Toe ons by die onderwerp van mans kom, sug sy. “Kyk, ek is ook nou al 34 en ek het al geleef en ek
het al geleer. Is jy reg?” vra sy en loer onder haar swaar kuif uit, asof sy wil waarsku hier kom drama. Báie. Dan begin sy vertel: “Daar was net twee. Eintlik drie. Maar met die eerste een was ek verskriklik jonk en ons het vreeslik vinnig verlief geraak.”

Ons begin dus by nommer twee. Die grote. Hulle was vyf jaar lank saam – van 2005 tot 2010. “En hy was wonderlik in die begin. Weet jy wat kom ek agter, nè, ek sit mans baie maklik op ’n troontjie.”
Begin 2010 het sy hul verhouding beëindig. “Agt dae voor my verjaardag,” onthou sy. “Dit was vir my baie sleg. Ek was gelukkig by my vriendin. Ons het ’n glasie wyn gedrink. Toe raak die glasie ’n bottel en toe’s dit net verdriet.”
’n Maand later het sy gehoor hy het ’n verhouding met iemand anders. “Ek het hom gebel en gevra of hy lief is vir haar.Toe sê hy ja. Weet jy hoe seer het dit gemaak?” Nog twee maande later het sy gehoor hy’s verloof.
“Tsjjj . . .” blaas sy haar asem uit en skud haar kop, asof sy die skok herleef. “Ek is deur verskriklike hel. Toe wou ek vir hom wys: ‘Kyk, ek beweeg ook aan.’ Ek het net gegryp na iemand.”

Dis ’n man wat sy een aand in ’n kuierplek ontmoet het.
“Toe besluit ek cool, hierdie persoon lyk half decent, stabiel, hy’t sy eie plek, sy eie job . . . Ek wou net wys ek het ook iemand. Dit was so ’n warboel van ontkenning, net sodat ek vir myself kon sê: ‘Kyk net hoe goed gaan dit nou met my.’”
Hulle was ’n paar maande lank in “’n baie emosioneel afbrekende verhouding”. Sy haal diep asem, dink ’n ruk lank na. “Dis maar moeilik, jong. Ek het ook maar deur ’n donker tyd gegaan.”

Haar skilpaddop-kat wals in, skuur lui teen die bank. Rolanda tel haar op. “My naam is Charlotte,” sê sy in ’n hoë stemmetjie, hou haar soos ’n baba vas en voer eers “vir die tannie” ’n mini-konsert op, wys hoe oulik Charlotte praat, hoe oulik sy loop. “Og, sy’s die liefde van my lewe,” sê sy en druk haar so styf dat daai katbeentjies sommer so kruis. “Nè, my dingetjie.”

Dan terug by die eks-liefdes. Sy het besef die nuwe verhouding werk nie en het dit verbreek. Dis toe dat ’n destruktiewe spiraal begin, want toe eers tref die hartseer oor haar vorige verhouding haar regtig. “Ek het letterlik iets soos vyf kilogram in ’n week verloor. Ek was sielkundige toe, ek was op antidepressante.”
Dis in dié tyd dat sy by haar suster ingetrek het “en daardie hele Desember was ek by my ma-hulle. Hulle het my gelei en my versorg. Ek het myself ook begin oppas, my pilletjies gevat. Nou’s ek heeltemal fine. Ek’s al omtrent ’n jaar fine.”

In hierdie tyd het sy glad nie belanggestel in ’n nuwe verhouding nie, “glad nie uitgegaan nie, glad nie op dates gegaan nie, was glad nie geïnteresseerd in manlike geselskap nie”.

En op ’n punt het sy besef sy’s oor daardie vreeslike hartseer. “Ek het net gelukkig begin voel, vreeslik tevrede. Ek en my kietie, vroeg in die bed. Wanneer jy voel jy’s gek daaroor om op jou eie te wees, dán is jy reg vir ’n verhouding. En as daar iemand is wat net so in jou wêreld inpas, dan’s dit ’n bonus.”

Toe gebeur dit, toe skuif daar een so mooi netjies in haar wêreld in. “Hy’s die regisseur van Wolwedans in die skemer. Jozua Malherbe. Hy’s 30, so ek’s ’n cradle snatcher,” sê sy
en lag. “Ons het op stel ontmoet, so ons het totaal en al op ’n professionele vlak gewerk, maar daar was so nou en dan sulke oomblikke, so ’n smile. En stadig maar seker toe ontwikkel daar so ’n ietsie.”

Sy trek haar bene op en haar voete krul oor mekaar van skaamheid, laat haar soos ’n klein dogtertjie lyk. “Maar omdat ek in die fliek was, het ek besluit niks gaan gebeur nie.Want dis daai tipiese cliché, die aktrise wat nou met die regisseur... Ek meen dis so embarrassing, ek skaam my eintlik dood. Ek skaam my dood dat ek verlief geraak het op die regisseur.” Sy lag hard, lekker.

“En ek kon my verkyk aan hom, ek het letterlik so gestaar na hom soos ’n verliefde.” Hoe lyk hy? vra ek. “Tall, dark and handsome,” giggel sy asof dit ’n noodwendigheid is. “Nóg ’n cliché. Og, hy’s oulik. Hy’s baie, baie oulik."

Dan, asof rede skielik intree: “Maar dis nog baie vroeg, jy weet. Soos my ma altyd sê, tyd sal leer,” maak sy haar na in ’n hoogdrawende stem.