Soms, wanneer sy haarself in die spieël sien, moet sy net keer of sy skree: “Jy is ’n skrywer!”, vertel Ansu, wat nou haar eerste “regte, egte” skryfwerk doen vir die sepie Getroud met rugby.

Sy het toneelspel by Tuks gestudeer en is mal oor haar werk as aktrise, maar dit het haar nooit só laat voel nie, bieg sy.

Kykers het haar aanvanklik leer ken as aanbieder van kykNET se ChatNOU!, nadat sy ’n kompetisie gewen het om dié musiekprogram aan te bied. Daarna het die werk as aktrise gevolg: in die rolprente Wonderlus, Jou Romeo en Vir die voëls, en in die TV-reeks Sterlopers. Tussendeur het sy ook die vermaakprogram Fiësta begin aanbied. Vanjaar is sy te sien in die TV-reekse Hotel en Die Byl en die Deon Opperman-film Vat ’n kans.

Maar sy het nog altyd geskryf. Ansu het ’n leefstyl-en-modeblog genaamd Cut the Mustard, en het selfs as kind al poësie geskryf. “Ek was daardie meisie wat vir my laerskoolkêrels briefies geskryf het eerder as om met hulle te gesels. Later jare het ek hierdie fantasie van myself gehad as skrywer, in Frankryk, sigaret in die mond, terwyl ek deur my venster na die Eiffeltoring staar vir inspirasie.”

Om egter nét toneel te speel of nét te skryf, sal vervelig wees, glo sy. “Elkeen vul ’n deel van my hart.”

Lees ook:

Nadia Valvekens: ‘Heerlik om my vlerke te sprei’

Schalk Bezuidenhout: ‘Moenie my vra om te kies nie’

Bennie Fourie: ‘Ek moet besig bly, anders slaap ek!’