Jy kan teruggaan in tyd en vir jou jonger self raad gee. Wat sou dit wees en hoekom?

Matigheid voor oë! Die pad is lank . . . embrace jou tekortkominge, hou minder partytjies en wees meer kreatief. Laat elke dag tel.

Elke kunstenaar het sy muse. Picasso s’n was Dora Maar, terwyl Gustav Klimt op sewe muses staatgemaak het. Wie is jou muse en sukkel jy soms om haar te vind?

Ek verwonder myself aan ander se kuns en talente. Dit dryf my om elke dag ’n beter liedjieskrywer en kunstenaar te word. As dit by musiek kom, is my muse die Australiese sanger Nick Cave van Nick Cave and the Bad Seeds. Ek volg al lank sy loopbaan en sy evolusie as ’n sanger en storieverteller is vir my net aangryplik. Dit gee my absolute gemoedsrus om kunstenaars te sien wat so diep in die menslike psige kan delf en ongemaklike onderwerpe met soveel deernis en sukses aanpak. As dit by kuns kom, is dit vriende soos Beezy Bailey en Lionel Smit wat my kop in die regte rigting stuur.

Jy is ’n uitgeknipte rocker, wat al dekades in die bedryf is. Hoekom het jy besluit om ook die skilderkwas op te tel?

Kuns was my beste “sport” op skool. Dit was ’n heenkome vir ’n amperverlore tiener. In my twintigs het my rockgroep, Springbok Nude Girls, my besig gehou. Mettertyd het ek weer die verfkwas begin optel, maar ek het nog ’n lang pad om te stap. My grootste struikelblok is my vrees om foute te maak, maar as jy nie foute maak nie, leer jy nie.

Kuns is subjektief. Was jy aanvanklik huiwerig om jouself op só ’n wyse bloot te stel aan kritiek?

Ag, nee wat, dít pla my glad nie. Ek sit en doen juis hierdie goed op my eie. Dis counterproductive om te sit en tob oor mense se opinies. As ek hou van wat ek doen, weet ek daar sal iewers iemand wees wat dit ook sal waardeer. In daardie opsig is musiek en kuns baie dieselfde.

Watter medium verkies jy vir jou werk en hoekom?

Olieverf, houtskool, spuitverf. Olieverf is die moeilikste medium om baas te raak, maar dis ook die vervullendste.

Sweet Embrace in olieverf deur Arno Carstens

Glo jy nog in die toekoms van ons land?

Dis moeilik . . . so graag as wat ek wil glo, kan ek nie ’n goeie toekoms vir die land sien nie. Politiek en korrupsie het ons land gebreek. Al wat ek nou kan doen, is om positief te wees oor my eie werk. Om soos talle ander vriende in die bedryf net ons bes te doen en sodoende gehaltewerk vir julle te kan lewer. My liefde vir Suid-Afrika se fauna en flora, die land en see is ongedeerd en dít gee my ’n wilskrag vir die toekoms.

Ons het al almal terugslae en teleurstellings beleef. Watter raad het jy vir iemand wat sukkel om oor te begin en weer te probeer?

Vind inspirasie in ander se verhale oor terugslae en oorwinning. Beoefen selfrefleksie, introspeksie en luister na objektiewe, opbouende kritiek. Eet ’n bietjie stof, stof jouself af en staan weer op.

Wat bring die beste in jou uit – ’n leë skilderdoek of ’n gehoor?

Albei is altyd ’n uitdaging. Jy gooi jouself warts and all voor mense en hoop hulle staar nie na jou ekstra ledemate nie. Maar musiek voor ’n honger gehoor bly net besonders . . . hemels.

Elke musikant het sy eie kleedkamer-ritueel voor ’n konsert. Wat is joune en het dit oor die jare verander?

Sjoe, dit het baie verander! Aanvanklik het dit só verloop: Om jouself regdeur die dag voor te berei vir die show en dan ’n uur voor die vertoning backstage te arriveer. Dan skryf ek ’n set list neer, gaan saam met die band deur sekere songs en drink Jägermeister vir die stem. Daar’s natuurlik altyd die fyn balans om jou stem nie te veel op te warm nie. Maar deesdae probeer ek die stres verminder, so ek arriveer tien minute voor die show begin. Ek klim letterlik uit die motor en loop op die verhoog.

SARIE se leuse is #JyIsGenoeg. As jy hierdie boodskap aan enige kunstenaar of musikant uit die verlede kon oordra, wie sou dit wees en hoekom?

Die reusagtige Huyser Burger van Battery 9; my ou vriend, wat nou oorlede is. Hy was een van die coolste, talentvolste all-round kunstenaars wat ek geken het. Maar ek dink sy sensitiwiteit teenoor die wêreld het sy innerlike prag later versmoor.

Hoekom is jy so lief vir Afrikaans?

Ek voel die klanke . . . ek voel die woorde. Dis ’n dramatiese taal, wat terselfdertyd ook plat op die aarde kan wees. So by ’n braai kan jy een oomblik soos Shakespeare klink, en dan skielik weer soos Jack Parow, sonder om ’n oog te knip.

Kan jy ’n oomblik herroep wat jou lewe handomkeer verander het? En het dit jou toe ook iets van jouself geleer?

Ek het heeltemal uit my partytjieleefstyl gegroei en dis wonderlik. Dis nou al twee jaar en eintlik wens ek, ek het dit vroeër opgegee. Ek’s nou meer gefokus, meer produktief, gesonder en nicer. Dis net ’n ander klas lewe en ek verwelkom dit ten volle.

2020 het die wêreld tot stilstand gedwing. As jy die jaar in ’n lied kon vasvang, wat sou die eerste frase wees?

Gewond maar nie oorwonne.

Het jy ’n mantra of leuse wat jy koester en aan vasklou?

Dit wat jou uniek maak, is jou grootste bate.

Wat lê voor vir die nuwe jaar – enige opwindende projekte, albums of kunsuitstallings?

Ek is besig om my volgende solo-album bymekaar te sit. Ek het ook [liedjies vir] ’n nuwe Afrikaanse album geskryf, maar ons wag nog vir finansiering. Terselfdertyd is Springbok Nude Girls ook besig om ’n album  klaar te maak. Eintlik is daar baie goed in die vooruitsig.

BLITSVRAE MET ARNO

GUNSTELINGKLEUR: Swart

GUNSTELINGITEM IN JOU KLEREKAS: Vlootblou admiraalsbaadjie

KUNSWERK WAT JOU ONTROER: Vincent van Gogh se Amandelbloeisels

GUNSTELINGSEISOEN: Somer

DROOMVAKANSIE: Zanzibar

LIED WAT NOSTALGIE OPROEP: The Waterboys se “The Whole of the Moon”

GUNSTELINGDIGTER OF -LIEDJIESKRYWER: Paul Simon, Nick Cave, Bono en The Pogues