Armand Hofmeyr is besiger as ooit. Nie net werk hy aan sy nuwe album, Lekkerlyf, nie, hy hou ook sy lyf akteur in twee van Suid-Afrika se gewildste sepies.

Armand gaan binnekort te sien wees in Binneland én in Villa Rosa. In Binneland is hy slegs ’n agtergrond-akteur en in Villa Rosa speel hy homself. Hy is ook nie deel van ’n storielyn nie, maar dis vir hom die gulde geleentheid om meer te leer oor die Suid-Afrikaanse filmbedryf.

"Ek wil leer hoe om in dié bedryf te werk, daarom is dié klein rolle ideaal vir my," het Armand vandag tussen sy verfliming deur op die stel van Villa Rosa  gesê. In Villa Rosa verskyn hy as homself en moet sy handtekening vir een van sy aanhangers gee. Broer Devon verskyn ook saam met hom in dié sepie.

Armand en Devon op die stel van Villa Rosa FOTO: Twitter Armand en Devon op die stel van "Villa Rosa" FOTO: Twitter

Armand het dié foto op sy Twitter-blad gedeel en sy aanhangers meegedeel dat die pasteie wat op die stel gebruik word, van spons is.

"Ek wil nog nie groter rolle speel nie. Ek wil eers leer. Ek is gewoond aan die kamera, maar om in die kamera te praat soos met Jukebox (’n musiekprogram op kykNET). Dit is moeilik om te maak of die kamera nie daar is nie."

FOTO: Leana Clunies-Ross Devon Hofmeyr FOTO: Leana Clunies-Ross

"Dit is ook lekker dat Devon vandag saam met my is. Dis die eerste keer dat ons saam aan só iets werk."

Wat sê Pa Steve oor troue beplan en sy eie planne vir toneelspeel? Klik hier!

Maar sy groot hoop is om eendag groter rolle te hê. "Maar ek wil my eie akteur wees. Ek wil ’n rol hê wat ék wil wees, iemand soos wie ek is. Nie ’n dokter, of dominee wat niks verkeerd doen nie. Eerder iemand wat rebels is. Iemand meer soos ek ... soos Charlie in Two and a Half Men (wat deur Charlie Sheen vertolk word)."

Armand is ook besig met sy nuwe album, Lekkerlyf. Hy begin volgende week sy liedjies opneem en begin vandag aan die voorblad en die plakkaat werk. Die album behoort Februarie of Maart op die rak te wees.

Klik hier vir ’n foto van Steve en sy seuns wat vroeër vanjaar eksklusief in SARIE verskyn het.