Die aktrise Anel Alexander (Semi-Soet, Faan se trein) is een van net twee Suid-Afrikaners wat in Februarie ’n internasionale filmkursus in Berlyn gaan bywoon.

Ons gunsteling-rokke by die première van Faan se trein

Anel en John Trengove, ’n jong regisseur, is albei gekeur om vanjaar se Berlin Talents, ’n filmkursus wat elke jaar vir ’n week in Berlyn gehou word, by te woon. Van die wêreld se grootste swaargewigte in die filmbedryf bied werksessies by dié kursus, waar meer as 80 lande verteenwoordig word, aan.

Anel en James Alexander kuier in Amerika

"Dis basies ’n week propvol ekskursies, lesings en intense klasse wat deur die bedryf se top-kundiges aangebied word. Ek het aansoek gedoen en voorbeelde van my werk ingestuur en is gekeur om die kursus in my hoedanigheid as rolprentvervaardiger en aktrise by te woon," sê sy.

Anel Alexander FOTO: Gloria Cilliers Anel by die première van Faan se trein. FOTO: Gloria Cilliers

"Daar is so baie klasse wat aangebied word, jy kan kies watter werksessies jy wil bywoon en watter sprekers jy wil hoor sodat jy spesifiek sessies vir jou behoeftes kan kies."

Boonop kry sy ook ’n kaartjie vir die Berlynse filmfees, een van die wêreld se vyf grootste rolprentfeeste, wat in dieselfde tyd plaasvind. Sy vertel SARIE meer van die geleentheid.

Waarna sien jy die meeste uit?

Om daar te wees en toegang tot al daardie kenners te hê. Ek sien veral daarna uit om meer oor die Europese filmbedryf  te leer. Dis anders as Hollywood s'n. Ek dink dit gaan meer oor die kuns van films maak. Ek wil ook sien wat in die res van die wêreld gebeur; hoe kry iemand van Brasilië hul rolprente daar buite? Want ons dink altyd dis so moeilik in Afrika, maar eintlik sukkel almal maar.

Was jy al in Duitsland?

As kind - toe ek nou regtig klein was - het ons in Israel gebly en toe het ons ’n wit Kersfees in Duitsland gevier. Die eerste advertensie wat ek, ná sewe jaar van oudisies, gekry het, was vir Duitse tjips. Hoewel die advertensie in Suid-Afrika geskiet is, is ek later Duitsland toe gevlieg. Maar ek was nog nooit in Berlyn nie!

Wat wil jy die graagste doen in Berlyn?

Ek weet nie! Ek sit juis vandag met die rekenaar sodat ek kan kyk wat ek wil doen. Ek gaan een ekstra dag bly en wil dan soveel moontlik van die stad te sien kry. Ek dink ek sal seker een van daardie rooibus-toere doen en by die bekendste punte afklim. Ek vlieg 6 Februarie en land weer die 17de.

Dan mis jy en James Valentynsdag?

Ja! Maar in die tyd dat ek en James getroud is, was ons seker al een Valentynsdag bymekaar. Gewoonlik besluit ons om ons eie Valentynsdag in Februarie te kies. Dan vier ons die dag later in Februarie en al die goed in die winkel is al op afslag!

FOTO: Phyllis Green Anel en James by die première van Pad na jou hart. FOTO: Phyllis Green

Ander Suid-Afrikaners wat Berlin Talents, voorheen bekend as Berlin Talent Campus, al bygewoon het, is die vervaardiger van Pad na jou hart, Danie Bester, asook Hanneke Schutte, draaiboekskrywer en regisseur van die fliek Jimmy in pienk.