Annelie Botes se oudste broer het op sarie.com aan haar geskryf ná haar onderhoud met SARIE se boekeredakteur, Phyllis Green, oor haar nuutste boek, Thula-thula.

Coen Basson het gesê:

Ek is Annelie se oudste broer. Ek was huiwerig om die boek te lees voordat ek regte tyd kon kry om onverstoord slegs met die boek te werk. Nou het ek. Vandat sy haar asem gekry het, was sy dapper, sonder die vermoë om op te gee - ongeag die uitdaging. Werk na werk, sekerlik ook vorentoe, bly sy die pionier wat die minbesproke goggas uit die stilblytrommel op die tafel uitpak, in lentebloeisel Afrikaans. Waarskynlik kan slegs iemand wat net soveel of meer navorsing as sy gedoen het oor bloedskande en molestering enigsins 'n lewensvatbare resensie oor Thula-Thula aanbied. Haar eie resensie in die telefoononderhoud hierbo breek Thula-Thula eers regtig vir jou oop, breek haar skrywersmissie daarmee regtig vir jou oop. Geluk en dankie vir jou vaardige moed, Suster, ook namens Pa en Ma. Hulle sou so trots op jou talent, wysheid en deeglike deernis gewees het. 26ste Des. 2009, 22:42

Annelie Botes het gesê:

Dankie, Broer, dat jy vir Pa en Ma laat weet het van hulle Sussiekind wat 'n dapper boek geskryf het. Nou, na 7 maande, is my grootste begeerte dat vele mense nog terugdeins vir Thula-thula. Hulle sê hulle het ál my boeke gelees,maar dié een sal hulle verbygaan. Dis jammer, want dis eintlik 'n teer en rou-eerlike storie,en nêrens in die teks staan iets wat nie by die wyksbiduur hardop gelees kan word nie. Terloops, Broer, molestering kan op vele vlakke wees,en dit hóéf nie seksueel te wees nie. Daar loop weinig siele op aarde wat nooit gemolesteer is nie. Dink maar aan die werksplek, klaskamer, groepsdruk, die wegstamp omdat jy in die huisie oorkant die spoorlyn bly ... Dus sal iedereen met die konsep van molestering kan identifiseer. Boshof se dominee het vir my gesê: Laat jy wat lippe het, praat. 7de Jan. 2010, 23:43

Bestel Thula-thula by Kalahari.net

Lees Phyllis Green se onderhoud met Annelie Botes

Kyk na 'n voorlesing deur Annelie Botes uit Thula-thula

Wat dink jy?

Het jy al Thula-thula gelees? Wat dink jy? Vertel vir ons in die kommentaar-boksie hieronder. Só sê ander.