Ek was nog nooit die beste in enigiets nie.” Andriëtte Norman sê dit prontuit, oë blougroen. Dis presies wat gebeur het die aand van 9 Desember 2007. Tóé was sy ook nie eerste nie. Jody Williams het Idols gewen en Andriëtte moes tevrede wees met die tweede plek in dié gewilde TV-werklikheidsreeks*.

Daar is ’n sê-ding dat jy nie die silwermedalje wen nie, maar eerder die goue een verloor. Andriëtte het die teendeel bewys.Tweede kán ook eerste wees as jy jou kanse reg benut. Selfs al is jy soos sy nie van nature daarop ingestel om heeltyd te wen nie.

By vanjaar se KKNK het sy al haar derde CD uitgereik. Van die vorige twee is byna 20 000 eksemplare elk verkoop (byna goue status).

Andriëtte (24) vertel op skool het sy nie vir die A-span netbal gespeel nie, maar vir die C-span. “Ek en my broer, Harold (26), is nooit grootgemaak om die beste te wees nie,” sê sy. “My ma, Anita, ’n tuisteskepper, en pa, André, ’n ingenieurstegnikus wat nou ’n elektriese-kontrakteursonderneming saam met Harold besit, het ons geleer om net ons bes te doen en die lewe te geniet.

“Ek was nooit akademies sterk nie en hou nie van wedywering nie. Dit was vir my só ’n groot prestasie om bloot deur te dring tot die eindronde van Idols dat dit nooit regtig na ’n kompetisie gevoel het nie. Ek wou dit net geniet. Daarom was ek régtig nie teleurgesteld toe ek nie wen nie.” Sy het wel effens “in die pad” gevoel toe Jody op die groot aand
in die Standard Bank Arena in Johannesburg as Idols Suid-Afrika se jongste wenner nóg aangewys is.

Maar sy kan uit haar hart sê sy het Jody dit gegun. “Sy het my dikwels om raad gevra tydens die kompetisie en my mening gerespekteer. Dít het my laat goed voel. En omdat sy in Engels en ek hoofsaaklik in Afrikaans gesing het, het ek gedink sy sal op die Engelse mark konsentreer en ek op die Afrikaanse mark.”

En dit was ook so. Andriëtte dóén haar ding in Afrikaans. Wat is haar X-faktor? Ilza Roggeband, musiekjoernalis van Kaapstad, som dit goed op: “Dis baie eenvoudig. Haar stem is herkenbaar tussen ’n duisend ander. Baie van die sangeresse deesdae kan dieselfde klink. Byna met dogtertjiestemme. Sy het ’n goeie stem met substansie.”

Byron Kuntz, ’n vervaardiger van Electro Groove Studios in Johannesburg, wat al aan ’n paar CD’s saam met Andriëtte gewerk het, meen haar stem het ’n uniekheid wat by die meeste mense aanklank vind.

“Boonop is sy borrelend en het ’n pragtige persoonlikheid. Ek dink sy gaan baie suksesvol in die toekoms wees. Sy het al die regte bestanddele.” Andriëtte het die afgelope drie jaar by die Huisgenoot-Skouspel in Sun City opgetree – ’n duidelike bewys dat sy as ’n ster in die Afrikaanse
musiekbedryf gereken word.

Dit was ook vir haar groot “wenoomblikke” om sedert Idols twee keer op die SABC2-musiekspeletjieprogram Noot vir Noot te kon optree as gaskunstenaar. “Terwyl ek die opnames gedoen het, het ek teruggedink aan die dae toe ek onbekend was, vóór Idols. Toe het ek aansoek gedoen om op Noot vir Noot te sing en ’n vriendelike ‘verwerpingsbriefie’ gekry . . .”

Die oggend ná die bekendmaking van die uitslag van Idols het BMG Andriëtte ’n platekontrak aangebied en in 2008 het sy haar eerste CD, Diamant, uitgereik. “Ek het op skool altyd gewonder hoe dit sou voel om die lewe van sangsterre soos Theuns Jordaan en Steve Hofmeyr te hê. Vir dié CD het Steve die liedjie ‘Napoleon’ vir my geskryf . Dit was unreal.”

’n Jaar later is Dink aan my uitgereik en by die onlangse KKNK was dit die beurt van haar derde CD, Vat my hoër, waarop sy ’n liedjie saam met Werner Beukes, ’n CD-vervaardiger van Kaapstad, geskryf het.

Andriëtte vertel sy het op skool spanning nooit goed hanteer nie, maar toe sy daarna skoonheidstegnologie aan die Tygerberg Kollege buite Kaapstad gestudeer het, het sy dié tegniek gebruik: soggens gebid, diep asemgehaal, dan weer haar asem diep uitgeblaas. Dit het wéér gewerk toe die spanning in Idols hoog geloop het. Maar dit was nie maklik om haar tweede plek en die kanse wat dit gebring het in ’n wenverhaal te omskep nie. Die nuwe lewe het sy tol begin eis nadat sy vroeg in 2008 van Kaapstad na Johannesburg getrek het.

“Ek was alleen en moes my geldsake, siekefonds – alles – self hanteer. En ek het my ouers en vriende baie gemis. Ek het ook baie gewig aangesit. Mense het my figuur begin kritiseer en my selfbeeld was broos.”

Sy het in Januarie 2010 teruggekom Kaap toe omdat sy ongelooflik baie na haar mense verlang
het, maar sy pendel nog gereeld omdat sy soveel vertonings in Johannesburg het. Of sy nou daarop ingestel is om te wen of nie, sy weet hoe om haarself te motiveer – deur na haar eie musiek te luister. Of na haar ikone, die sangeresse Juanita du Plessis en Laurika Rauch se musiek, en na hul lewens te kyk. “Hulle straal die waardes uit waarin hulle glo!”

En sy hoor dikwels haar ouers se stemme in haar kop: “Moenie dat negatiewe goed aan jou vat nie. Dit help nie om jou energie só te verkwis nie.” Haar kêrel van die afgelope sewe maande, Marcel Olivier (27), het ook dié ingesteldheid, “Ons dink verskillend oor die lewe. Ek is ernstiger as hy – hy is ’n báie vrolike mens. Ek bewonder hom veral dat hy soveel omgee vir sy vriende. Ons deel beslis ’n positiewe lewensuitkyk.”

Sy en hy het dit ook reggekry om in die verlede ’n negatief in ’n positief om te swaai. “Ons het einde
Desember 2010 in Namibië vakansie gehou. Weens ’n misverstand met ons paspoorte – ons het dit nie aan die Namibiese kant van die grenspos by Vioolsdrift laat stempel nie – het ons eintlik onwetend ‘onwettig’ tien dae lank in die land vakansie gehou. Ons het régtig gedink dis oukei as ons net aan die Suid-Afrikaanse kant van die grenspos stempels kry. Só beland ons toe met ons terugkeer in ’n tronk in Windhoek waar ons twee aande moes slaap! Ek moes my juwele afhaal en my selfoon ingee. Brood en ons toiletrol is deur die seltralies aangegee.

Snags moes ek saam met dertig vroue in ’n sel op die vloer slaap. Nadat ons elkeen ’n boete van
R10 000 betaal het en prokureurskoste van R4 000 was ons vakansie nogal duur . . .”

Die les? “Daar was ’n vroue-misdadiger wat élke dag Bybelstudie gedoen het in die hoop om uit
te kom. Mense bly altyd hoop . . . Ek waardeer die lewe nou soveel meer.”

Andriëtte is sonder aansit. “Dís my wen-geheim, weet jy? Ek is deursigtig. Altyd myself. Ek glo as jy vrede het met wie jy is, hoef jy nie jouself te breek om iets aan die wêreld te bewys nie.”

Sy gun haarself gróót drome. Onder meer dat haar CD’s platinum-status (40 000 plus) sal bereik. En sy wil nog saam met die Kanadese ster Michael Bublé ’n duet sing.

Haar ouers het haar en Harold kleintyd na die Baxter en die destydse Nico Malan-teater (nou Kunstekaap) na musiekproduksies soos Grease, Fame en balletuitvoerings geneem. “Ek wil ook eendag in ’n musiekblyspel sing!” En met haar talent is dit sekerlik net ’n kwessie van tyd!