, ek dink werklik almal. Dit bevat 'n klomp treffers soos ''Met jou in my lewe'', Kom terug'', ''Ek wil jou nooit weer sien'' en dan ook 'n legio van Michelle Le Grands, Andrew Lloyd Webber, Sondheims-songs en liedjies uit musiekblyspele.

Vanwaar die naam van die show?
'n Mens weet mos nooit of dit regtig liefde is nie . . .

Hoe belangrik is jou band in dié produksie? Vir musikale asook emosionele ondersteuning?
Hulle is wonderlike en vorm deel van die geheel en is ook baie interaktief.