Dié plaasmeisie van Namibië is al sedert 2009 ’n Victoria’s Secret Angel, een van die gesigte van dié luukseonderklere-maatskappy, en het as topmodel al op loopplanke verskyn vir Versace, Givenchy, Chanel en Dior – om maar ’n paar te noem. Maar vanjaar fokus Behati Prinsloo op iets heel anders as haar glansryke modelloopbaan: renosters.

Toe die Save the Rhino Trust haar kontak om te help met bewusmaking, het sy nie twee keer gedink nie. “Ek was oorweldig deur passie vir die projek. Drie renosters word elke dag doodgemaak vir hul horings – vir keratien, dieselfde stof waaruit ons naels bestaan. Ek is immers ’n kind van Afrika, al is die VSA deesdae my tuiste.”

Behati en haar man, die Maroon 5-hoofsanger Adam Levine, woon in Beverley Hills saam met hul twee dogters, Dusty Rose en Gio Grace. “My kinders was nog nie in Afrika nie – Gio kan skaars loop – en dis my droom om hulle ons wonderlike kontinent, en renosters, te wys. Dié diere is deel van Afrika se siel. Van my siel.”