Een van die grootste lekkertes in haar lewe is om te draf.

Op 4 November vanjaar neem sy deel aan die New York Marathon (42 km), waarvoor sy kliphard oefen met `n groepie vriende. "Petronel, my konsertpianis-sussie wat in Fort Worth in Texas woon, kom my handjie daarvoor vashou . . .”

Annie is boonop 'n beoordelaar van Die Sanger, 'n 13 episode-program op kykNet, wat op 12 Julie (Dinsdagaande om 17:00) afgeskop het. "Twintig hunky ouens ding mee om R700 000 se platekontrak geborg deur Select Musiek.

"Dit was baie gewaagd van my om in te stem om as beoordelaar op te tree, want jy ontbloot jouself met jou persoonlike opinies en smaak. Ons het skreeusnaakse oomblikke beleef – een sanger het my in trane gesing en ek het beslis met vuis en hart baklei vir dié wat dit verdien het. Ek het besef ek gaan gestenig word vir my blatante eerlikheid, maar dit is tog waarvoor jy daar is.”

En boonop bestuur sy nou al nege jaar lank haar eie nasionale bemarkingsmaatskappy, Annie Malan Promosies, met veertien takke landwyd.

Asof dit nie genoeg is nie, het sy by die New York Film Academy ingeskryf vir 'n jaarlange aanlyn-kursus as draaiboekskrywer. "Ek het 'n onafhanklike skryfskool in Kaapstad hierby betrek. Hulle staan my by met die treatment van die teks. Ek onderhandel ook met SuperFilmmakers in Suid-Afrika wat saam met my aan die projek gaan werk . . .”

Raak sy nooit alleen nie, al is sy so besig?

"Ek sê altyd vir skoonheidskoninginne dat jy nie 'n titel nodig het om 'n verskil te maak in ander se lewe nie. Jy hoef ook nie iemand te hê wat jou má noem om 'n má te wees nie. Ek is beskermvrou vir die Christelike Maatskaplike Raad, werk met kinders by die Abraham Kriel-kinderhuis, ondersteun 'n jongmens in 'n rolstoel, besoek die jeug in tronke, en lei meisies by 'n afrondingskool in Diepkloof-gevangenis op. En dan is daar my kabouterman Henro Malan, my nefie van 12, wat die kosbaarste siel is wat ek nog teëgekom het. Hy lei my op in Star Wars-rolprente en is 'n karate-kampioen, skryf kitaarliedjies vir my en laat my soos 'n heldin voel. My ander broerskind, Martin Malan, is my peetkind. Hy is nog klein, maar 'n regte klein veg-tiertjie, net soos ek.”

Sy hou van haar stiltetyd en verduidelik dit só: "Ek's verslaaf aan stilte, en vir my skryftyd en navorsing het ek baie spasie nodig. Die Bybel leer mens hoe belangrik dit is. Dis vir my 'n strategiese lewensbehoefte. . .”