“Leef vir my. Leef vir ons albei,” het Mike Horn se geliefde Cathy op haar sterfbed gesê. En dis presies wat die wêreldbekende avonturier nou doen.

“Vir my was dit erger om my vrou as my eie lewe te verloor,” sê hy. Hy wou vir goed tuisbly, maar sy dogters het gesê, nee, dis nie wie Paps is nie (dis hoe hulle hom sedert hul kinderjare noem, want ja, Mike is Afrikaanssprekend).

Reeds as 13-jarige het hy geweet hy wil berge van molshope maak. Hy is in Johannesburg gebore en nou ’n Switserse avonturier. Professioneel. Sy lys prestasies is ongeëwenaard. In 2016 het hy die eerste mens ter wêreld geword wat Antarktika in die Suidpool deurkruis het. Op sy eie. In Januarie vanjaar het hy sy Pole2Pole-ideaal bereik deur die Arktiese Oseaan in die Noordpool te oorkruis. Daar is nog vele meer.

Met sy T-hemp, jeans en pet laag oor sy oë lyk Mike onopvallend waar hy in ’n Kaapse hotel agteroorsit. Die woeste baard wat hy van sy ekspedisies oorhou, is afgeskeer. Hy lyk jonger as 54, sy vel gloei. Daar is geen teken meer van vriesbrand, ’n gebreekte skouer of pynlike voete nie. Jy let ook nie die ontbrekende vingerlid op wat hy tydens die Grensoorlog in Angola in ’n landmynontploffing verloor het nie.

Mike pak sy avonture aan per voet, aan die swem of bergklim, op ski’s, met ’n vlieërski, op ’n fiets, in ’n kano of met ’n seilboot. “Die liefde vir wat ek doen en die opwinding moedig my aan.” In sy motiveringspraatjies oral het hy dié boodskap: As jou drome jou nie bang maak nie, is hulle te klein.

Sy avonture word algaande meer ekstreem. “Een fout kan my my lewe kos, daarom neem ek die beste toerusting saam.”

Mike se nuwe boek, Dream of a Lifetime: Crossing Antarctica (Jonathan Ball-uitgewers) het onlangs verskyn. “Ek wou my droom deel, ander se oë oopmaak vir ons planeet se ontoeganklikste juweel.”

Die teenspoed in Antarktika was ingrypend, vertel hy. Die vrieskoue wind het hom en sy vlieër soms teen 40 km/h gesleep. Terwyl hy oor ysriwwe geski het, het hy hard en ernstig geval. Die harnas aan sy slee het gedreig om sy heupe te ontwrig en die temperatuur kon tot byna -50 ºC daal. “Niemand kan jou daarop voorberei nie. Ek weet nou die moontlike is eintlik onmoontlik.” Hy fokus nie op die dood nie. “Ek het nie ’n testament nie. Ek wil bly lééf, dis my verantwoordelikheid om terug te kom na my geliefdes.”

Annika en Jessica besef hul pa kan só sterf, maar ook hulle fokus nie op die dood nie. “Hulle kry waarde uit wat ons deel: die opwinding, risiko, onsekerheid en die unieke planne wat ek moet maak. “Hulle sê ook: ‘Paps is bang vir niks, allermins vir droom.’”

Die voorafreëlings is ’n groot storie. Veral om permitte te kry van die verskillende lande waardeur hy reis. Cathy het voorheen die geweldige logistiek behartig. Hulle het nog die Antarktika-ekspedisie saam beplan. “Nou gaan ek voort vir haar. Sy kon probleme oplos, hoor! Ek verstaan reëls en regulasies, maar wanneer ek wel aan die vereistes voldoen, is dit nie reg om my toestemming te weier nie.”

Hy betree immers nie verbode terrein of benadeel die landskap nie. Met Antarktika is hy nietemin met ’n dagvaarding gedreig. “Ek raak baie geïrriteerd wanneer mense my lewe moeilik wil maak.”

Dit kan sukkel om borge te kry. In die verlede was dit apartheid, maar baie borge wil hulle steeds nie verbind aan iemand wat dalk kan doodgaan nie. Wanneer hy sulke teenstand kry, praat hy met Cathy. “As jy maar kon weet hoe moeilik dit is om my droom lewend te hou.”

Tydens sy ekspedisies fokus hy nie op waarde vir geld vir die borge wat hom wel ondersteun nie. “Ek wil net bly leef. En wanneer ek ’n ekspedisie suksesvol afgelê het, is almal suksesvol.”

Antarktika het hom geestelik en fisiek uitgeput. Krisisse was daar baie. Hy het byna sy tent in sterk wind verloor. Sy een windseil het weggewaai en hy moes ’n ander een se geskeurde lugkussings self toewerk. Sy ski het gebreek. Sy stoof en pot het weggeraak en hy kon nie ys vir drinkwater smelt nie.

In ’n harde valslag is sy skouer gebreek. Daarna moes hy met een arm tent opslaan, vliegski en soms sy swaar slee vir kilometers trek. Maar vir pyn skrik Mike nie. Hy het met ’n boorpunt en sonder verdowing sy toonnael deurboor om infeksie te verlig. Ook ’n vleiswond met ’n chirurgiese krammetjie “toegestik”.

Sy kompasnaald het weens die uiterse koue begin tol. Hy was onseker waar hy was en volg toe die enigste voëltjie in die sneeulandskap. “’n Teken van Cathy af. Ek het deurentyd haar teenwoordigheid aangevoel. Dis baie alleen, jy moet glo daar is iemand anders.” In die natuur praat hy ook met die Skepper.

Die ergste was dat sy boot, die Pangaea, hom nie by die eindpunt kon oplaai nie, die stroombaanpaneel het ophou werk. Hy het dadelik planne gemaak ingeval hy die dodelike winter in Antarktika sou moes bly. Hy sou ’n igloe bou en gedroogde pikkewyn eet. Maar opgee, nooit! “Wanneer jy jou ingesteldheid verander, kan jy óm struikelblokke loop, eerder as vas in hulle.”

Prins Albert van Monaco het eindelik gereël dat ’n boot wat vir die Franse in die Suidpool kos neem, hom oppik. Mike erken hy was nie elke oggend gemotiveerd nie. Wat sou vandag gebeur? Sou dit nog kouer word? Sou hy die beplande afstand kon aflê? Hy weet wel dat tagtig persent van sukses in ’n gesonde brein gehuisves word.

“Moenie onkruid in jou kop plant nie, eerder blomme. Fisieke krag het perke, maar jou kop strek verder. Soms reik jy diep na binne om ‘hulpbronne’ te vind.”

Wanneer hy saans, yskoud, sy tent toegerits het, het die speellys wat Cathy spesiaal vir hom gemaak het, hom deurgedra. “Die realiteit is hard, maar só kon ek ontsnap.”

Hy sien nie weer kans vir ’n solo-ekspedisie deur Antarktika nie. “Ek weet nou die risiko is te groot, ek ag die lewe hoër as enigiets anders.”

As kind is hy geïnspireer deur Robert Falcon Scott. Dié Britse avonturier en sy span het die Suidpool gehaal, maar op pad terug in die sneeu vasgeval en vir die dood gewag om hul lyding te verlos. “Ek glo hul voorbereiding was nie goed genoeg nie. Ek wou eendag self probeer.”

Mike se pa, ’n provinsiale rugbyspeler, het hom geleer om groot te droom, selfs in onsekerheid. Ook dat navorsing vooraf belangrik is, dan kan jy besluit of jou ideale moontlik is. “Pa, ek wil eendag so goed wees soos jy,” het Mike gesê. “Jy kan nie,” was die antwoord. “Ek het natuurlik dadelik afgehaal gevoel.” Maar toe gaan sy pa, Michael, oftewel “Birdie”, voort: “Jy kan nie, want jy gaan eendag groter en beter wees as ek.”

Mike was 13 toe die gesin in Namibië gaan voetslaan het. Hy het een oggend vroeg met sy nuwe toerusting by die kampplek uitgeglip en ’n steil berg uitgeklim. “Daarbo het ek vry gevoel. Ek het die moontlike gevaar oorleef. Dis wat ek vir altyd sou najaag.”

Reeds op skool het hy in verskeie sportsoorte uitgeblink. Hy het selfs daarvan gedroom om in die Olimpiese Spele mee te ding, maar weens die destydse apartheid was dit onmoontlik. Menslike bewegingskunde aan die Universiteit Stellenbosch was die nuwe plan. Terwyl hy daarna in die Grensoorlog was, het sy pa aan kanker gesterf. Om die leemte te vul het Mike “die wêreld gaan verken”.

Terug in Johannesburg het hy besluit om Suid-Afrika te verlaat en eindelik by Château-d’Oex in die suidelike Alpe beland. Daar het hy sy geliefde Cathy ontmoet. “Sy was gorgeous, sy’t ’n lieflike geaardheid gehad. Ons was gemaklik by mekaar en het die beste in mekaar na vore gebring.” Hulle was vir 25 jaar gelukkig getroud. “Omdat Cathy in my geglo het, het ek in myself geglo.”

As jonggetroudes het hulle ’n enkelbed in ’n hotel gedeel en rys op ’n petrolstofie gaargemaak om te eet. Vir ’n inkomste het Mike skottelgoed gewas. “Ek het besef ons kon enigiets saam aanpak.”

In 1993 is hul dogter Annika gebore. En in 1994 Jessica. Deesdae het die twee hul eie kommunikasiemaatskappy. “Ek is een van hul kliënte,” spot Mike. Sy dogters het in Cathy se spore voortgestap en hanteer die omvattende logistiek van sy ekspedisies.

Annika en Jessica was die jongste kinders nog wat in tot -35 ºC van Borneo in Asië na die Noordpool geski het. “Hulle verkies dit steeds bo bars en bier.”

Mike sonder enkele ander avonture uit. Sy eerste grote was in 1997, ’n 6 400 km-swem die Amasone af reg oor Suid-Amerika. Tydens projek Latitude Zero (1999) het hy 18 maande lank om die wêreld geseil, fietsgery, gestap en berggeklim. Hiervoor het hy ’n Laureus-wêreldtoekenning ontvang en pous Johannes Paulus II ontmoet.

In 2006 het Mike en Børge Ousland, ’n Noorweegse ontdekkings-reisiger, geskiedenis gemaak met hul sestig-dae-ekspedisie (op ski’s en met ’n slee) van Rusland tot die Noordpool. Dít in die Arktiese winter.

Hy en sy bergklimvriende het in 2007 van die wêreld se hoogste bergpieke (sowat 8 000 m bo seespieël) in die Himalaja getakel, sonder aanvullende suurstof of bykomende kos. Die Pole2Pole-projek oor drie jaar was Mike se grootste.

Tydens sy ekstreme ekspedisies mis hy water uit ’n kraan, om met sy voete laer as sy agterstewe te sit, ’n toilet waar die papier nie wegwaai nie, vier mure, ’n deur wat kan oopmaak.

Tuisgekom in die Switserse Alpe sit hy “vol adrenalien” lank op sy rusbank. “Ek eet nie, ek slaap nie. Ek dink net.” Die Russe het hom ook geleer dat elke groot toer met sit begin.

Ná 5 100 km solo binne 57 dae het hy by die Franse stasie Dumont d’Urville in Antarktika aangekom. Hy is nie in hegtenis geneem nie, maar daar was geen trompetgeskal nie. “Niemand het verwag dat ek dit sou maak nie.” Hy sê hy het soos ’n wilde dier gelyk.

’n Vreemde man het verstom op hom afgekom. Die man was een van ’n span tegnici en vragmotorbestuurders. Hulle het Mike hartlik ontvang en hom vir bykans ’n week gehuisves. “Net Cathy was nie by die eindpunt nie.”

Mike en hul dogters het haar gaan groet toe sy sterwend is. Oral was drups, sy kon nie meer praat nie. “Sy het haar arms oopgegooi, haar oë het vir die laaste keer gesprankel. Dit was hartseer en mooi. Ons weet nou dat die beeld van ons langs haar hospitaalbed haar op haar laaste reis sal vergesel.”

Mike wou saam met Cathy sterf, maar toe sê sy: “Moenie vir my doodgaan nie, leef vir my.”

Ek weet nou die moontlike is eintlik onmoontlik. - Mike