Sy is SARIE se voorbladgesig van alle gesigte. Die een wat áltyd ’n wenner is. En goeie verkope waarborg. Selfs Nataniël het een van die kere toe hy op SARIE se voorblad was, gesê dit is sy mikpunt om meer as Anna-Mart te verkoop.

Die kamera is liéf vir haar. Sy het ’n ongelooflike mooi vel. Haar neus, flippit, Antjie het die mooiste neus!” sê Henriëtta Gryffenberg, aktrise en skrywer van die TV-reeks Erfsondes en ’n goeie vriendin.

Maar aktrise Anna-Mart van der Merwe neem dit alles met ’n knippie sout. Sy is mos maar skugter vir die celebrity-mantel wat om haar gehang word. Dis haar werk wat haar in die kollig laat beland het, het sy al dikwels gesê.

“Ek begin ongemaklik voel as ek die glamour persoonlikheid moet speel. Dis nie ek nie, dis net nie ek nie.” Hier waar ons by Origin in die Kaapse middestad koffie drink, gloei ’n vreemde, jong ou se ore behoorlik soos hy probeer hoor wat sy sê. Sy lyk salig onbewus van sy intense belangstelling.

Laat mense maar haar skoonheid besing, syself reken anders. “Ek weet hoe ek in die regte lewe lyk en die fantasie op die voorblad.”

Sy dra nie juis grimering nie, en erken as dit nie vir haar werk was nie, het sy lankal haar grys hare laat uitgroei. Haar hare ook sommer weer kort gesny. Totaal pretensieloos. Sonder fiemies en fieterjasies.

Anna-Mart van der Merwe - SARIE Desember 2012

Huppelkind! Ek stel my voor sy gaan kaalvoet en met hare in ’n knyper kafee toe op Franschhoek!” sê Pedro Kruger, akteur. Dis juis dié gemaklikheid met haar lyf wat mense aanklank by haar voorblaaie laat vind. Tesame met ’n warmte en ja, daardie tikkie misterie omdat sy nie alles verklap nie.

Die aktrise Michelle Botes het vyf jaar gelede ’n SARIE-foto van Anna-Mart uit die tydskrif geskeur. Dis Anna-Mart met wit-grys hare, wat treffend vertoon teen haar blou oë, wit vel en ’n silwerblou pelsmus. “Dis die mooiste foto van ’n Suid-Afrikaanse skoonheid wat ek nog gesien het. En sy is altyd net haarself, net Anna-Mart,” sê Michelle.

Anna-Mart en haar man, George Ware, het pas ontbyt by Origin geëet. Hy het ’n ferm handdruk en rustige teenwoordigheid. “George is maar altyd daar by haar toneelstukke. Al verstaan hy, as oud-Zimbabwiër, weinig Afrikaans.” Weer Pedro.

En Anna-Mart? Daar is ’n nuwe ligtheid, ’n speelsheid aan haar. George? Die Boland, waar sy en hy nou al byna drie jaar woon? Die lente wat uiteindelik gesig begin wys in die Kaap van Storms? Sy verklap niks. Kyk, sy is ’n lewendige geselser. Haar hande beweeg, sy rol haar oë en maak speels haar stem dan grof, dan hoog. Maar sy wéét hoe om die deur na haar hart toe te hou met langasem, filosofiese antwoorde.

Anna-Mart van der Merwe - SARIE Desember 2012Anna-Mart van der Merwe - SARIE Desember 2012

Mense sê vir haar: Jy praat nie oor jouself nie. Jy filter dinge. Jy sê nie harde of kras goed nie. Wat is nog daarbinne, daai private deel van jou? Maar sy het geleer om te sê: Nee, dis wie ek is en klaar! Nie dat “nee” altyd maklik kom nie. Sy hou nie van konfrontasie nie, dit maak haar bang, jy mors te veel energie daarmee. “Maar dis iets waaraan ek kan werk. Om nie bang te wees om te sê dís wat ek dink nie.”

Sy draai haar troupand, besaai met klein diamantjies, om en om aan haar ringvinger.

“Ek is ’n private mens. Ja, ek sal uit my pad gaan vir my werk. Maar is daar nie ’n ou Indiaanse geloof dat foto’s jou siel kan steel nie?” Ek het ’n regisseur nodig, sê sy baie keer vir die fotograaf.

“Anders slaat ek toe soos ’n flippen mossel! Mense dink wat hulle uiteindelik op die cover sien, is o wow! Ek is maar net ’n mens en kom ook met skete daar aan. Of ’n ekstra kilo en die rok pas nie. Jy is professioneel. As ek commit, commit ek en dan is ek daar. Lekker of sleg, jy doen jou job.

“Dis anders as hulle jou in jou kombuis kom afneem, in jou eie klere, besig om jou eie pap te maak. In die ateljee is ek buite my verwysingsraamwerk, besig om ’n model te speel wat ek nie is nie. Maar ek kan probeer toneelspeel. En dis pragtige klere wat ek nóóit sal kan bekostig nie. Nóóit sou kon dink ek sal dra nie. En die stileerder laat dit baie beter lyk, hulle lees jou lyf op ’n ander manier.”

Maar jy laat dit so maklik lyk ...

Sy leun vorentoe op haar elmboë. “As jy op ’n voorblad is, wéét jy iemand gaan sê ‘glimlag met die tandjies’. Jy moet verstaan met ’n cover is jy baie bewus van jou verantwoordelikheid. Jy speel ’n voorbladmeisie wat ook die tydskrif moet verkoop. Natuurlik glimlag jy en jy sê hello vir die mense met daai cover. Ek is ’n mens wat self tydskrifte koop, ’n cover trek my, of nie.

“Wat werk op ’n voorblad? Dis ’n fyn kuns, maar wat jy sien, is die waarheid. Dis ’n nabyskoot en jou oë kan nie lieg nie.”

Wat sê die mense?

“Sy het die vermoë om te transformeer in wat die fotosessie van haar verwag. Ek het al by voorblaaie verbygestap waar ek my eie vriendin nie herken het nie! Jy moet onthou, Antjie dra nooit grimering nie.” Henriëtta Gryffenberg

“Sy is nie een vir foefies – soos kitsdiëte en make-overs – nie. Sy’s gemaklik in haar vel en was selfs al met grys hare op ’n SARIE-voorblad. En daarmee kan oud en jonk identifiseer.” Dr. Nadia van der Merwe, departement joernalistiek, film en televisie aan die Universiteit van Johannesburg

“Sy is natuurlik en gemaklik voor die kamera en baie geduldig. Beeldskoon vanuit elke hoek. Vroue kan met haar identifiseer, tydloos soos sy is.” Jan Ras, Kaapse fotograaf

Anna-Mart van der Merwe - SARIE Desember 2012

Anna-Mart van der Merwe - SARIE Desember 2012