Hoekom juis dié musiek?
Ek en Matthys Maree het al ‘n eerste linger-CD gemaak, met die musiek wat ek in 7de Laan gesing het toe hulle die Hillside Times gelaunch het. Die afgelope vier jaar al sing ek ook baie van hierdie liedjies by korporatiewe geleenthede. Dit pas my stem en ook my gemoedstemming. Hierdie opname is ‘n uitvloeisel van die eerste album.

Watter liedjie is jou persoonlike gunsteling?
"Somewhere over the rainbow". Ek identifiseer baie sterk daarmee, want dit is so 'n emosionele liedjie. In vandag se siniese lewe het mense soms niks meer oor om oor te droom nie. Die lewe is hard en uitdagend, maar as jy nooit kan dink daar is iets magical nie en iets om oor te droom nie gaan jou lewe baie crap wees. Daar moet ‘n vlammetjie van hoop en droom wees wat bly brand. "Somewhere" vertel van om altyd te bly droom en om die vlammetjie lewendig te hou.

Watter sanger uit daardie era is vir jou die sleutel tot daardie musiek?
Nat King Cole. Dis weer die emosionele ding, hy sing met soveel gevoel. Ek hou van ou Frankie Boy, hy het perfekte intonasie en dan is daar Sammy Davis Junior, met sy jazzy aanslag, en moenie vir Dean Martin vergeet nie. Hy laat die musiek so maklik klink, en weet jy, dit is nie. Maar Nat bly koning.

En vroue-sangers?
Daar is ‘n hele paar wat ek bewonder, maar nie een wat vir my die verpersoonliking van die era is nie. Ek hou van Etta James, Nina Simone en Ella Fitzgerald. Natuurlik ook Eartha Kitt en Shirley Bassey (al was hulle later) met hul presence op die verhoog. Hulle hoef nie eens hul mond oop te maak as hulle op die verhoog stap nie, jy voel hul teenwoordigheid dadelik.

Hoekom is jy so mal oor die veertigs?
Ek is ‘n ou siel. Ek was nooit ‘n clubber nie. Jy sal my eerder kry, ‘n glas rooiwyn in die hand, waar ek kan luister na ‘n live musician, amper daardie ou fourties nightclub vibe! Ek is ook gek oor die gemak van die musiek. Ek het nie statements om te maak nie, ek wil mense inspireer en kan dit doen met hierdie musiek.

Wat is jou heel eerste liedjie wat jy as kind gesing het?
Toe ek 5 jaar was, het ek "Ek verlang na jou" geleer sing en op die klavier speel. Die liedjie het my hart aan flarde gehad.

Was jy ‘n musiek-nerd op skool?
Nie regtig nie. Ek was stout en het baie klas misgeloop omdat ek in die biblioteek gaan sit en lees het of eerder gaan skilder het.

So jy is ‘n lees-nerd?
Nogal, want ek sal eerder lees as om ander goed te doen. Ek soek emosie in die goed wat ek lees, net soos in musiek. Ek wil die spanning, die liefde en die vrees voel wanneer ek lees. Ek sukkel met skrywers wat onemosioneel met hul karakters omgaan.

En nuwe musiek?
Ek werk aan my eie oorspronklike goed, maar ek werk nie teen ‘n spertyd nie. Wanneer ek genoeg liedjies het, dan doen ek iets daarmee. Dis ‘n baie organiese proses. Ek doen goed wanneer ek voel ek het iets om te sê.