Kloksgewys van links-bo: Amalia Uys (Foto: Leana Clunies-Ross), Edwin van der Walt (Foto: Instagram / @ansuvisser), Yolani Abrahams (Foto: Willem Lourens), Nico en Christi Panagio (Foto: Lisa Skinner vir M-NET)

Die komediant Marion Holm, wat haar lyf ook skrywer hou, waardeer die humor en wysheid van Afrikaanse idiome. “As ek een moet kies, is dit nie oor dit my gunsteling is nie, maar eerder oor dit my gereeld byval. Deesdae dra mense baie graag vreeslike stywe broeke, veral daai wat amper soos dik kouse lyk. Dan trek dit soms ’n bietjie tussen die boude op, en dan onthou ek elke keer: ‘Kolmuis vreet wasgoed!’ “ Maar haar gunsteling-sêding kom van Carl Jung: ‘Haastigheid is nie van die duiwel nie, dit is die duiwel.’

Bouwer Bosch FOTO: Leana Clunies-Ross

Akteur, sanger en komediant Bouwer Bosch se gunsteling- Afrikaanse spreekwoord is om jou lyf knipmes te hou. “Dis wanneer jy iemand anders probeer beïndruk of ’n meisie of kêrel die hof maak. Ek is mal oor hierdie vergelyking! Iemand wat indrukwekkend is, is gewoonlik skerp, sterk en betroubaar.”

Jacques Bessenger FOTO Woordfees

Kanarie- en Fynskrif-akteur Jacques Bessenger kies ’n gesegde wat sý soort mense beskryf: “Hy is so gemaak en so laat staan.” Die gesegde beskryf mense wat nie hulself aanpas om by die situasie te pas nie. “Ek hou daarvan, want dit verwys na iemand wat eksentriek en anders is, maar steeds eg aan homself. Sulke mense word gewoonlik my vriende,” sê Jacques.

FOTO: Marinda Engelbrecht / VIA

Marinda Engelbrecht, koskenner en aanbieder van die kookprogram Maklik met Marinda op VIA, se gunsteling-sêgoed hou verband met haar werk. Haar eerste keuse? “Kom ons gee vir julle van Noag se sop,” wat “kom ons drink wyn” beteken. Nog ’n gunsteling verwys na wyn: “Die bottel is gebore, sonder kop of ore, maar sy nek en sy bek sit op die regte plek!” Die rympie is ’n wonderlike gesprekspunt, sê Marinda. Sy onthou ook wat haar ma altyd gesê het: “‘Kook ruim vir die man wat oor die bult kom.’ Dit beteken mens moet altyd genoeg kos maak vir onverwagte gaste!”

Diaan Lawrenson FOTO: Leana Clunies-Ross

Aktrise en vervaardiger Diaan Lawrenson kies ’n bekende gesegde: “Wat die hart van vol is, loop die mond van oor.” Dié brokkie wysheid maak ook sy verskyning in die Afrikaanse vertaling van die Bybel. Dit beteken dat dít waaroor mense die meeste praat, hul diepere bedoelings verklap. Ook dat dit wys wat regtig vir jou belangrik is.

Pedro Kruger. FOTO verskaf

Buig die boompie terwyl hy jonk is,” is musikant Pedro Kruger se gunsteling. “Dit beteken dat mens ’n kind dinge moet leer terwyl hulle nog jonk is. Ons kinders is die toekoms en ons moet vir hulle leer en bemagtig om die toekoms aan te pak. Maar ons moet fokus op gereedskap soos menslikheid, empatie, deernis, respek en hoe mens ’n goeie mens kan wees.”

Edwin van der Walt. FOTO: Instagram / @edwinvdwalt / geneem deur @ansuvisser

Wonderlus- en Fynskrif-akteur Edwin van der Walt het ’n unieke sêding in sy arsenaal. “Ek sê dit heeltemal te veel. My gunsteling- Afrikaanse sêding is eenvoudig ‘Sonja Herholdt’ en ek sê dit gereeld buite konteks. Dit het selfs ’n one-liner geraak in die film Die Pro, waar Bennie Fourie se karakter sy poegie ‘Sonja Herholdt’ doop. Op ’n ernstige noot is my gunsteling-idioom ‘wat jy saai sal jy maai’. Ek glo in die betekenis daarvan, wat jy insit sal jy uitkry.”

Renaldo Schwarp FOTO: Facebook / @renaldoschwarp / geneem deur @ebenphotography / Ebraheem Davids

Jakaranda FM-radio-omroeper en -aanbieder Renaldo Schwarp het ook ’n Afrikaanse bekende se naam as ’n gunsteling-sêding. “Ek is mal oor die sêding ‘cool soos Koos Kombuis’. Dit kom van die gelyknamige Snotkop-liedjie. Die liedjie was nie net ’n ‘oorwurm’ nie, ek het die gesegde ook dadelik begin gebruik as ek van iets hou of dink iets is ’n goeie idee. Die sêding klink maar net baie meer hip as ‘koel soos ’n komkommer’.”

Nico en Christi Panagio in SARIE se Junie-uitgawe. FOTO: Lisa Skinner van MNET

Boontjie kry sy loontjie,” is aktrise en aanbieder Christi Panagio se gunsteling. “Die woord ‘boontjie’ is een van my gunsteling- Afrikaanse woorde. As mens die woord herhaal dan hoor jy hoe oulik ‘boontjie’ eintlik is,” vertel sy. “Die betekenis van die gesegde is ook dat jy nie jou straf kan vryspring nie. Regverdigheid is vir my baie belangrik!”

Hannon Bothma FOTO: Facebook / @glamguru

Glamguru Hannon Bothma vertel dat “ploeg met ander se kalwers,” sy gunsteling-idioom is. Dit beteken om ander se kennis te gebruik en maak of dit jou eie is. “Ek is baie bewus en sensitief as ek iemand anders se woorde of idees gebruik. Ek kontak dan summier die kollega en bieg. Só het ek al dikwels vir Elsabe Aldrich soenoffers gestuur as ek haar wonderlike woord “treurkoeklik” in ’n Glamguru-episode gebruik. Sy is die skepper van hierdie woord en het op ’n stadium ’n CD uitgebring “Van Treurkoeklikheid tot Triomfantelikheid.”

Yolani Abrahams FOTO: Leana Clunies-Ross

Yolani Abrahams, een van SARIE Voorbladgesig 2017 se wenners en eienaar van die bistro-bakkery Kole & Deeg op Ceres, het al geleer die vermaaklikheid- en gasvryheidsbedryf kan tough wees. “Iets wat ek deesdae nogals baie gebruik is, ‘jy moet maar sterk wees’,” vertel Yolani. “Wanneer iemand so moeg is maar weet daar lê nog heelwat voor om te doen, moet jy maar sterk wees, jou moue oprol en die werk klaarmaak.”

Etienne Fourie FOTO: Willem Lourens

Etienne Fourie, draaiboekskrywer en regisseur van flieks soos Dis koue kos, Skat en Liewe Kersfeesvader, se gunsteling-sêding is ’n persoonlike mantra: “Jy moet jou dapper skoene aantrek.” Volgens hom sê hy dit gedurig vir homself. “My werk plaas my gereeld in situasies wat maklik oorweldigend kan voel. Op ’n stel staan daar sestig mense en kyk vir my met vrae in hul oë, en as ek die dag nie al die antwoorde het nie, eerder in my bed wil bly, eerder van beroep wil verander, herinner ek myself om my stoute skoene aan te trek. En ek het regtig ’n paar stoute skoene, so ek kan dit soms letterlik toepas!”

FOTO: Facebook / @daniedutoit

Spoegwolf-musikant Danie du Toit se gunsteling-sêding is “werkwantdienagkomnader”. “Ja, as een woord geskryf! My ma het dit altyd orals teen die mure geskryf. Dit het vir my niks te doen met werk nie, maar alles met skep. Ons verstaan dit as: ‘Maak kuns en lig, sodat dit nie nag word nie.’” 

Amalia Uys FOTO: Marijke Willems

Die aktrise Amalia Uys kies ’n beskrywende gesegde: “Om sewe sakke sout saam op te eet.” “Dit is ’n gesegde wat met my resoneer. My ouers het vir my gewys dit is moontlik om saam deur moeilike tye te gaan. Dit beskryf volhoubare liefde, uithouvermoë, en om mekaar in ’n verhouding te ondersteun en saam te groei. Veral vir my as jong getroude is dit iets wat ek moet onthou vir die toekoms.”

Robbie Wessels FOTO: Clinton Lubbe

Die eerste idioom wat sanger Robbie Wessels onthou is: “Die appel val nie ver van die boom af nie.”  Die idioom verwys na kinders wat na hulle ouers aard. Hy verduidelik: “Miskien hou ek nogals van hom omdat dit so baie keer duidelik is dat ’n seun soos sy pa en ’n dogter soos haar ma lyk, en dat daar ook dikwels karaktereienskappe is wat dieselfde is tussen ouers en kinders.”

Wat is jou gunsteling- Afrikaanse sêding, spreekwoord of idioom? Loer na Afrikaans.com vir kleurryke stukkies wysheid uit ons taal!