“Karlien is nie skaam nie. Sy is baie reguit. Sy het my gewys dis oukei om anders te wees. Dis nodig om uit die boks te dink. Ons is nie gemaak om soos almal te wees nie, maar om onsself te wees. Sy het my geleer ek moet ophou worry oor wat mense van my dink. Ek is altyd die ou wat niemand wil seermaak of aanstoot gee nie.

Karlien van Jaarsveld

Foto: Chris van Dalen (Studio 77)

"Eintlik is ek baie skaam, teruggetrokke. Ek praat nie maklik nie.Maar Karlien het my baie gehelp om uit my dop te kruip. Sy het my laat voel ek het ook ’n plek onder die son, ek moet my sê sê, want as ek dit nie doen nie, sal mense oor my loop. Ek maak myself so kwaad as ek so skaam is.

Danksy haar skryf ek eerlike musiek. Dis die sleutel tot my liedjies se sukses. Ek skryf rou goed wat ek voel, nie net lirieke wat mooi rym of wat die massas bevredig nie. Ek sal graag baie meer saam met haar wil werk. Enigiets wat ons saam aanpak, is vir my lekker. Ons dink alles is snaaks. Mense snap nie altyd ons humorsin nie, maar dis ook reg. Solank ons mekaar verstaan, kan jy ons vir weke alleen laat.

Dis nie ’n staatsgeheim dat ons ma [en bestuurder], Ronel Brink, al twee keer geskei is nie. Ek voel nie gemaklik om daaroor te praat nie. Dis in die verlede, begrawe. Maar deur alles wat gebeur het, is my en Karlien se band só sterk dat niks dit kan breek nie. Kettie en klip.

Kleintyd het ek en sy alles saam gedoen. Ons was vir seker nie soet nie. Sy het saam met my karretjies gespeel. Ek het babapoppe opgepas. Ons het boom geklim, voëltjies gered, geswem, toktokkie gespeel, op dakke geklim, álles! Ons is beste pêls, maar kon kleintyd ook regtig goed baklei. Sommer oor ’n klomp goed. Sy het altyd gekyk hoeveel swiets sy in haar mond kon druk en was dan baie kwaad as ek van myne gespaar het en agterna nog oorgehad het om te eet. Sy het gedink sy is nie mooi nie en dít het my sommer baie kwaad gemaak. In ’n stadium het ons selfs baklei omdat sy gevoel het sy´ moet my´ beskerm. Ons was in sewe laerskole. Ek het gesê ek kan my eie man staan. Ek besef nou sy het dit goed bedoel.

Ek wou haar ook altyd teen alles beskerm, hoewel sy veertien maande ouer as ek is. Ek het nooit van haar ouens gehou nie. Op skool sou ek weier dat sy en haar kêrel(s) by die huis inkom of alleen saam mag kuier. Sy het dikwels vir my kwaad geraak en gesê ek moet ophou ‘pa’ probeer wees. Maar dis mos my suster, jy mors nie met haar nie. Ek was sommer baie kwaad as ek sien hoe mans of ou omies op ’n onsmaaklike manier na haar kyk. Ek het daai ‘oog’ geken en geweet hulle dink vir seker nie watter mooi skouers sy het nie ...

Dit maak my baie seer as ek sien iemand praat lelik van of met haar. Net ék weet waardeur sy al is en baie min mense ken haar eintlik. Haar mooiste eienskap is dat sy sal veg vir die waarheid en hard sal probeer om iemand vir die Here te wen. En sy weet hoe om elkeen wat haar pad kruis – selfs die boemelaar op straat – belangrik en geliefd te laat voel.” Die grootste les wat ek by Karlien geleer het:
“Jy kan nie almal please nie.”