Dink altyd langtermyn

WILLEM BOTHA, sanger en entrepreneur

My ouers, ongelooflike entrepreneurs, het nooit vir ons sakgeld gegee nie, eerder ons wengeld wat ons met perdeskoue gemaak het. Dit het ons baie respek vir geld geleer, asook hoe om dit te gebruik sodat jy dit nie in die eerste maand blaas nie. My pa se les van kleins af: As werk help, dan werk mens! Soms klink R1 000 na te min vir die werk wat jy moet insit. Maar as dít jou gaan help, dan doen jy dit. Soms lei daardie R1 000 na R10 000 se werkgeleenthede. Dink altyd langtermyn – aan wat daardie R1 000 in die toekoms vir jou kan beteken. 

Spaar met ’n doel

KATRYN KRUGER, internasionale model

Op 16 het ek voltyds ’n internasionele model geword en moes vinnig leer om met geld te werk – my pa, ’n finansiële adviseur, het my veral met internasionale betalings en belasting leiding gegee. Ek het besluit om te spaar waar ek kan, mét ’n doel: my eie eiendom, sodat ek nooit finansieel afhanklik hoef te wees van enigiemand nie. Só kon ek op 19 my eie eiendom koop. En later nog een. Dus: As jy spaar met ’n doelwit – of dit nou eiendom, ’n motor, ’n troue of selfs ’n kledingstuk is, sal dit jou motiveer om goed met jou geld te werk.

Haal die vrees uit jou begroting

DIVAN BOTHA, aanbieder van Winslyn op kykNET en baas van die koffiewinkels The Whippet en Flight Coffee

My top-drie:

1. Maak jou begroting ’n lewende dokument, pas dit elke maand aan – jou lewe verander immers heeltyd. Ons is dikwels so bang ons begroting klop nie, dat ons nie daarna wil kyk nie. Haal die vrees uit jou begroting, maak dit ’n riglyn en nie ’n lat nie.

2. Ons vergeet dikwels die waarde van geld omdat ons met plastiek betaal. Tel ’n slag R300 in R20-note af – dan kom jy agter hoeveel jou wegneemete werklik kos.

3. Haal versoekings van jou slimfoon af, soos apps om kos/goedere te bestel. Jy sal minder geneig wees om te koop. Of skakel daardie toep se kennisgewings (notifications) af – alles gemik op meer koop.

Elsabé Daneel
Elsabé Daneel FOTO Willem Lourens

Volg die beste kenners se raad

ELSABÉ DANEEL, teaterpraktisyn en kommunikasiestrateeg

Ek is geseënd met uitstekende sakebreine in my familie, en ek volg nougeset hul raad oor die beste fondsbestuurders, begrotings, besparing, beleggings, aandele en binnelandse en buitelandse finansiële blootstelling. Ek koop selde hoogmode-artikels (my klerestyl is tydloos) en het ’n skerp oog vir winskopies. Ek hou uitverkopings van my gunstelingwinkels dop vir klere, skoene en interieur.

Vra vrae oor kontrakte

MARTELIZE BRINK, RSG-omroeper en regisseur

Almal weet jy moet spaar en so vinnig moontlik skuld delg as wat jy kan. Een item wat jy so gou moontlik moet probeer afbetaal, is jou motor. Vra vrae oor kontrakte – bv. jou motorleningsooreenkoms. Ek wou af en toe, soos dit beskikbaar was, iets ekstra op my motorlening afbetaal. Die kontrak het bepaal dat jy slegs ’n hele paaiement se geld of meer ekstra kon insit en nie net die R500 of R1 000 wat jy daardie maand ekstra gehad het nie. Ek het dus daardie los bedrae probeer spaar en elke nou en dan ’n volle ekstra paaiement betaal.

Wéét wat aangaan met jou geldsake

DAWIE ROODT, hoofekonoom van die Efficient Group en Ontbytsake-aanbieder

Die grootste fout wat mense maak met hul finansies: Hulle ignoreer dit. Jy het die knaende gevoel dat iets verkeerd is, soos ’n apie wat pal jou ore trek. Jy het finansiële moeilikheid, die apie pla, maar jy’t nie die moed om dit te konfronteer nie ... Dit gáán nie beter word as jy dit ignoreer nie. Net soos ’n oorgewig persoon wat gewig wil verloor, nie die probleem gaan oplos deur dit te ignoreer nie – klim op daardie skaal sodat jy wéét – moet jy elke dag weet wat in jou bankrekening aangaan, hoeveel beleggings jy het, hoeveel jy skuld. Net as jy wéét, kan jy plan maak met die apie. 

Leze Hurter Neale-May
Leze Hurter Neale-May FOTO Phyllis Green

Hou jou geld in meer as een rekening

LEZE (NEALE-MAY) HURTER, SARIE Voorbladgesig 2019-finalis en troufotograaf

My topwenk van ’n adviseur-vriendin: Spaar voor jy spandeer. Voor dit het ek geld uitgegee en gedink ek sal aan die einde van die maand wegsit wat oor is. Dit werk nie! Hou jou geld ook in meer as een rekening: Jou lopende rekening (vir daaglikse uitgawes), een vir korttermyn-spaar met onmiddellike toegang, een vir langtermyn-spaar en een vir noodgevalle wat ’n bietjie meer rente trek. Ook: As troufotograaf het ek met net ’n kamera, rekenaar en R50 begin – ek moes by my pa geld leen vir ’n goeie lens. Ná my eerste groot fotosessie was dit vir my swaar dat ek nie eens die geld kon geniet nie, maar moes terugsit om toerusting te koop. My ma se raad: Met besigheid gee jy soms finansieel een tree terug om vyf tree vorentoe te gaan. Ek volg dit nou nog.

Maak dit tweede natuur om te begroot

DESIRÉ GARDNER, Suidooster-aktrise

As kind van ’n bankbestuurder is dit vir my tweede natuur om te begroot. Dis só eenvoudig: Jou inkomste en uitgawes moet klop. Met twee kinders is dit nie altyd die geval nie, maar dis waarvoor ek mik. Skryf neer: Dís die lys vaste uitgawes waaraan ek niks kan doen nie, dis uitgawes waaraan ek wél iets kan doen – kos, vermaak, klere ... en besluit dan waar jy dié maand gaan sny. Nog ’n wenk: As jy ’n neseiertjie het, sit dit in ’n geldmarkrekening met ’n goeie rentekoers. So ’n “lui inkomste” is waarna jy streef: om geld te genereer sonder om iets te doen.

Behandel jou geld met respek

LEAH, sangeres en gewese aanbieder van Boer soek ’n vrou

My ma het my van kleins af geleer om mooi met my geld te werk. Swaar tye, toe ons sente moes omdraai, sal altyd in my agterkop wees. Ek het gereeld op my skool se markdae my handgemaakte goedjies verkoop en in restaurante gewerk. Waardeer jou hardverdiende geld. Behandel dit met respek. Jy sal verbaas wees hoeveel meer jy dit waardeer as jy dit netjies, in volgorde, in jou beursie sit. Ek neem ook tyd om pryse te vergelyk (maar neem gehalte in ag) en dink twee keer of ek ’n item nodig het of regtig graag wil hê. 

Los jou pensioen tot aftrede

RYK VAN NIEKERK, redakteur van Moneyweb en aanbieder van RSG Geldsake

Moenie jou pensioengeld onttrek as jy van werk verander nie. Dis veral ’n probleem as jy gereeld van werk verwissel en dan jou pensioengeld as ’n “bonus” gebruik om skuld af te betaal. Dit gaan jou hard slaan wanneer jy eendag wil aftree omdat jou pensioen belas sal word. Jy sal heel moontlik by aftrede nie genoeg geld hê om jou leefstyl voor aftrede te handhaaf nie. Dra eerder jou pensioen na ’n bewaringsfonds oor en spaar dit vir aftrede.  Nog ’n fout is om ’n motor te koop wat jy nie kan bekostig nie. En dan ’n koopooreenkoms te teken wat ’n ballonbetaling insluit. Dit beteken dat jy ná ’n sekere tyd ’n groot bedrag moet betaal om die lening af te los, soms tot 40% van die koopprys. As jy dan nie jou maandelikse uitgawes kan dek nie, sal jy skuld moet aangaan – ’n gevaarlike spiraal wat al baie mense verorber het.

Bouwer Bosch
FOTO Bouwer Bosch (Instagram / @bouwerbosch)

Belê soms in ander sonder om iets terug te verwag

BOUWER BOSCH, sanger, skrywer en entrepreneur

Ek voel sterk met finansies moet jy ander help waar jy kan. Duisende in die bank gaan jou nie gelukkig maak nie. Geluk word ervaar wanneer jy geluk deel. Moenie roekeloos wees nie, maar as jou geldsake by jou passie inval (myne is musiek en die ontwikkeling van opkomende kunstenaars), gebeur wonderlike goed. Wanneer jy mense help of in hulle belê sonder om iets terug te verwag, kom daar gewoonlik baie mooi goed terug op jou pad. Ek het dit al talle kere gesien.

Moenie ophou spaar as jou belegging ‘swak’ presteer nie

AMELIA MORGENROOD, finansiële adviseur, PSG Wealth

Spaar minstens 15% van jou bruto inkomste. Spaar sluit nié jou woonhuis se verband in nie. Sorg dat dié 15% ’n belegging in aandele en/of eiendom insluit. Moenie maandeliks jou opbrengs probeer bereken nie! Aandele en eiendom se opbrengs is baie wisselvallig oor kort periodes. En moenie ophou spaar net omdat jou belegging nie na jou sin presteer nie. Behalwe natuurlik as daar ’n slang in die gras is; maak wel seker dat jou opbrengs soortgelyk is aan ander beleggers s’n op ’n sekere tydstip. Wanneer aandeel- en eiendomspryse laag is, moet jy juis pligsgetrou jou spaarplan voortsit.