Ek hoop...

  • ons geniet almal hierdie Kerstyd met die onbevange, vrolik mallemeule-malligheid van ’n pantomime en omarm mekaar met liefde en dankbaarheid vir die lewe wat ons saam mag ervaar! Die tradisionele storielyn van enige pantomime is immers dat die goeie die bose sal oorwin.
  • om as mens (en as akteur!) te leer dat as jy “struikel”, jy jouself kan vergewe en moedig aanstap na die volgende oomblik. Om nie jou lewe te versuur oor jy nog vasgevang is in “ou” foute nie. Wyle Barney Simon (een van ons beste teaterregisseurs) het blykbaar altyd sy akteurs herinner: “Every moment is redeemable.”
  • meer mense probeer die regte ding doen. Sulke mense inspireer my en gee my hoop vir ons land. Diegene wat bedrog vermy, minderbevoorregtes help, nie rommel strooi nie, padreëls gehoorsaam en al die ouers wat met karige salarisse kinders probeer grootmaak en deur die skool kry.
  • die wêreld sal weer die ware waarde van geld besef en dat dit ongelooflik magtig en wonderlik is. Maar ons moenie slawe daarvan raak nie.

Ek is bang...

  • vir die donker. Regtig! Ek vrees nie meer die dood of die dood van my geliefdes soseer nie. Ons almal moet een of ander tyd aanstap en ek dink nie ek kan weens my eie selfsugtige behoeftes hulle hier wil hou nie. Ek moet laat gaan. Jy moet nou aandag gee aan die dinge wat gesê moet word en die liefde gee wat gegee moet word ... al sal dit nooit genoeg wees nie.
  • vir die pyn van verlies, ek moet bieg. Dit kan jou hart met ’n ystergreep vasgryp en die lewe daaruit druk.
  • dat ek nie eendag voor ek doodgaan, sal leer om minder bang te wees nie. Om te kan oorgee en die lewe net ten volle te kan geniet. Dat skiet gee, vertrou en laat gaan nie konsepte en idees is wat ek met “vakansietyd” assosieer nie, maar sal kan deel maak van my dag tot dag se lewe en werk.
  • vir die saboteur in my. Daai meneer wil ek nog eendag verander in my beste bondgenoot. Die een wat my positief braaf sal maak. Saam sal ons al die vrese en negatiwiteit dan saboteer! (Sug.) Hopelik?

Wat ek geleer het

  • Soos ek ouer word, begin ek patrone en siklusse in my lewe raaksien. Daardie gevoel van weer by dieselfde boom verbygaan. Deesdae probeer ek hulle eien en verstaan wat dit is wat ek moet leer of laat gaan om aan te beweeg. Los te kom daarvan.
  • In verhoudings is daar die spreekwoordelike landmyne wat in ons almal opgesluit lê. Wat ons of ’n gebeurtenis soms wetend, soms onwetend, lekker diep iewers in ons psiges geplant het. Die truuk is om van hierdie landmyne ontslae te raak. Te weet waar hul begrawe lê. Hulle te ontlont.
  • Verhoudings en mense kan jy nie as vanselfsprekend aanvaar nie. Alles draai om die proses van kommunikasie. Om iemand werklik te kan hóór. Om jouself werklik te kan uitdruk.
  • As ek ongelukkig is en ek voel dit binne my, gaan soek ek die oorsaak, gewoonlik buite myself. Is dit die situasie? Die mense? Die werk? Maar ek begin meer en meer besef die oplossing lê seker in die gemene deler ... ek? As ek die gekoekte bol wol in my binneste kan ontrafel, sal ek hopelik nader aan die oplossing kom en dan sal dit na buite kan kring.
  • Almal is inherent goed, maar onsekerheid maak ons soms liederlike monsters van selfverdediging.
  • Die lewe en die mense om ons (jouself ingesluit) is ragfyn broos en uiters kosbaar!
  • Mense soos Desmond Tutu en Jonathan Jansen, rektor van die Vrystaatse Universiteit, gee my hoop. Hulle hou aan vrae vra en is nie skaam om te deel wat hulle geleer het en tot watter nuwe insigte hulle gekom het nie. Hulle is vir my ’n voorbeeld van landsburgers wat verantwoordelikheid neem vir hul demokratiese regte. Wat besef daar’s iets soos rekenskap.
  • Die natuur maak my rustig. Ek is ’n berg-mens. Dit doen my goed om in berge rond te loop en as my kop en gemoed begin rondtol, my oë te mag “opslaan na die berge”.
  • By ’n dierbare tuinman, met wie ek eendag op die stoep gesit het, met die ja-nee-rustigheid wat natuurmense inherent besit, het ek geleer dat ek en my geliefde nie vir mekaar moet sê ons sal eendag sus en so doen nie. Doen dit nou! Niemand weet hoeveel tyd ons nog saam gegun gaan word nie.
  • Ek het geleer as mense so vanuit hul eie ervaring goed in jou oor fluister, maak notas!