“Toneelspel laat my ander persoonlikhede aanneem vir ’n kort tyd en emosies ontdek en uitbeeld,” beskryf sy haar liefde vir drama.

Sy was maar net sewe jaar oud toe sy dramaklasse begin bywoon het. Daarna het sy vir 11 jaar aan kunskompetisies deelgeneem voordat sy na skool drama studeer het en ook haar honneursgraad in dié rigting voltooi het.

Vandag is Odelle ’n bekende gesig in Suid-Afrikaanse huishoudings. Sy was eers Farrow Bornman op SABC3 se Isidingo, maar deesdae ken ons haar as Binneland se Delia.

“Ek en Delia is albei komplekse, emosionele mense, maar my humeur is nie op haar vlak nie,” sê Odelle van haar kwaai karakter in kykNET se gewilde sepie. Sy sê ook sy hou nie van konflik nie, terwyl Delia baie ongeskik kan voorkom. Dis vir haar ’n uitdaging om ’n rol te speel waar sy ‘ongeskik’ met ander karakters is.

Maar dis wat die karakter daardie edge gee – sy hou nie haar mond nie en sê presies hoe sy voel in die oomblik,” sê sy verder. Dis vir haar moeilik om te dink iemand bou ’n lewe rondom die idee van iemand anders terugkry.

“Ek sou lankal die persoon en die probleem laat gaan het,” sê Odelle, wat mal oor joga is. Sy doen dit nie net as ’n stokperdjie nie, maar ook as ’n manier om te ontlaai. Dis ook vir haar lekker om in haar vrye tyd spirituele boeke of boeke oor joga te lees.

As sy haar nie daarmee besig hou nie, kyk sy graag live musiek. Haar kêrel van die afgelope sewe en ’n half jaar, Donovan Borne, is self ’n musikant en akteur.

Haar gunsteling aktrises is Meryl Streep, Jennifer Aniston en Nicole Kidman. Sy bewonder Meryl Streep se uitbeelding van so baie verskillende karakters en hul emosies, terwyl Jennifer se comic timing en die manier waarop sy haarself fisies versorg, Odelle se respek wen. Wat het sy en dié aktrises met mekaar gemeen? “Droë komedie en die feit dat ek graag rolle sal wil – en glo ek kan – vertolk waarin ek myself totaal transformeer in ’n ander persoon,” antwoord sy. Soos wat Nicole Kidman ’n ander persoon kon word in The Hours. “My droomrol is ’n emosioneel en psigologies gedrewe karakter. En dalk ook ’n aksie karakter met baie fisiese toneelspel waar ek dalk opgelei moet word in ’n spesifieke dissipline soos die krygskunste."

Dit sal natuurlik ook nie sleg wees as dié rol teenoor Johnny Depp of Ryan Gosling is nie!

Binneland is nie die enigste hooi op haar vurk nie. Delia werk tans aan Dames, ’n teaterstuk vir Innibos en skiet in Julie ’n kortfilm in die Kaap. Verder hoop sy dat haar toekoms gevul sal wees met hope son, seën en vrede.

“Én fisiese teater!" Op die ou end weet niemand wat die toekoms gaan inhou nie. Behalwe Delia Richter, natuurlik. Vir haar wag daar in die toekoms “intrige, spannende afwagting en groot verrassings!”