Dit voel of André Schwartz nog maar altyd daar was. G’n wonder nie, want vanjaar is hy presies twintig jaar op die verhoog. Sy musiekloopbaan sluit tientalle CD’s in, honderde verhoogoptredes, waaronder sy bekroonde rol as die Phantom voorverlede jaar in die Andrew Lloyd Webber-meesterstuk Phantom of the Opera.

Onlangs was hy in Doebai, en hy word jaarliks uitgenooi om vertonings oorsee te hou vir die Afrikaanse diaspora in die buiteland. Maar min mense besef André se oorsprong lê in ’n veel dieper genre en bewussyn as die ligte Afrikaanse musiek waarmee hy deur die jare bekendheid verwerf het. In ’n sonderlinge, onthullende gesprek kyk hy saam met SARIE terug, as ’t ware ágter die spieël van sy lewe.

                             ***

Dis die jaar 1986. Hennie Aucamp se bekroonde kabaret-protesstuk Ekskuus vir die wals word een Vrydagaand op Stellenbosch in die Klein Libertas Teater opgevoer. Op die rollys verskyn Sonja Janse van Rensburg en Belinda Richardson. Ook ’n nuweling, die jong en sjarmante André Schwartz - wat in daardie stadium in die regte studeer. En hy sing. En hy wals. En hy speel klavier ... Die volgende Saterdagmiddag speel Maties teen Tukkies rugby op Coetzenburg en André skuif agter die klavier in terwyl Altus Schreuder as hoofdirigent die rooibaadjies aanhits - André slaan die klawers, sy orkes speel saam en die studente skree en jubel lustig saam. “We will, we will rock you!” en “I want to break free”.

Dis nou twintig jaar later. André sing steeds, wals en speel klavier. Hy hits steeds mense aan. Hy vermaak hulle steeds. Die musiekgogga het gebyt en toe nooit laat los nie. Ek kry hom in die foyer van die pragtige nuwe kunssentrum op die kampus van die Universiteit van Johannesburg. Hy wys my die verstommend mooi fontein buite die gebou, geskep deur Aardklop 2006 se feeskunstenaar, Marco Cianfanelli. “Kuns, goeie kuns, is darem tydloos,” merk hy op. Binne enkele oomblikke is ons twintig jaar terug. Op kampus. Daardie wilderige jare. “Dit was ’n ongelooflike tyd!

As jy net dink ... in daardie vreeslike tweede helfte van die tagtigs was daar van die grootste geeste saam met ons. Daar was Niël (Nataniël), en hy’t nog hare gehad! En André Letoit (nou Koos Kombuis). En Casper (de Vries). Onthou jy vir Casper? Hy het nog sy heel eerste standup komedie op my 21ste verjaardag gehou - ek sal dit nooit vergeet nie. Dit was so spontaan. Hy het net daarna die aandag begin trek met Goeie môre, Suid-Afrika - by die Grahamstadse Kunstefees.” Ek onthou. Hoe hulle Dinsdag en Donderdagmiddae in die bloedige son in die opelug-amfiteater langs die Merensky-biblioteek voor honderde, soms selfs voor heelwat meer as duisend medestudente gestaan en speel het. Hulle was jong mense met kitare of klaviere wat iets te sê gehad het. Deurmekaar gepraat deur die staat en die kerk. Kunstenaars wat besig was om hul eie stem te vind en só vir ons ander ook ’n stem te gee.

Bernoldus Niemand. Bright Blue. Nataniël en Koos Kombuis. Heidi Edeling. Tananas. En André Schwartz. Die meeste van hierdie opkomende kunstenaars was kort daarna deel van die omstrede protesstuk Piekniek by Dingaan (met die subtitel Kinders van Verwoerd), geskryf deur André Letoit en Johannes Kerkorrel met musiekverwerking deur Nataniël. Oor die “ander” Afrikaners. Dié wat nou kwaad is. Nataniël het nog so ’n groot swart Voortrekkerrok (en ’n kappie!) gedra en klavier gespeel, en Johannes het soos ’n wedergeborene onder die rok uitgespring, dadelik pure supernova. Die Kaap het tot in daardie stadium nog nooit so iets gesien nie. Dit was die zeitgeist en dit was absoluut meesleurend.

André self het ’n hele ruk daarna saam met Elzabé Zietsman ’n show in die destydse Bophuthatswana gehad. “Ons het onder meer gekies om ‘Kwêla vir Mandela’ te sing. (Dit kom ook uit Ekskuus vir die wals.) “Elzabé moes op die agtergrond ‘ulelele’ sing. En net toe ons begin sing, staan die helfte van die gehoor - meestal Bop-politici - op en loop uit. Ons het ons doodgeskrik. Gedink hier kom ons Biko-oomblik - ’n lang verdwyning tronk toe. Ek sing toe maar so dunnerig aan en beduie agter my rug vir Elzabé: Moenie ophou nie! Juig, Suster! Wat toe eintlik gebeur het, was dat hulle almal na ’n ander partytjie genooi is en toevallig en baie beduidend op presies daardie oomblik moes waai. Ons musiek in die tagtigs was die enigste manier waarop jy kon kla, kon protes aanteken teen die noodtoestand, die seuns wat moes weermag toe,” sê André. “Treffende tye.”

Maar dinge het ook baie verander sedert die Voëlvry- toer en dié soort kabaret waarin André destyds opgetree het. “Ja, die hele musiek-landskap het om die een of ander rede baie ligter geraak. Vryer, beslis. Maar ek mis tog soms daardie doelgerigte kabarette. Anthony Costandius, Aucamp. “Alhoewel, om in musicals soos Aladdin - nou op die planke - en Phantom of the Opera te speel, was ook natuurlik ’n lang droom.” Vir laasgenoemde is hy landwyd bekroon. En nou’s hy die goor ou in Aladdin.

GUNSTELINGE

KOS: Kos met vars bestanddele en smake
DRANK: Sjampanje
BOEK: The Kingdom of the Wicked deur Anthony Burgess
AKTEUR: Maggie Smith
FILM: Ran deur die meesterlike Akira Kurosawa
MUSIEK: Bach se onbegeleide tjello-sonates
PLEK: My huis
GESEGDE: Kyk noord en ...
GEUR: Nartjies

Vertel ’n bietjie van jou rol in Aladdin - jou ervaring, die mense wat saam met jou optree?
Ek speel die rol van Uncle Abanazar . . . en dis heerlik om vir ’n slag die baddie te speel, jy kan lekker oorboord gaan en die gehoor so kwaad as moontlik vir jou maak. Dis lekker om nie die goody two shoes te wees nie. Ek vloek die heeltyd op iemand! Ek weet nie eens lekker altyd op wié nie, maar daar is iets bevrydends en grappigs daaraan. Desmond Dube speel die rol van Dame Wotalotigot - hy is ’n briljante akteur en skreeusnaaks. Desmond het ’n ongelooflike sin vir drama - en ’n humorsin. Hy noem my “Kleinbaas” en ek noem hom “Chief ”. We get each other. Janice (Honeyman, die regisseur) is natuurlik ’n godin. ’n Midas. Alles waaraan sy raak, word goud.

Hoe is dit om saam met Eden te werk? (Ook in Aladdin te sien)
Ek ken Eden baie goed en dis altyd great om met dié ouens te werk. Hulle is vol pret en baie professioneel. Jay du Plessis speel die rol van Aladdin, en ek en Desmond baklei om sy siel in te palm. Die ander ouens - Sean Else (voormalige Eden-lid), Paulo Azevedo en Johan Vorster - is eweneens talentvol en baie hardwerkend. En dis natuurlik wonderlik dat ek weer saam met Heidi (Edeling) kan werk. Heidi is die musiekregisseur. Sy het een van die ongelooflikste stemme in die land, maar verkies dit om agter die skerms te werk en die beste uit ons ander te haal.

Wat’s jou toekomsplanne ná Aladdin?
Ek gaan beslis volgende jaar ’n Afrikaanse CD uitreik. En meer gaan ek nie sê nie! Verder werk ek aan my huis, in my maatskappy en aan myself.

Jy het ook ’n bemarkingsmaatskappy . . . Is dit of musiek jou eerste liefde?
Ek geniet die bemarkings- en korporatiewe wêreld ongelooflik baie. Dit maak aan geen kliënt saak of jy ’n bekende gesiggie in Welkom is of nie. Daar is honderde agentskappe wat tou staan vir die werk wat jy het, en as die kliënt nie waarde kry uit jou maatskappy nie, sal hulle elders heen gaan. Ek het heerlike kliënte en my werk is geweldig divers. En ons doen alles - die bemarkingsplan, strategie, toepassing, bekendstellingsfunksies ... Ek vervaardig ook ’n tiener-kookprogram op SABC3. CookingMagic, ure se pret. Ek geniet die balans tussen sang en bemarking geweldig en maak baie staat op ondersteuning van die twee vroue in my lewe: Glynis by die bemarkingsmaatskappy en Theresa, wat my sangloopbaan hanteer.

Hoe het jy gekies om sang jou loopbaan te maak?
Ek dink die proses het jare gelede al begin toe ek as klein kind “Ek verlang na jou” by ’n sangkompetisie gesing het. Hierdie loopbaan kies jou - nie andersom nie.

Watter rol speel vriende in jou lewe?
My vriende is die roetes waarop ek my geweldige besige lewe bou, en hulle verskaf ook soveel ondersteuning dat dit voel of ek op a bed of roses loop.

Met Phantom het jy jou aantrekkamer laat versier om ’n ruimte te skep vir inspirasie. Hoe lyk so ’n ruimte?
Ek glo vas ’n mens moet gelukkig wees in jou eie ruimte. Dit moet by jou persoonlikheid, voor- en afkeure aanpas. Ek hou van oopte, nie duisende goetertjies wat rondstaan nie, ek haat groot gordyne, ek hou van ’n eklektiese styl, maar voel algehele minimalisme is vir mense met ’n gebrek aan vindingrykheid.

Watter rol speel jou huis - jou tuiste - in jou lewe?
Ek is gek oor my huis! Ek het eers so ’n ou Herbert Baker-nommer in Parktown gehad. Maar ek het onlangs ’n nuwe, kleiner een in Parktown-Noord gekoop. En alles binne is oop, vol lug en lig en dis mý ruimte. Dis waar ek werklik lééf. Ek glo nie aan kil, presies ontwerpte ruimtes wat soos foto’s moet lyk nie. Ek wil myself in my plek kan sien en beleef. My huis is so. Ek is ’n entoesiastiese kunsversamelaar - ek het onlangs vir my ’n Robert Hodgins aangeskaf. Ek is veral lief vir Suid-Afrikaanse kuns.

Is jy ’n maklike ou of het jy fiemies?
Ek is nogal maklik. Is ek nie?

Hoe herlaai ’n mens elke keer ná so ’n titaniese produksie soos Phantom en Aladdin? Hoe behou jy elke aand die inspirasie?
Ek is geweldig gelukkig: Ek is ’n kunstenaar wat van die verhoog af halt roep en dan heeltemal normaal kan funksioneer. Ek hoef nie eers af te skakel of so nie. In Phantom was die inspirasie in die musiek en libretto. Ek het elke aand daardie man gewórd. Daar is ’n stukkie van hom wat nog steeds in my voortleef.

Jy is bekend daarvoor dat jy die volkome gentleman is. Hoe kry jy dit reg, selfs al is jy keelvol of moeg of suur?
Ek dink dis hoe ek grootgemaak is, daar is nooit swak gedrag geduld nie. En mense behandel jou net soos jy hulle behandel. As jy moeg is, rus. As jy moeg is vir mense, vermy hulle. As jy suur is, doen ’n bietjie selfondersoek.

Kleintydse goed wat nou nog saak maak - het jy sulke dinge?
My ma ry gereeld saam met my na vertonings en dan gesels ons land en sand oor kleintydse gebeure en voorvalle en dit bly vir my spesiaal. En meestal persoonlik.

Wat dink jy van die toekoms van ons land?
Ek wil in geen ander land woon nie. Ek reis baie na ander vastelande, en dis elke keer ’n wonderlike ervaring. Maar die tuiskoms is die beste. Ons mense, ons reuke, selfs ons probleme. Ek dink wel daar sal iets kragtigs aan die misdaadsituasie gedoen moet word. ’n Lewenslange vriend van my, Kobus van Zyl, is twee jaar gelede in sy huis tydens ’n gewapende roof in die kop geskiet. Kobus was een van die mooiste mense wat ek al geken het - fisiek, geestelik, verstandelik. Hy is nou blind, verlam en verstandelik gestrem. Sy vrou, Jackie, versorg hom 24 uur per dag. Kobus was ’n briljante prokureur. Dat sulke menslike materiaal deur so ’n sinnelose daad moet verlore gaan ... Dit maak eenvoudig nie sin nie.

As jy jou Aladdin-lampie kon vryf en ’n droom laat waar word, wat sou dit wees?

Dat die hele wêreld aan een godsdiens kon glo. Nie noodwendig myne nie. Want dit sal die nood vir konflik en oorlog net soveel verminder.

Dis nou amper Kersfees - hoe beleef jy dit? Hoekom sien ’n mens so uit na Kersfees?
Hoewel sommiges die Krismis-blues kry ...
Ek dink Kersfees is vir almal so ’n bietjie bitter-soet - dis heerlik om tyd te deur te bring saam met mense vir wie jy lief is, maar ’n mens dink tog aan dié wat nie meer daar is nie. Jy verlang. Ek dink ook daar’s altyd daardie element van bejammering vir mense wat heeltemal alleen is en niemand het om Kersfees mee te deel nie.

Wat was jou lekkerste Kersfees?
Ek het een keer op Kersdag Ooste toe gevlieg en as gevolg van die tydsverskil twéé Kersetes beleef!