"Sy stoot en draai in my maag soos ek hier sit en skryf, en ek gaan dié gevoel mis! Oor 'n paar dae gaan ek hierdie wonderwerkie in my arms kan vasdruk en dit maak my vreeslik opgewonde en gelukkig, maar daar is tog net iets so spesiaal aan om jou eie klein mensie vir 9 maande hier binne jou te dra!

Hierdie swangerskap het ons bietjie verras, maar dit bly so 'n groot voorreg en seën om maklik swanger te raak dat ons nie anders kon as om op ons knieë te gaan en dankie te sê nie! En na daai bloedtoets het ons journey weer begin, maar dié keer effens anders en dit het ek gou agtergekom: Met jou eerste swangerskap het jy tyd.

Tyd vir gaan skuinslê as jy skielik lus voel vir 'n uiltjie knip, tyd vir 'n spesiale ete of fliek saam met jou man na 'n lang, besige week, tyd vir rustig rondloop in winkels op soek na die babagoedjies wat jy graag wil koop en tyd vir lekker lang kuierjies saam met jou vriende waar jy 100% aandag aan net hulle kan gee en stil kan sit op een plek vir langer as 15 minute.

Wel dié keer is dit anders, want nou is daar ook 'n amper 2-jarige in die huis!

Gou gaan lê as die moegheid jou vang? Geen manier nie! Uitglip vir 'n date night elke naweek? Wel, na badtyd en stories lees is albei net té moeg vir nog uitgaan! Rustig rondloop in die winkels? Wel, jou peuter gaan nie geduldig wag dat jy elke etiket noukeurig deurlees en dalk nog stil sit in die aantrekkamer as jy 'n paar 'maternity'-pakkies wil aanpas nie!

En ja, jou kuiertyd en gesprekke saam met vriende word maar onderbreek deur 'n peutertjie wat elke nou en dan jou aandag steel. So, ja, dinge is anders, maar ek verruil dit vir niks in die wêreld nie! Elke

Anri se skoonheidswenke

Anri glo in ’n holistiese benadering en sê sy kan nie op haar beste lyk sonder water, slaap en sonbeskerming nie.

aand as ek daai lyfie gaan 'in-tug', elke keer as ek daai glimlaggie sien of hoor, elke kaar as ek net in daai ogies kyk, is dit of tyd stilstaan en ek net wil opkyk en weer sê dankie - wat 'n voorreg om 'n ma te kan wees en sulke onvoorwaardelike liefde te ervaar!

Ek glo vas dat elke ouer dinge op sy manier moet doen, al verskil dit van ander. As dit vir jou werk, is dit die regte manier. Nou ons het besluit om nie 'n groot ophef te maak oor mamma se maag wat skielik groter word en dat boetie of sussie 'daar binne' is nie. Ek was bang Enzo begin dink my maag ís 'sussie'! Alhoewel hy uit sy eie uit my magie soms vryf en selfs soenjies gee, wys ek eerder foto's van 'n klein babatjie en sê dit is Sussie.

Ja, Sussie het nog nie 'n naam nie.

Ons gunsteling-naam, wat ook 'n familienaam sou wees, is ongelukkig gegaps deur goeie vriende van ons, en ek en Etienne is nie een lief vir die, bv. 'Sannie 1 / Sannie 2' name nie, en dit is presies wat sou gebeur aangesien ons twee kleintjies beslis baie saam sal speel.

Anri wys haar gunsteling-foto's

Haar troudag, haar ooievaarspartytjie, haar musiekfoto's as DJ, gesinsfoto's saam met Ettienne en Enzo.

So, ons het beluit om weer oor te begin, maar ook om die naamsoekery tussen onsself te hou. Sjoe, kan mense opinies vorm oor name! En dis nie in wat hulle sê nie, dis in daai effense frons, of te lank stilbly voor hulle hulle mening lug. Skielik twyfel jy in jou naam waaroor jy nou-nou nog baie opgewonde was! Ons het 3 name waaarvan ons albei hou en ek dink dit gaan regtig een van daai gevalle wees waar ons na haar gaan kyk en besluit watter een van die drie dit gaan wees. Vir nou sal Sussie net moet doen.

Oggendnaarheid?

Sommer heeldag-naarheid hierdie keer! Baie, baie (het ek gesê baie!) moeg! En so nou en dan sooibrand. Dit was die 3 dinge wat ek kan uitsonder wat anders was met hierdie swangerskap. En natuurlik baie minder tyd vir net, wel, alles!

Soveel so dat ek baie vroëer opgehou het met my privaat pilatesklasse, daar was net nie meer tyd nie! En ek het gevoel my Enzo hou my genoeg op my tone en as ek hom so 'n paar keer per dag by ons huis se trappe op- en afgedra het, het al my spiere gewerk! Maar ek moet sê ek het die pilates baie gemis!

Veral net die strek en lekker diep asemhaal deel! Ek dink ek was dié keer effens minder streng oor die etery. Met die eerste swangerskap was ek cravings-supergesond! Dié keer ook, maar ek het makliker ingeggee vir 'n lekker bederf!

Ag, dis seker omdat dit 'n dogtertjie is... ons girls hou mos maar van 'n ietsie soets! Ek was wel baie streng met wat ek geëet het terwyl ek vir Enzo geborsvoed het en dit gaan ek beslis weer doen. Die lekker bederfies sal maar net moet wag en alles wat ek dan oor my lippe sit, sal goed genoeg moet wees vir my baba ook!

Weer eens was die ondersteuning van my man, ouers, skoonouers, familie en vriende fantasties! Sonder hulle weet ek nie of ek 2 sulke gesonde en maklike swangerskappe sou kon hê nie. En alhoewel

5 minute met Anri se ma, Rina Hugo

Enzo, soos enige ander peuter van sy ouderdom, ons baie besig en op ons tone hou, is hy regtig my 'Engelkind' wat soveel meer vreugde en lag in die huis bring as raas en kwaai wees.

Die babakamer is reg, tassies is gepak en skielik raak ek effens senuweeagtig.

Gaan ek als onthou? Gaan ek die tyd en toewyding wat ek vir Enzo gegee het ook vir haar kan gee? Gaan ek dit regkry om nie vir Enzo afgeskeep te laat voel nie? Dan besef ek dat dit nie gaan oor altyd alles reg doen, of om antwoorde vir alles te hê nie. Dit gaan oor om 'n vertroue in God te hê dat Hy jou sal lei en dra en dat Hy altyd daar is om te luister, dag of nag.

Ja, my nuwe babatjie gaan baie huil, sy gaan my soms wakker hou vir ure aaneen, maar dis deel van die hele proses en eerder as om te bid en te vra hoekom dit juis so moet wees, bid eerder vir kalmte, rustigheid en wysheid en jy hanteer die situasie soveel beter.

Vir elke vrou daarbuite wat swanger is, wil ek graag sê, geniet elke dag daarvan!

Al is dit soms moeilik en swaar, is dit so 'n vreeslike spesiale tyd in ons lewens. Dis die enigste tyd in jou kind se lewe dat jy hom of haar so styf kan dra, veilig beskud teen alles en almal daar buite. Ja, die beste deel kom nog as hulle eers 'daar' is, maar vir nou is dit net so spesiaal om daai stampies en stote hier binne my te voel.