1. Wat is die beste manier om iemand se aandag te trek?

Op die verhoog sal ek ’n gebaar of klein beweging maak voor my karakter begin praat om die fokus op my te vestig. Om skielik tussen mense te begin sing of skree is seker ’n goeie manier om aandag te trek in die openbaar.

2. Wat was die rol, wat jy graag wou gehad het, maar moes afstaan aan iemand anders, en aan wie was dit?

Ek wou graag Medea speel , maar op daardie stadium is ek as te oud bestempel en dit was nogal ’n teer-puntjie. Gelukkig het ’n wonderlike aktrise, Anthea Thompson, die rol gespeel.

3. Wat sou jy se wat was die rol wat jou bekend gemaak het?

Nee, dit sou ek nie kon antwoord nie. En ek beskou myself nie as “bekend” nie - sonder om valslik beskeie te wees.

4. As jy iets aan jouself kon verander, wat sou dit wees?

My voete. Ek sou graag beter en gesonder voete wou hê.

5. Watse dorp is vir jou die mooiste in die land?

Aangesien ek ’n paar jaar laas per pad gereis het, het die verval van voorheen mooi dorpe, my terneergedruk gemaak. Tog kan ek Jacobsbaai hier aan die Weskus uitsonder as ’n bekoorlike dorp.

6. Watse karaktereienskap beïndruk jou in iemand anders?

Iemand wat dink voor hy/sy praat en dan met ’n sinvolle opinie vorendag kom.

7. Wat bestel jy gewoonlik as jy gaan uiteet, en waar?

Grote griet, ek kon so lanklaas gaan uiteet ek kan nie mooi onthou nie. Maar Jimmy van Buzby Grill in Seepunt se steak, sal altyd ’n gunsteling wees.

8. Wat gee jou vreugde?

Die natuur.

9. As jy n boot gehad het, wat sou jy dit noem?

Ons het ’n ou kreefbakkie met ’n klein enjin, maar hy het nie ’n naam nie. En ek wil hom ook nie ’n naam gee nie.

10. Watter kompliment beskou jy eintlik as ’n belediging?

 “Ek hou so baie van jou werk. Wat is jou naam nou weer?”