Dit is nie enige Suid-Afrikaanse musikant wat kan sê hy het al ’n verhoog met Celine Dion, Ronan Keating en The Rolling Stones gedeel nie. Arno Carstens, ons  alternatiewe rocker, kán. Hy is behoorlik aan die naammaak in Brittanje. Soveel so dat Jay-Z, die Amerikaanse R&B-sanger en Beyoncé se man, Arno se optrede by die Isle of Wight (in Junie vanjaar) as ’n “moet-sien”  bestempel het.

Arno en sy vrou, Melanie Machattie,woon gedeeltelik in Londen waar hy onlangs sy derde solo-album, Wonderful Wild, uitgereik het. Ons ken hom ook as lid van die Springbok Nude Girls (SNG) saam met wie hy ses albums gemaak en vier SAMA’s (Suid-Afrikaanse Musiektoekennings) gewen het.

Sy eerste solo-album, Another Universe, was die grootste verkoper van Engelse rock nóg in Suid-Afrika. Dit het platinumstatus behaal en is ook met ’n SAMA vir beste rockalbum bekroon. Sy tweede solo-album, The Hello Goodbye Boys, het eweneens ’n SAMA vir beste volwasse kontemporêre album gewen.

Mel maak die voordeur van hul wit-en-chroomhuis in Seepunt oop. (Hulle was vir sewe weke in Suid-Afrika om Wonderful Wild hier bekend te stel.) Sy is selfs mooier en fyner as op foto’s en sit peperment-tee met heuning voor.

Net toe kom Arno van die winkel af. Hy dra stywerige jeans, ’n streephemp en ’n  losserige serp. Soos altyd het hy ’n groot, moderne sonbril op. Dis face jewelery, sê hy.

Mel los ons om te gesels en verdwyn na haar kantoor elders in die huis. As Arno se bestuurder het sy baie werk. Dis maar woes, dié tydjie in Suid-Afrika, sê hy. Hy reis tussen Kaapstad en Johannesburg voor hy gou weer Londen toe vertrek waar hy en Mel ’n woonstel huur. “Die ideaal is om ses maande hier en ses maande daar te woon,” sê hy.

Die Britte ontvang sy musiek goed. Hy het immers sy album saam met een van hul voorste musiekregisseurs, net bekend as “Youth”, gemaak. En Arno open gereeld bekendes, soos die Rolling Stones, se optredes of deel ’n verhoog met hulle. Soms met ’n band soos sy eie New Porn, ander kere solo.

Hy werk nou aan ’n (nog titellose) album wat later vanjaar verskyn.“Dis my baby waaroor ek verskriklik opgewonde is. Ek hou daarvan om heeltyd te vernuwe, maar binne perke,” sê hy.

Daarop sing Arno duette saam met jong vrouesangers. Die musiek is reeds opgeneem, die stemme word stuk-stuk bygesit.

In die sitkamer speel hy ’n “nog baie rowwe” snit waarop hy saam met Lizzy Pattinson, Robert Pattinson van Twilight-faam se suster, sing. Sy het ’n ryk stem, ver bo haar jare.

 

’n Mens weet nie, dinge kan dalk net so tot ’n einde kom."

 

“En sy is net iets in die twintig.”

Van die ander vroue wat saamsing, is Suid-Afrika se Josie Fields en Brittanje se Molly McQueen, wat al saam met Katie Melua ’n liedjie geskryf het.

Deur dit alles bly Arno realisties en nederig. “’n Mens weet nie, dinge kan dalk net so tot ’n einde kom. Platemaatskappye sukkel maar oral omdat jonger mense eerder songs van die internet aflaai as om CD’s te koop.”

Intussen rock hy volstoom voort. Hy glo die Britse musiekbedryf regeer die wêreld en sê die Britse klank is meer divers as die Amerikaners s’n. “Daarby het hulle die Beatles en The Rolling Stones opgelewer.”

Hoe voel jy oor Jay-Z se kompliment?

Ek hoop dis waar! As dit is, is dit great.

Wat dink jy het die Wêreldbeker-sokkertoernooi vir Suid-Afrika beteken?

Ekonomies is dit natuurlik goed vir ons, maar wat dit vir die land se psige beteken het, is ongelooflik. Dit het die gewone mense op straat verenig. Dankie, dankie, Bafana!

Die blues-sanger Jan Blohm vra dat jy iets vertel van jou optrede saam met The Rolling Stones.

Ons het dieselfde aand in ’n stadion in San Sabastian, Spanje, opgetree. Hulle is steeds die gróótste band in die wêreld. Op 64 hardloop Mick Jagger op die verhoog rond soos ’n jong man. Keith Richards is wel klein, maar aantrekliker as op TV. Almal is gesond en steeds incredible.

Jy het op Worcester grootgeword. Wat maak die dorp spesiaal?

My ouers, Jos en Helena, woon nog daar en dis steeds huis. Die berge maak dit mooi. Ek verbeel my ek hoor Tom Waits (die Amerikaanse sanger met die rokerige stem) sing. Daar is heelparty wynboere wat destyds saam met my pa rugby gespeel het. Dis gesellige mense. Ek onthou die dae voor TV toe my ouers en hul vriende saans poker gespeel en Sondae gebraai het. Lekker tye.

Jy is Afrikaans. Hoekom sing jy in Engels?

Ek het grootgeword met Engelse musiek en dis vir my doodeenvoudig makliker. Ek het wel een Afrikaanse song – “Pappa, ek wil ’n popster word”– geskryf. Dis op SNG se album After Life Satisfaction.

Wanneer het jy agtergekom jy kan liedjies skryf?

Van standerd 5 (graad 7) af het ek kitaarlesse geneem. Ek moes vir die juffrou “Country Roads” speel, maar omdat dit so moeilik was, het ek eerder my eie song geskryf. Ek het nog nooit weer opgehou nie. Ek het ook op skool in die Bolandstreekkoor gesing en is van vroeg af blootgestel aan my ouer broers se musiek. Hulle het na goed soos AC/DC en Black Sabbath geluister. Daarby was ek mal oor dramaklasse. Ons het toneelstukke opgevoer waarin ek meestal ’n gay ou moes speel. My pa was baie bekommerd! Ná my weermag-opleiding in Bethlehem was ek lid van ’n band wat ontbind het en kort daarna het ek en Theo Crous die Springbok Nude Girls begin.

Dit was van die begin af ’n sukses. Jy het ook ná die weermag grafiese kuns studeer.

Ja, aan die Kaapse Technikon. Dit het net ses maande gehou. Daarna het ek in Johannesburg gaan leer oor die drukkuns en toe ’n lito-masjienbediener op Wellington geword.

Die rock-chick Karen Zoid sê jy is ’n goeie skilder. Sy vra wanneer hou jy jou eerste kunsuitstalling?

Sy skilder ook en ek sal graag my werk saam met hare wil uitstal. Ek skilder met olieverf in ’n surrealistiese styl. Ek dink dis die rigting wat ’n mens inslaan as jy nie behoorlik realisties kan skilder nie! Maar Salvador Dali wás ’n bietjie beter as ek.

 

Ek skilder met olieverf in ’n surrealistiese styl. Ek dink dis die rigting wat ’n mens inslaan as jy nie behoorlik realisties kan skilder nie!"

 

Hoe het jy in Brittanje beland?

Geluk, maar ook die noodlot. Nadat ’n gig in 2006 in Durban gekanselleer is, het Ronan Keating se bestuurder, John Giddings, my gebel. Hy is ook die Rollings Stones, U2 en Madonna se agent. Hy het gesê hy sal my drie keer die geld wat ek in Durban sou verdien, betaal as ek Ronan (voorheen van die Ierse boy band Boyzone) se vertonings in Suid-Afrika open. Al was ek nie ’n Boyzone-fan nie, het ek ja gesê. John was in die gehoor. Ons het ontmoet en ontdek ons trou op dieselfde dag. Ons het vriende geword en hy het my gevra of ek ’n album in Engeland wou opneem. Hy het my ook genooi om by 2007 se Isle of Wightfees op te tree. Soos Johnny Clegg, die “wit Zoeloe”, al vir my gesê het: Ná 25 jaar in die bedryf gaan jy mense ontmoet wat jou in jou loopbaan gaan help.

Jou lirieke word dikwels deur DStv se National Geographic-kanaal geïnspireer . . . ?

Hul taal klink soos Shakespeare. Wanneer ek na die ongelooflike beelde op die skerm kyk en na die poëtiese taal luister, kom die inspirasie. Ander kere sit en tokkel ek op die kitaar, hoor ’n treffende noot of twee en skep iets daaruit. Of ek sal in die straat stap en musiek uit ’n winkel hoor wat my inspireer. Ek wil ook nog probeer om die TV se klank af te sit en na die beelde te kyk. Dink net wat daaruit kan voortvloei!

Die muse is darem gaaf met jou.

Nogal, veral met die nuwe album. Ek en Youth (die musiekregisseur) het vyf liedjies in ’n week geskryf. Ons het soggens vroeg aan ’n liedjie begin skryf. Soos ons gevorder het, het ons die melodie geskep en die song dieselfde aand opgeneem.

Hoekom het julle juis in Spanje opgeneem?

Youth het ’n ateljee net buite Granada in Andalusia. Hy is ’n legendariese Britse musiekregisseur en het al saam met musikante soos Dido, Crowded House en U2 gewerk. Hy het ook saam met sir Paul McCartney die groep The Fireman gestig. Jy sal nie glo watter klank hy uit McCartney kry nie!

Youth het glo die hele span soggens eers vir ’n draffie geneem . . .

Hy is ’n interessante mens wat ook skilder en skryf en joga en asemhalingsoefeninge doen. Die vallei naby Granada waar ons gedraf het, lyk soos De Doorns vol bloeisels. Dit het ons wakker gemaak en ons koppe skoon gekry.

Jou liedjie “Emergency” is gekies vir die Kopenhagen-aardeberaad.

Die liedjie gaan oor verskillende verhoudinge, onder meer mens teenoor planeet. Ek voel sterk daaroor dat ons die aarde moet oppas. Almal weet daar is ’n probleem, maar niemand dóén iets nie. Ons is soos paddas wat stadig gekook word en mettertyd gewoond raak daaraan.

Buiten vir ’n unieke stem, wat verg dit nog om suksesvol in die musiekbedryf te wees?

’n Mens moet jou omring met vaardige mense, soos ’n goeie platemaatskappy en ’n goeie bestuurder – wat Mel vir my is. Talent help. Maar bowenal, uithouvermoë. Jy moet in jouself bly glo en bereid wees om elke keer nog beter te vaar.

Hoekom die titel Wonderful Wild?

Dit verwys na die hele proses van Londen toe trek – maklik was dit nie – én om die album in Spanje op te neem. Dit was ook wild in ’n positiewe sin. Ons het oor ’n naweek in Londen aangeland en ek is dadelik gevra om Celine Dion se show daardie Maandag te open! Dit was crazy. Dit was net ek en my kitaar op die verhoog. Ek het in net ’n paar aande voor altesame 85 000 mense in die O2-Arena in Londen opgetree. Celine is absoluut lovely. Haar man, René, het vir my in sy sagte, stadige stem wenke ná my optredes gegee. Soos dat ek meer met die gehoor moet kommunikeer.

Is die Springbok Nude Girls heeltemal verby?

Celine Dion is absoluut lovely."

Nee. Ons het in 2007 die album Peace Breaker gemaak en ons beplan vier optredes in Suid-Afrika aan die einde van die jaar.

Die baskitaarspeler Schalk Joubert wil weet wanneer verskyn die boek wat jy wil skryf oor al die weird en wonderlike goed wat op oorsese toere gebeur?

Hy spot! Maar Matthew Freemantle, ’n Suid-Afrikaanse joernalis, skryf wel ’n boek oor my loopbaan. Ons het nog nie ’n titel nie. Ek beplan ook een oor die Springbok Nude Girls. ’n Koffietafelboek met mooi foto’s en interessante stories.

Hoekom is jy deel van die anti-misdaad-veldtog Shout?

Die misdaadsituasie in Suid-Afrika is afskuwelik en kry nie aandag nie. Die politieke partye sê ook nie jammer dat hulle opgeneuk het nie. Kunstenaars het die  aantrekkingskrag om die wêreld bewus te maak van misdaad en dit só te voorkom. Die Shout-liedjie is great. Danny K is die man agter die veldtog. Hy was bereid om iets te dóén.

Jy en Mel is al vier jaar getroud. Wat laat dit werk?

Ons is goeie partners en ons hou ook die romanse lewendig. Ek gee vir haar blomme of bring vir haar ontbyt in die bed. As sy dit nie verwag het nie, dink sy ek is fantasties!

Is daar kinders in die toekoms?

Moontlik. Maar dan sal ons nie só kan rondtoer nie. Vir eers konsentreer ons op my loopbaan.

Wat is die belangrikste lewenslessewat jou ouers jou geleer het?

Hulle het uitgehou met vier seuns. Hulle is omtrent al ’n honderd jaar bymekaar en stel só vir my ’n goeie voorbeeld. Ek sal nie maklik skei nie.

Leef jy gesond?

Ja. Ek hou nie van stysel nie en draf, gim en speel tennis.

Het die Britse modes jou klerestyl beïnvloed?

Ek is mal oor die lae, nou broeke wat hoog bo die skoene sit. Ek dink ’n mens is óf modebewus óf nie. Ek was nog altyd. Ek hou van die androgene voorkoms. As jong tiener het ek plakkate van Boy George, Adam Ant, die Britse New Waveband ABC én Superman teen my kamermuur gehad. Net om my pa gelukkig te hou was daar ook ’n foto van Naas Botha.

Wat doen jy wanneer jy nie musiek maak nie?

Ek eet graag uit of lees oor wetenskap en tegnologie. Ek is mal daaroor om unexplained mysteries te Google. Of ek oefen.

Hoe voel jy oor ouer word?

Ek het my 30ste verjaardag agt jaar gelede behoorlik gevier, want die 20’s was maar veeleisend. Ek kyk soms in die spieel en dink ek lyk terrible, maar tog hou ek van ouer word, want dan is gister verby.

ARNO WYS SY FOTO'S