Sy’t vroeg begin om haar lyf te kritiseer en moes ook hoor hoe ander mense aanmerkings oor haar petite lyf maak. Sy dra ’n nommer ses en sukkel om klere te kry wat pas. Haar siening het begin verander toe sy die eerste keer swanger geword het.

Van pokkel tot maer

“As kind was ek nie ’n klein, feetjieagtige meisietjie nie. Hoewel ek nie vet was nie, was ek tog
 'n pokkeltjie. Dít het in my kop vasgesteek. Ek het van jongs af op my foute gekonsentreer. Ek was selfkrities en sukkel vandag nog daarmee. Ek het nie mense se komplimente vertrou nie. As iemand vir my gesê het ek is mooi, het ek gedink hulle jok vir my.

“Ek het van tienjarige ouderdom begin om maerder te word.Toe ek as aktrise begin werk het, het my kwessies met my lyf verander. Nou was ek nie meer ’n pokkel nie – ek was baie maer. Ek het eers besef hóé petite ek is toe ek klere moes begin aanpas vir die rolle wat ek gespeel het. Dit was altyd te groot. Rokke pas my nooit goed nie, veral omdat my borste baie klein is.”

Harde woorde

“Mense het al goed vir my gesê wat my seermaak. Hulle sê óf hulle is jaloers omdat ek kan eet wat ek wil en nie gewig aansit nie, óf hulle is besorg en vra of ek bulimies is of probleme met my skildklier het. Ek het al my skildklier laat toets en daar is niks fout met my nie. Ek eet gesond en het maar net ’n vinnige metabolisme.”

Wonder Van lewe

“Toe ek swanger was met my eerste kind, Liam (5), het ek anders oor my liggaam begin voel. Ek het ’n kopskuif gemaak en nie meer gedink aan hoe goed ek moet lyk nie, maar eerder hoe ongelooflik my lyf is om ’n lewe te kan dra en voed. Ek wou die beste doen wat ek moontlik kon sodat ek die gesondste baba kon hê.Wanneer ek nou my liggaam wil kritiseer, kyk ek na my kinders en dink hoe hulle in my gegroei het.

“Terwyl ek swanger was, het ek ook drie keer per week voorgeboortejogaklasse gedoen. Joga bring balans tussen jou liggaam, kop en siel. Jy leer om te besef hoe wonderlik jou lyf is.

“Ek voel nog soms negatief oor my lyf, maar ek weet hoe skadelik sulke gedagtes is. Dit help nie om te kla oor iets wat jy nie kan verander nie. Soos ek met verskillende mense gesels, besef ek almal is ongelukkig oor iets aan hul lyf. You win some, you lose some.”

Wat ek geleer het

Ek word geïnspireer deur vroue wie se lyf al deur soveel veranderinge gegaan het – vroue wat kinders gehad het en ouer geword het – maar dit steeds met grasie hanteer.

As jy net op ’n perfekte liggaam in die lewe staatmaak, kan jy ’n baie kort rit verwag.

Vandat ek nie meer so baie aan my voorkoms dink nie, het ek meer emosionele energie en “spasie” in my kop. Ek fokus eerder op dinge wat my gelukkig maak.

My vriendskappe met vroue het verbeter. Ek het myself altyd met ander vergelyk en my lyf beoordeel. Ek was ongemaklik in ander vroue se geselskap omdat ek gedink het hulle beoordeel ook my lyf, maar dis nie waar nie.

Werk met jou sterk punte. As jy weet jy lyk nie goed in sekere klere nie, moet dit nie eens aanpas nie, anders gaan jy net ontevrede wees met wat jy in die spieël sien.