Die Afrikaanse aktrise Milan Murray is ’n vrou van vele talente: sy speel toneel, skryf kinderboeke, doen regie en besit ’n uitgewery, Murray & Me. Nou stel Milan ’n animasie-kortfilm by die Silwerskermfees bekend - en dis ’n eerste vir die fees. 

Kromkieriefontein is gebaseer op haar vierde, gelyknamige kinderboek.

Milan Murray is lief vir stories vertel. FOTO Instagram/ Milan Murray

’n Prikkelende opsomming verlei die leser:

"Op die dorpie Kromkieriefontein is alles krom. Niemand durf oor die rede praat nie en niemand mag die burgemeester, meneer Asvaal, se bevel in 1982 bespreek nie. Almal loop gehoorsaam en gedwee¨ met hangskouers en ’n gefokusde blik op hul voete en die volgende tree. Almal behalwe Juffrou Kiertsregop, die flambojante graad 2-onderwyseres van Laerskool Kromkierie. Vier nuuskierige agtjariges – Dahlia, Bella en die tweeling Tienie en Tamara – pak ’n avontuur aan om uit te vind hoekom hulle juffrou so penorent loop. Die sleutel tot dié raaisel sal nie een van hulle onveranderd laat nie."

Die kortfilm, waarvan Milan ook die regie behartig het, gaan môre vir die eerste keer voor ’n gehoor gewys word. "Ek het nou ’n paar keer die kortfilm gekyk sodat ek nie môre huil nie ... ek is op my senuwees," het Milan aan SARIE.com erken.

Maar animasie was nog altyd in haar agterkop.

"Ek het nog altyd gehoop om eendag my twee wêrelde (kinderboeke en film) met mekaar te kruis."

As introvert was die regie van ’n kortfilm met prentjieboek-karakters minder intimiderend. "Hulle praat nie terug nie," skerts sy. "Die grootste uitdaging was tyd."

Op stel van 'Kromkieriefontein'. FOTO Instagram/ Milan Murray

Al die illustrasies is met die hand deur die illustreerder Marisa du Toit geteken. "Die oorspronklike boek het 16 bladsye illustrasies bevat, maar vir hierdie kortfilm moes Marisa 50 ekstra illustrasies teken."

Die rolprentfotograaf Johan Prinsloo het die illustrasies laat lewe kry.

Milan, wat volgende jaar ’n nuwe kinderboek beplan, droom van ’n animasiereeks. "Maar ongelukkig is animasie vreeslik duur."

En watter animasie inspireer haar? "Die Disney-fliek Moana ... oor daar so ’n sterk vrouetema is."

’n Besige jaar lê vir Milan voor. Dit sluit ’n opvolgreeks in, maar ongelukkig kan sy nie veel meer verklap nie.

- Die kykNET Silwerskermfees by The Bay Hotel in Kampsbaai duur nog tot Saterdag, 25 Augustus. Hou SARIE.com en ons sosiale media dop vir meer stories oor dié filmfees.