Germandt Geldenhuys, die gewilde "kroegman" Louis Koster in die kykNET-sepie Binnelanders, sing 'n vrolike deuntjie by vanjaar se Silwerskermfees in Kaapstad wat môre begin. Hy sal te sien wees as Ludolf in die rolprent Kanarie. Dis een van twee flieks deur die bekroonde regisseur Christiaan Olwagen wat by die filmfees vertoon gaan word - die ander een is Die seemeeu. Albei is kompetisiefilms.

Kanarie, wat handel oor die Weermag se koor, het reeds groot lof van oorsese kritici ontvang. Selfs die gesaghebbende vermaaktydskrif The Hollywood Reporter het dit geloof.

Germandt kan nie wag om die fliek te sien nie. "Dit was die eerste keer dat ek saam met Christiaan Olwagen gewerk het. Hy het my baie geleer oor truth in toneelspel en hoe jy moet deurdruk tot jy dit regkry én hoe om 'n storie te vertel soos dit is, nie soos jy dit wil hê nie."

'n Dramatiese toneel uit die rolprent 'Kanarie'. SKERMGREEP YouTube/ Marche Media
Germandt Geldenhuys vertolk die rol van Ludolf in Christiaan Olwagen se 'Kanarie'. SKERMGREEP Youtube/ Marche Media

Dis vanjaar sy eerste Silwerskermfees en hy is net so opgewonde om al sy vriende se werk te ondersteun.

Germandt het 'n besige jaar agter die blad. "Ek en Je-ani Swiegelaar [Naomi in Binnelanders] het die toneelstuk keelVOL geskryf waarmee ons regdeur die land toer – ons beplan ook reeds 'n volgende stuk."

Boonop werk hy aan 'n paar liedjies wat hy binne die volgende paar maande as enkelsnitte wil uitreik. En tussendeur tree hy as seremoniemeester by gesellighede op. Eendag wil hy nog terugkeer na regie.

Germandt hou sedert kleintyd van stories vertel. "Ek weet toneelspeel is die regte beroep vir my. Dit is die eerste ding waaraan ek dink as ek wakker word en die laaste voor ek gaan slaap." Hy glo toneelspeel leer jou om mense te verstaan en hul "waarheid" te ontdek. Daarna moet jy dit jou eie maak. "Dis meer sielkundig as enigiets anders."

FOTO Zanje Faure

Vra jy hom om tussen televisie, teater en rolprente te kies, bieg hy: "Nou vra jy my om te kies tussen my kinders. Teater sal altyd 'n sagte plekkie in my hart hê – die onmiddellikheid daarvan. Maar televisie en film bied 'n geleentheid om 'n groter mark te bereik. En omdat ek glo stories kan die wêreld verander, is dit goed dat soveel moontlik mense bereik word."

Die senuwees knaag wel nog soms. "Veral voor ek op die verhoog gaan. Maar dit is deel van die proses. Ek drink 'n koppie tee as ek senuweeagtig is."

Wat is volgende? "'n Six-pack,grap hy. Dan meer ernstig. "Nee wat, ek sal nog baie dinge wil aanpak, maar stel nie noodwendig doelwitte nie. Ek het al te veel agtergekom as jy 'n droom het en dit werk nie uit soos jy gedink het nie, is jy teleurgesteld. Ek wil bloot altyd werk, altyd besig bly en altyd deel wees van cool projekte."

Tot dusver het hy rolle gekies wat hy weet hy kan baasraak. "Nou wil ek bietjie die rol van die skurk, die antagonis, vertolk. Maar mense reken my gesig is nie 'boos' genoeg nie. Ek is nie seker of dit 'n kompliment is nie. Op die oomblik word ek meestal gevra om die held se snaakse maatjie of boetie te speel."

Kyk Kanarie hier:

Die kykNET Silwerskermfees begin Woensdag 22 Augustus by The Bay Hotel in Kampsbaai. Hou SARIE.com en ons sosiale media dop vir meer stories oor dié filmfees.