Die 16-jarige Anneke Weidemann is weer terug op die skoolbanke (by Hoërskool Jan van Riebeeck in Tamboerskloof, Kaapstad) nadat sy resensente by die KKNK gaande gehad het met haar spel in die opspraakwekkende musiekteaterstuk 2-21. Suzette Truter het agtergekom sy wil nie akteur word nie – eerder 'n breinchirurg!
  
Hoe voel dit om weer terug in die werklikheid te wees ná al die opwinding en opslae wat julle gemaak het?

Ek het baie gestres oor hoe ek weer gaan inpas by "normale" mense, want die ondervinding saam met Francois (van Coke)-hulle was net ongelooflik. Dit was totaal anders, hulle weet soveel dinge, dit was so refreshing, ons het die lekkerste gesprekke gehad . . . Maar ek mis nie die publisiteit nie. Soos wanneer mense my gelukwens. Ek hou nie daarvan om die middelpunt van aandag te wees nie, ek weet nie hoe om komplimente te hanteer nie! Dis lekker om weer tussen my skoolvriende te wees. Ek verlang, ja, dis bietjie seer, maar ek het geweet dit gaan kom. Ons sal beslis weer by Aardklop optree.

Baie mense was geskok deur die stuk (met ’n ouderdomsperk van 16). Hoe het dit jou geraak?

Ons hét gehoop om mense ongemaklik te maak, om mense te laat nadink. Ek is self baie oopkop, baie liberaal. Ek was glad nie geskok daardeur nie, dit was cool. Ja, dit was fisiek uitmergelend, ek het ná elke show gebewe van moegheid, en dit het my emosioneel gedreineer, maar ek was okay. Die feit dat ek 16 is (sy word in Mei 17) het niks met enigiets uit te waai nie. Ouderdom het nie. Ek weet wat aangaan. My hele familie is oopkop. Ek het in 'n baie oop huis grootgeword, geleer om my eie denke en opinies self te formuleer. Ja, ek voel nie soos 'n giggelrige tiener met hormone nie, en my pêlle is ook nie.

Jy het al as 11-jarige in die fliek The Story of an African Farm gespeel en ook rolle gehad in TV-reekse soos Known Gods en Binnelanders. Waar kom die gene vandaan?

Niemand in ons familie nie, maar my ma, Annchen, sê op 'n manier is ons glo verlangs familie van André Hugenuet . . . my oupa se oom of so iets, maar ek is maar skepties daaroor! Ek wil nie eendag aktrise word nie. Dis net vir my lekker. Dis pret, dis chill, dis nie 'n big deal nie. My suster, Jana, swot medies, en my ma is 'n dieetkundige. Ek wil medies studeer, en ek wil spesialiseer – dalk in breinchirurgie. Ek doen baie goed op skool, so dis 'n bereikbare droom.

Maar jy is in dié stadium betrokke by skooltoneel? (Sy het onder meer op 15 TV Plus se toneelkompetisie gewen.)
Ek wil nie aan sport deelneem nie, maar ek voel ek wil iets doen by die skool. Ek het al Franse lesse geneem, en ek speel klavier - eers was dit 'n skoolvak, maar sodra iets 'n verpligting raak, wil ek dit nie doen nie. Ek hou nie van reëls nie, ek wil nie my kreatiwiteit demp nie. Maar ek is nie 'n rebel nie. Ek is betrokke by my skool, my onderwysers vertrou my, ek doen my deel en ek dink ek is gebalanseerd.

Wat nou vorentoe?
Ek hou nie van vooruit beplan nie. Ek gaan soek nie dinge nie, dit moet maar na my toe kom. Soos met 2-21. Twee weke voor die eerste show het Jaco Bouwer my genader, en omdat ek voorheen saam met hom gewerk het, het ek ingestem. Dit was 'n hectic twee weke. Ek doen nie oudisies nie, dit maak my bang. Ek is baie senuweeagtig, ek haat verwagtinge. Dis hoekom ek toneelspeel so geniet, omdat ek dit nie "hoef" te doen nie, is ek ontspanne, ek gee nie om wat mense dink nie.