Die ses maande oue Sion is ’n week gelede weens brongitis in die Kloof-hospitaal in Pretoria opgeneem, maar Ronel Brink, Bobby se ma en agent, sê dit gaan nou baie goed met die seuntjie en hy’s weer springlewendig.

Bobby, sy vrou, Annatjie, en Sion het Saterdag Durban toe gevlieg om vir ’n week daar te gaan uitspan ná die moeilike tydjie. “Hulle wou net bietjie gaan asemskep,” sê Ronel. Sodra Bobby terug is, gaan hy feitlik in die ateljee moet slaap om sy nuwe album betyds klaar te kry, sê sy.

Dié album gaan na verwagting in Julie beskikbaar wees. “Intussen is dit belangrik dat Bobby ontspan, want hy’s oorwerk en moeg.”

Annatjie is swanger met hul tweede kind. Bobby het vroeër geskerts dat hulle wonder of dit ’n tweeling is, omdat daar baie tweelinge in haar familie is, maar hulle het nog nie vir ’n sonar gegaan nie.