Ciske, wat bekendheid verwerf het as Christie in die Bakgat!-films en Driekie in Getroud met rugby, gaan môre vir die eerste keer in twee jaar weer vir ’n fliekoudisie.

Maar die afgelope twee jaar was sy nie net ma vir die 4-jarige Amelie nie. Sy het nadat sy by die Carlton Hair Academy haarstilering studeer het, haar eie haarsalon saam met twee vennote oopgemaak.

FOTO: Instagram (@ciske79) FOTO: Instagram (@ciske79)

Sy is nie slegs mede-eienaar van Dis’se Moet-haarsalon in Johannesburg nie, maar ook ’n stileerder by dié salon, wat sy saam met Eric von Brandis en Daniel de Beer besit.

"Ek geniet dit baie! Dis definitief uitdagend, want dis heeltemal nuut - dis ’n nuwe industrie en ek is nie ’n groot besigheidsmens nie! Dan raak dit soms frustrerend, maar my geloof dra my daardeur. Ek is ook baie dankbaar vir die ondersteuning van my twee vennote en my kêrel," vertel sy.

Ciske en haar kêrel, Kristof FOTO: Instagram (@ciske79) Ciske en haar kêrel, Kristof
FOTO: Instagram (@ciske79)

Dié nuwe liefde in Ciske se lewe is Kristof Kruger, ’n sakeman van Johannesburg.

"Hy is wonderlik! Ons maak saam planne en is baie lief vir mekaar. Ons voel ons is gestuur vir mekaar. Terwyl ek deur die seer van my egskeiding gegaan het, het God vir my tekens gegee. As ek nou terugkyk weet ek in my hart dat Kristof ’n antwoord op my gebede was."

Ciske, Kristof en klein Amelie FOTO: Instagram (@ciske79) Ciske, Kristof en klein Amelie
FOTO: Instagram (@ciske79)

"Hy is so goed en lief vir Amelie en werk so mooi met haar. En sy voel ook so oor hom."

Ciske, wat verlede jaar saam met aktrise Odelle de Wet (Binnelanders se Delia) in ’n verhoogproduksie by die Innibos-kunstefees was, hoop om vanjaar weer op die planke by dié fees te wees. Sy beplan om nou geleidelik weer aan haar akteurs-loopbaan te werk.

"Na my egskeiding (van akteur Ivan Botha) het ek gevoel ek soek iets wat meer stabiel is, want acting het nie so baie werk nie en ek het my dogtertjie om aan te dink," vertel sy. "Haarstilering is een van die goed waarin ek nog altyd geïnteresseerd was en altyd graag wou doen. Toe ek jonger was, het ek gesê ek wil teen ek 30 is my eie salon hê."

Ciske Kruger  FOTO: Gloria Cilliers Ciske Kruger
FOTO: Gloria Cilliers

Hierdie droom het byna twee jaar vroeër waar geword.

Sy het aanvanklik net met Eric en Daniel gesels om meer oor haarstilering te leer. ’n Paar maande later het hulle haar genader om die salon saam met hulle te koop.

Vandag is sy opgewonde oor haar nuwe toekoms - met haarstilering, toneelspel, liefde en haar pragtige dogtertjie.

Ciske deel met SARIE.com die top-5-haarstyle van 2014. Sien dit HIER.