Skies ek’s vroeg!” (Dís nogal ’n eerste.) “En vir al die make-up - ek was tot ’n halfuur gelede nog op stel. Het gedink ek gaan laat wees, maar toe begin dinge skielik alles regloop en . . . voilà!”

Sy loop op fyn skoene en met ’n reuse slingbag onder die arm by die deur van Spiro’s in Melville in. Blond en lig en lenig. Spontaan en met wuiwende hande wat die baie woorde entoesiasties onderstreep. Anel Alexander is tans besig met Binnelanders, die nuwe M-Net/kykNET-sepie, tot onlangs toe nog net ’n dramareeks. So gewild dat daar besluit is om dit in ’n
hospitaaldrama te omskep.

Haar rol is dié van ’n dwelm-geknelde pasiënt wat die rooikop dr. Rico se voete onder hom uitslaan. In die lewe buite sepies is dié rooikop-dokter haar eie man, James Alexander. Al vier jaar lank.

“Ek ken James eintlik al járe. Hy en my ouer sussie het saam skoolgegaan - hulle was in die Hatfield Christian School. Agt jaar later het ons mekaar vir die eerste keer weer gesien - en hy sê hy’t gedink: ‘Mmm, kyk hoe oulik het Marilet se sussie grootgeword!’ “Ons het saam in ’n musiekblyspel in die Staatsteater gespeel. Daarna is ons gekies om saam in Calitzdorp Passion by die KKNK te speel. En die koeël was deur die kerk.” Vanjaar gaan hulle nie KKNK toe nie, is te besig met die opname van hul eie rolprent.

Anel het ook al in 7de Laan ’n draai gemaak. Neil Sandilands (Bart), haar medespeler in die Laan en ook haar karakter, Liesl, se romantiese belangstelling, sê oor haar: “Anel is mý dam se gans. Ek is nie net bewus van haar talent as aktrise nie (terloops, sy sing ook dat die engele luister), maar in die méns wat ek ontdek het, die mens wat baie ver verwyder is van die plastiek waarbinne so baie van die TV-gidsboekies toegedraai is. Sy’s nie ’n koffietafelboek nie, nee, sy’s die een wat jy langs jou bed hou en weer en weer kan lees. Eerste uitgawe, hardeband, met ’n boekmerk wat die sywurms delikaat geweef het.”

Dat Anel ’n vrou van vele talente is, is gou duidelik. Benewens die singery doen sy ook stemwerk vir die Voicebank en het sy ’n paar jaar gelede aandag getrek met haar Afrikaanse vertaling van die hoogs suksesvolle verhoogstuk, Discreet. Discreet is in 2005 deur James en ’n baie goeie vriend van hulle, Joshua Rous, geskryf. Die stuk het die hele land en al die kunstefeeste vol getoer, in Afrikaans en in Engels. Anel het teenoor James in die hoofrol gespeel. En nou is hulle besig om dit in die genoemde rolprent te omskep.

“Die stuk is eintlik van die begin af gekonseptualiseer as ’n rolprent. Joshua het baie ondervinding in die rolprentbedryf - hy het teater en rolprente in Suid-Afrika, Oxford, Boston en Los Angeles studeer en het ná sy MA in rolprentstudies vir ’n jaar in Hollywood gewerk. So, ons is in goeie hande.” Waaroor gaan die rolprent? Sy huiwer, wil duidelik presies die regte woorde kies om die tema te omskryf. “Die intrige gaan oor ’n goeie, jong Christen-outjie wat nuuskierig is. Wat wil weet van die ander kant van die lyn. Maar te skaam is om te vra. Dus gaan soek hy ’n dame van die nag. En hulle begin gesels. Op die oog af lyk dit of dit gaan oor seks, maar dit gaan op die ou end juis glad nie daaroor nie. Dis ’n uitdaging - wat is ware liefde? Wat het geword van ons Christelike plig om lief te hê en te vergewe? Ons generasie verwar so maklik seks met liefde. My ma som dit goed op: Sy sê dit is asof Adam en Eva se vyeblare geskuif het - dat dit nie meer die genitalieë toemaak nie, maar die oë. Die vensters van die siel . . .

"Dit gaan in dieselfde styl as Before Sunrise aangebied word. Twee karakters wat werklik gesels, en die omgewing maak toevallig deel uit van die filmopset. Die kern ontplooi in die gesprek wat plaasvind - eerlike blootlegging. Ek moet wel leer paaldans! Een aand bel Josh my, en sê: ‘Ek is op pad kerk toe', toe dink ek: 'Jy sal moet leer paaldans!’ Die woord ‘kerk’ en ‘paaldans’ in een sin. En dit máák sin!” James speel teenoor haar as Thomas, die Christenman. Sy speel die rol van Monique, die prostituut. (Tomas in die Bybel is ook die twyfelaar.)

Hoe is dit om met jou medeakteur getroud te wees? “Dis wonderlik en soms geweldig intens! Ons skakel omtrent nooit af nie! Ons is albei van Skotse afkoms - ek is as Flett gebore. Ons is werklik ge-bless - een van ons het altyd ’n vaste werk. Ek eers in 7de Laan en toe hy in Binnelanders. Tussendeur kan ons aan ons gesamentlike visies ook werk.”

 

Ek sal enige dag teruggaan 7de Laan toe

 

James sê Anel laat hom giggel. “Ek hou daarvan dat ons in ons eie crazy ruimte kan wees. Ons is gemaklik met mekaar en verbaas mekaar aanhoudend met spontane uitbarstings van belaglikhede .  . .  Maak dit sin? Wat ek van haar waardeer, is dat sy my in myself laat glo. Dis asof sy dinge in my raaksien wat ekself nie sien nie.”

Sal sy ooit teruggaan 7de Laan toe? “Ja, vir seker! 7de Laan is soos familie. Dink nie ek sal ooit weer permanént teruggaan nie, maar ek sal dit baie geniet om weer ’n lekker storie te doen . . . ” Hoe vergelyk die twee sepies met mekaar? “Dis baie dieselfde en ook nie. Ek het dit vreeslik geniet om by Binnelanders te werk. Hulle is óók ’n familie, nes 7de Laan. Ek verkies egter die formaat van Binnelanders. Hulle ‘blok’ voor elke toneel en dan skiet hulle. Dit beteken jy hoef net voor jou toneel op stel te wees, in plaas van soos by 7de Laan waar jy al 07:30 op stel moet wees ongeag van hoe laat jy in die dag skiet. Dit laat ’n mens toe om bietjie meer van ’n lewe te hê en ook by ander projekte betrokke te raak. “Die genre verskil ook baie. 7de Laan is baie ligter en meer komies, waar Binnelanders meer drama-gerig is. Maar die tegniese aspek bly dieselfde. Ek het baie by albei geleer.”

Anel het haar dramagraad aan Tuks cum laude verwerf. Tydens die gradeplegtigheid het sy ewe haar graad gaan ontvang met ’n tuisgemaakte Oscar-beeldjie in die hand - onder luide toejuiging van die gehoor! In daardie blonde kop woel ’n besige, skerp brein. Vir die rolprent doen sý die navorsing, tree sy op as geldinsamelaar (enigeen kan byvoorbeeld deel word as vervaardiger van die rolprent, besoek www.discreetmovie.blogspot.com), stel sy die produksiespan bymekaar, en nog. “Ek leer geweldig en dis ’n ervaring wat jou nederig laat voel. Ek wou van altyd af ’n rolprent maak - en ons het net eenvoudig besluit om dit te doen! Ek weet nou al die volgende een gaan beter wees. Gelukkig is die produksiespan almal ervare, en almal stem heeltemal saam met die tema van die draaiboek.”

Die gesprek draai na “virtuele verwarring” - wat plaasvind wanneer kykers nie meer kan of wil onderskei tussen ’n karakter en die akteur nie. Net nou die dag is die akteur Hannes van Wyk (die goor Krynauw van Egoli) toegetakel in ’n winkelsentrum omdat hy “so wreed en gemeen” is. Anel het ook al op dié manier deurgeloop. “Ek en James stap eendag by ’n winkel in - dit was toe ek nog in die Laan gespeel het - en ons word voorgekeer en hy word toe sommer as ‘Bart’ aangespreek - net omdat hy langs my loop. Neil (Sandilands) en James lyk geensins na mekaar nie. En ek het ’n familielid wat te trots is op my omdat ek met ’n dokter getroud is!” (James speel ’n dokter in Binnelanders.)

Tussendeur stel ek vas Bok van Blerk van “De la Rey”- faam was saam met haar op skool. “Ek het nou die dag eers uitgevind hy is ‘Bok’ wat saam met my op skool was! Bok soos in Louis Pepler.” En hoe voel sy oor Bok se omstrede “De la Rey”? “Ek het die song gehoor, maar het nog geen gedagtes daaroor nie. Ek kan myself eintlik nie uitlaat nie, omdat ek te min van die impak bedink het.”

Is dit nie enige kunstenaar se droom om skielik so gewild te wees nie, maar het Bok se roem nie te vinnig gekom nie? “Dis ’n baie moeilike ding. 7de Laan het dieselfde soort massa-impak, met kitsroem, en as jy nie voorbereid is daarop nie, kan dit jou geweldig onkant vang. Ek het net weer besef: die soort werk kom met geweldige verantwoordelikheid, dit laat ’n mens net weer dink - en skrik - oor hoe kragtig die media is . . .

“Ek onthou Theresa du Preez (Bok se agent) het my so twee maande gelede genooi na sy CD-bekendstelling, en minder as 60 dae later pryk hy op elke lamppaal, 7 dae in ’n ry . . . Dis duidelik iets het in die volk se hart gelê. Maar ek dink nie Sean Else (medeskrywer van die lied) óf Bok het verwag dit gaan in so ’n politieke ontploffing ontaard nie . . .”