Michelle Pienaar van Egoli lyk soos Halle Berry, het Charlize Theron-drome in haar kop −
en Elsiesrivier in haar hart. Sy praat oor ’n paar dinge in haar lewe, en daardie gewraakte
foto in die Voortrekkermonument.

deur MARTIE SWANEPOEL
foto LEANA CLUNIES-ROSS

Jy het nou onlangs die hele land aan die gons gehad deur vir ’n tydskrif-foto op die
senotaaf in die Voortrekkermonument te poseer. Wat het julle gedink doen julle?
Ek is in twee minds oor die drama met die senotaaf. Al hét ek op daardie dag besef dit is die verkeerde ding om te doen, glo ek nie ek sou geweier het om die foto te laat neem nie. Ek vertrou gewoonlik die oordeel van die joernalis en fotograaf. Ek is nie die soort mens wat ’n
tantrum op ’n shoot sal gooi nie. As die span wil hê ek moet van ’n krans afhang, sal ek dit waarskynlik ook doen. Die foto was ’n fantastiese idee op sy tyd. Ons het nie gedink dis onsensitief nie. Ek was seergemaak toe mense my sommer daaroor aanval. Ek het respek vir tradisie en waardes … en weet ons moes meer sensitief gewees het.

Jy het die rol in Egoli danksy ’n SARIE-wedstryd in 2001 losgeslaan. Het dit jou lewe positief of negatief verander?
Ek het gegroei. Voorheen was ek net die dogter van Carol Blomstein van Elsiesrivier. Ek het onder haar beskermende vlerk geskuil. Ek en my broer, Alfonso. Ek was haar “baba” wat na die “bose stad” gegaan het. Sy was bang om my te laat gaan en toe ek boonop die eerste dag
in trane bel oor ek op straat gesit het weens ’n misverstand met ’n huisagent, wou sy my kom haal. Ek het eers op die sypaadjie gesit en huil en toe bespreek ek plek in ’n Formule
1-hotel. Ek is bly, want ek het baie selfvertroue gekry. Voorheen was ek te skaam om selfs komplimente te hanteer. Ek het al die hang ups verloor wat ek as model gehad het. Ek het nooit mooi genoeg gevoel nie. Nou hou ek van myself.

En jou karakter, Audrey? Sy is nou ’n liefling van die kykers, gaan sy so ’n goeie mens bly?
Audrey het gegroei van ’n koekerige te-goed-om-waar-te-wees-meisie tot ’n volwasse vrou. Sy weet nou wat sy wil hê, maar het nog ’n paar paadjies om te loop. Daar is nog ’n paar lesse wat sy op die harde manier sal moet leer. Ek glo sy sal altyd ’n kwesbare meisie bly en
nie sommer in ’n superfeeks ontwikkel nie. Sy kry baie bewonderaarspos, want kykers identifiseer met haar. Een meisie het geskryf dat sy haar lewe op Audrey skoei en haarself ook eendag vir die huwelik spaar. En dan dink sommige mense sepiekarakters is sommer net lig in die broek!

Gaan jy vir altyd Audrey bly? Of gaan jy ook eendag jou vlerke sprei?
Ek het groot Hollywood-drome. As Charlize Theron kan, kan ek ook. Maar ek is nog nie gereed daarvoor nie. Ek sal weet as ek reg is. Ek moet nog baie leer. Ek is nog nie geestelik en fisiek sterk genoeg nie. Maar ek het die droom, dit sit hier diep binne-in my hart.

Is daar ander drome in jou hart? Waaroor dagdroom jy?
Ek bou in my verbeelding dikwels ’n strandhuis. Iewers naby George. En ek en Marlon (Roelfze, wat Shaun in Egoli speel, en ook haar kêrel in die regte lewe is), sit op die stoep en handjies hou. Ons honde, Madonna en Duchess, speel voor ons op die strand.

Ek hoor jy is baie kwesbaar? Spat die trane dikwels? En wat maak jou bly?
Ek is ’n emosionele mens. Ek huil heeltemal te vinnig. Veral as ek kwaad word. Dan kan ek myself nie beheer nie. Maar dit help soms as ek emosioneel in ’n toneel móét wees. Dan kan ek die trane laat kom! Ek word nie maklik kwaad nie, maar as mense vir my jok, raak ek briesend. Dit maak seer as mense my vertroue skend. Daar is baie dinge wat my bly
maak. Komplimente oor my werk en onverwagte geskenkies van waardering maak my bly … en as ek Marlon dophou en hy sit voor die TV en lag of glimlag, dan maak dit my hart warm van geluk.

Is daar nog ’n stukkie van die kind van Elsiesrivier in jou? Of is jy nou ’n stadsmeisie en sepiester?
Daar sal altyd ’n deel van Elsiesrivier in my wees. Ek wil nie hê dit moet ooit weggaan nie. Dis my mense en my gemeenskap daardie. My loopbaan as sepiester gee hulle drome. Dit wys vir die jeug dis moontlik om bo uit te kom. As ek eensaam en hartseer is, verlang
ek na die anties van my straat. My ma is ’n geskeide vrou en ons en die bure het baie
na aan mekaar geleef. Ek kan met iemand soos antie Daphne enigiets bespreek. Dis
mense soos dié in my straat in Elsiesrivier wat my lewe great maak.
As ek teruggaan huis toe, is ek nie Michelle die “Egoli-star” nie. Dan is ek weer Carol se dogter. Dit maak my ongemaklik as mense hul kinders stuur om my handtekening te vra. Ons het dan saam grootgeword?
Ek is baie trots op my Elsiesrivier- en Afrikaner-roots. ’n Mens moet nooit vergeet waarvandaan jy kom nie. Jou roots maak van jou ’n sterker mens. Dit hou my voete op die aarde as ek terugdink aan waarvandaan ek kom.

Jou lewe klink byna soos ’n sprokie. En toe ontmoet jy jou groot liefde ook soos in ’n sprokie?
Ek en Marlon glo albei aan sprokies. Ons hou daarvan om soms met ons kop in die wolke te leef. Hy het my raakgesien toe ek destyds aan die SARIE-wedstryd deelgeneem het, wat my pad na Egoli oopgemaak het. En toe beland hy self later in Egoli!
Hy is soms baie romanties, maar nie elke dag nie. Hy het my al wakker gemaak en gesê ek moet pak, want ons gaan op ’n avontuur. Ek is bly hy doen dit nie gereeld nie, want ek wil dit nie as vanselfsprekend aanvaar nie.

Maar nou is julle een van die pers se glanspaartjies. Het dit ’n invloed op jul verhouding?
Dit plaas baie druk op ons. Voor dit bekend geraak het, kon ons ons verhouding rustig laat groei, maar vandat dit bekend is dat ons as Egoli-paartjie ook van die skerms af verlief is, is daar gedurig mense wat wil weet of ons “nog bymekaar is” en baie vra “wanneer gaan
julle dan trou?” Ons probeer ons nie te veel daaraan steur nie, maar die druk is tog daar.

Is die sepiewêreld ’n droomwêreld? Hoekom raak mense so daaraan verslaaf?
As mense saans ná ’n besige dag huis toe gaan, wil hulle voor die TV ontspan. Hulle soek ontvlugting. Hulle wil vir ’n rukkie van hul eie probleme vergeet. Dis hoekom hulle sepies kyk. Ek dink in Egoli roer ons regte menslike dramas aan. ’n Mens leer baie van mense as jy
na sepies kyk. Jy kyk van buite na hul intriges en dramas, en kan met baie daarvan identifiseer. Mense hou ook van die glanswêreld waarheen sepies hulle wegvoer. Hulle woon in hul verbeelding die troues en die bal by. Hulle verkyk hulle aan die glans en droom saam.

Jy is glo meesterlik agter die kospotte. Waar het jy leer kook?
Toe ek in Johannesburg aangekom het, kon ek nie kook nie. Ek het op Viennas en mayonnaise geleef. Ek het op ’n dag lus gekry vir spaghetti en my ma moes oor die foon beduie hoe ek moet maak. Daardie dag het ’n groot kooklus in my wakker geword.
Nou kook ek dat die stoom so staan. My ma sal dit nie wil hoor nie, maar ek dink nou selfs ek kan beter as sy kook! Ek en Marlon hou van Oosterse kos en ek maak veral Thai-geregte. Ek het altyd noedels, kerriepasta, kokosneutmelk, kasjoeneute en koljanderblare in my huis
sodat ek vinnig ’n feesmaal kan optower.

Jy ken nou die modelwêreld sowel as dié van ’n sepiester. Sal jy dit eendag vir jou dogter aanbeveel?
Ek was nie gelukkig in die model- of skoonheidswedstryd-wêreld nie en ek weet nie of ek eendag my dogter sal druk om dit aan te pak as sy nie reg voel daarvoor nie. ’n Skoonheidswedstryd het vir my die deure na Egoli oopgemaak en my baie gehelp, maar die meeste skoonheidswedstryde laat ’n mens nie goed voel oor jouself nie.

Watter emosies maak boeke en flieks in jou wakker?
Die boek The Da Vinci Code het my laat nadink. Maar ek huil ook oor boeke en in flieks. Ek het my oë uitgehuil in die fliek Notebook. Dit was vir my so mooi dat die liefde so lank kan hou en as geliefdes by mekaar staan.

Het jy groot swaktes en sondetjies?
Skoene en handsakke! Ek het seker 55 paar skoene en 30 handsakke. Ek weet dit klink erg, maar daar is niks wat my so magtig laat voel soos ’n paar lekker hoë hakke nie. Ek gaan nêrens sonder my hakke en lipstiek nie. My een ander sondetjie is dat ek van gereelde manikure en pedikure hou. Ek hou daarvan as my naels en voete altyd perfek lyk. Dit gee my selfvertroue. Dit laat ’n vrou afgerond lyk.

Waar sal jy jou droomvakansie gaan hou?
Ek en my ma gaan elke jaar oorsee en ek hou daarvan om na eksotiese plekke te reis. As ek en Marlon die dag tot trou kom, sal ek baie daarvan hou om my wittebrood in die Seychelle te gaan hou. Dis vir my die ultimate romantiese plek.

En as jy een wilde, wilde droom kan droom?
Dat ek die Lotto gaan wen, daardie droomhuis gaan bou en ’n Peugeot 206 CC kan koop … ’n rooie met ’n afslaandak!

Wat jy nie van Michelle geweet het nie
Ek was ’n kranige atleet en het Westelike Provinsie-kleure in hoogspring behaal.
Ek was ook in ’n stadium ’n adrenalien-junkie wat van abseil, bergfietswedrenne en duik gehou het.
Ek het darem ’n tikkie vrees in my. Ek is bang vir situasies waaroor ek nie beheer het nie. Ek is ook bang vir die donker! As Marlon nie by die huis is nie, laat ek die honde by my slaap.