Die sanger Bobby van Jaarsveld gaan sy lyf nou akteur hou in Liefling wat middel 2010 deur Ster-Kinekor uitgereik word. Lika van den Bergh, Regardt van den Bergh se dogter, speel teenoor hom. Marguerite van Wyk het met hom gesels oor dié nuwe wending in sy lewe.

Hoekom het jy besluit om in dié fliek te speel?
Ek wil my vlerke sprei en ander dinge probeer. Ek wil ook nog in `n sepie speel soos Binnelanders of 7de laan.

Wat is die boodskap van die fliek?
Dis `n doodgewone liefdesverhaal met musiek. Dit gaan oor `n ryk en `n arm familie. Die karakter wat ek vertolk, los die ryk meisie vir die arm meisie en dan is daar baie drama.

Sing jy ook in die rolprent?
Ja, dis een van die redes hoekom ek die hoofrol gekry het. Die fliek is `n soort Afrikaanse musiekblyspel met meestal bekende Afrikaanse liedjies asook een of twee van my eie liedjies.

Het die fliek `n mooi einde?
`n Pragtige einde waaruit elkeen iets gaan leer.

Wie is jou gunsteling-akteur?

Morgan Freeman

Gaan jy by iemand leer hoe om toneel te speel?
Brümilda van Rensburg gaan my touwys maak.

Met watter ander projekte hou jy jou besig?
Ek is op die oomblik besig om my nuwe CD op te neem wat einde September verskyn. Al die liedjies daarop het ek self geskryf en gekomponeer. Dis kommersiële musiek met `n boodskap. Die CD het nog nie `n titel nie.