Ná baie jare van draaiboeke skryf vir reekse soos Generations (waar sy soms 250 episodes in ’n jaar moes uitdink!), die gewilde Erfsondes (reekse 3, 4 en 5) op SABC2, Hart van staal, ’n novelle vir kykNET, en vier jaar as ’n regisseur van die M-Net-sepie Binnelanders, geniet sy elke oomblik in Amulet, haar dekor-en-geskenkwinkel op die Overstrandse dorp Hermanus.

Die ‘ou’ lewe

“Vier jaar gelede het ek en my man, Percy Pretorius, teksredigeerder by Binnelanders, goeie geld verdien. Jana, ons dogter (toe 10), was in ’n Johannesburgse private skool. Alles perfek. Maar ons het gevoel iets is nie reg nie. Ek het te veel gerook, my gesig was afgerem . . .
“Intussen is Elmo, my jonger broer in die Kaap, met breinkanker gediagnoseer. Skielik kry jy nuwe perspektief. Ons het alles verkoop en verhuis na Onrus, naby Hermanus.

“Ek het vier jaar gependel tussen Johannesburg en die see. Percy en Jana het gesukkel om daarby aan te pas, maar dit was vir my´ opwindend. Tog, ná ’n ruk raak jy vliegvoos. Jy sien jou man en kind min. In dié tyd is Elmo oorlede en ek was verpletter. Ek moes afvlieg van Gauteng vir sy begrafnis en direk terugvlieg vir werk. Ek het besluit ek wil meer tyd tuis deurbring.”

Winkel-winkel

“Op ’n dag het ek vir die pret ou goed verkwansel by ’n kattebak-verkoping en dit baie geniet. Toe, in 2010, steel Amulet my hart. Dit was te koop en getrou aan my impulsiewe aard het ek vir Percy gesê: ‘Skat, ons koop hom.’
“Ek het nie geweet wat die huur of omset was nie. Percy het gesê as die hordes toesak, gaan hy in die
badkamer wegkruip en net vir hulle sê om die geld op die toonbank te los. Nou plof ons saans gedaan maar tevrede voor die TV neer.

“Ek weet ek het al die sakereëls gebreek en die winkel ten duurste in die middel van die resessie gekoop. Dit was boonop ’n winkel wat nét mooi goed verkoop, waarheen jy kom vir inspirasie, geselskap en goeie koffie. Maar hier kry jy die mooiste once-offs teen ’n fraksie van die stad se pryse . . .”

So Dankbaar

“Ek word soggens wakker met die see wat in my ore ruis. Dan word ek stil en dankbaar vir al die mooi om my. Ek maak ’n punt daarvan om mooi aan te trek en te ‘pas’ by my winkel. Dis vir my die heel mooiste plek in die wêreld. Vandat ek dit gekoop het, loop my kop oor van stories. Ek het al intussen ’n heerlike sitkom geskryf oor gewone mense, want die winkel inspireer my so.