Dis nou al tien jaar gelede, maar Damian Engelbrecht sal altyd die jaar onthou toe hy “pa” was vir ’n sesjarige seuntjie, ’n jaar waarin die eens afgeskeepte kind wat nie kon tel of sy naam skryf nie, begin floreer het onder sy liefde en aandag ... Soveel dat Damian wou aansoek doen om voogskap, met die hoop om hom later te kon aanneem.

En toe die oproep – die ma, wat vroeër weinig belangstelling getoon het, wou dadelik haar kind terughê, want sy het gehoor Damian is gay. Al was dit nie die eerste keer dat gay-wees teen hom getel het nie, het dit Damian onverhoeds betrap.“Dalk omdat ek al so lief geword het vir hom ... my hart was baie seer.”

Toe Damian as eerste gay deelnemer aan die kykNET-werklikheidsprogram Boer soek ’n vrou ingeskryf het, het hy wel uit die staanspoor geweet waarvoor hy hom inlaat. “Ek is nie naïef nie, ek het geweet daar sal hier en daar nare kommentaar wees. Maar ek het tog gedink ons land het al verder gekom as wat ek toe moes ervaar – daar was dan al ’n gay soen op 7de Laan!” lag hy.

Hy het riller-haatpos op sosiale media gekry, maar dis duidelik dat Damian op 38 nou al geleer het om sulke kommentaar nie persoonlik op te neem nie. Hy skerts oor die “alpha male-boere” wat seker in hul koffie gestik het toe hulle sien “’n gay man kan ook boer”. Daaroor kan hy nou al lag terwyl hy sy rooibos-cappuccino geniet in ’n koffiewinkel in Pretoria. “Ek dink die meeste mense dink gay mans is haarkappers of bloemiste. En toe breek ek daardie raamwerk, want hier is ek, ’n boer. En ’n Christen. Hoekom kan ek nie al daai dinge wees nie?”

As dit by dieper kwessies soos geloof kom, raak hy ernstig. Hy is beslis ’n kampvegter vir gay regte, sê hy, want hy weet goed hoe seer die wêreld kan maak as jy nie in die “regte boksie” pas nie.

Destyds toe hy die Christelike Maatskaplike Raad (CMR) in Pretoria gaan sien het om te hoor wat die kans is dat hy as gay man ’n kind kan aanneem, was hul raad dat hy nie eens verder moet probeer nie, want as gay man is die kans skraal*. “Al sê die land se wette wát, is daar steeds ’n mens wat jou moet help met die proses, en hul siening gaan dit beïnvloed,” haal hy sy skouers op.

In daardie stadium het hy al ’n hele ruk die seuntjie onder sy vlerk gehad. Die kind het eintlik toevallig oor sy pad gekom, vertel hy. “Ons het by ’n vriend naby Carolina gekuier en hulle het toe pas huisvesting vir ’n egpaar en hul sesjarige kleinkind op die plaas gegee. Die kind se ma het hom op sestien gehad en hy het by sy grootouers gewoon. Oor die naweek het ons twee goeie tjommies geword. Die ouma en oupa het vertel hulle weet nie hoe hulle hom skool toe sal stuur nie, want hulle het nie geld om hom elke dag na die dorpskool aan te ry nie. Ek maak toe ’n grap en sê ek sal hom aanry, hy moet net by my kom bly.”

’n Paar dae later kry hy ’n oproep van die egpaar. “Hulle sê toe hulle het mooi gedink en ek kan hom kom haal. Ek was geskok dat hulle hom net so na iemand anders kon stuur en het besef die kind het dan regtig my hulp nodig. Ek het hom gaan haal, ingeskryf by die skool en hy het absoluut begin floreer. Mettertyd het ek begin met die proses om aansoek te doen om voogskap – sy grootouers was nie amptelik voogde nie, en as hy siek sou word, sou iemand as voog moes kon teken. Dis toe dat die ma laat weet sy wil haar kind terughê. Sy het selfs die polisie gebel en gesê ek het hom ontvoer. Hulle het navraag kom doen, maar kon sien dis nie die waarheid nie en het dit daar gelos.”

By die CMR, waar hy toe weer gaan aanklop het, is die deure eensklaps vir hom toegemaak. Die seun is terug na sy ma, wat hom drie maande later weer vir sy grootouers gegee het. “Ek het nie ’n ander keuse gehad as om my afstand te hou nie,” vertel Damian. Hulle het minimale kontak gehad oor die jare.

Vandag is die kind al 17 en het ophou skoolgaan, maar verder weet Damian weinig oor hom. Sulke hartseer stories is al lank deel van Damian se lewe. Hy praat nugter oor die afstand tussen hom en sy ma, met wie hy deesdae skaars ’n verhouding het. “Sy leef streng volgens die Bybel en glo gay-wees is sonde. Deur die jare het sy hier en daar versag, maar sy kon dit nie aanvaar nie.”

Ook oor sy ondervinding met die kerk is hy eerlik. “Ek het grootgeword in die kerk en was amper elke dag daar vir verskillende aktiwiteite – orkes, biduur, jeug, dienste. Op agtien toe almal uitvind ek is gay, is ek uit die kerk geskop. Net so. My lewe het vir ’n ruk stilgestaan, want jy voel jy’s niks werd nie.”

Wanneer hy sien hoe seer dieselfde ongelykhede ander gay mense maak, raak hy vurig. “Daardie haat begin iewers; mense dink dit nie self uit nie. En dis tragies dat dit van die kansel af gepreek word. Pastore sê dis sonde, gaan huis toe en vergeet daarvan, en dan is daar gebroke families weens daardie woorde. Dink hulle aan die families in die gemeente wat hul gay kind weggejaag het, wat nie meer Kersfees huis toe mag kom nie? Aan die skade wat dit aan soveel mense doen?” Gelukkig het sy pa hom ondersteun. “My ma het vir my pa vertel ek is gay toe dit uitkom, en ek was bang vir sy reaksie. Hy was nog van die ouer garde, ’n streng man. Maar toe sê hy net: ‘My kind, as dit jou gelukkig maak, is ek gelukkig.’ Ons het omgedraai en gaan koffie maak en tot die dag van sy dood, twee jaar gelede, was daar nie ’n sweempie ongemak daaroor nie, net liefde.”

FOTO Donna Lewis

Hy en sy pa was baie na aan mekaar, veral toe Damian op 13 by sy pa gaan woon het met sy ouers se egskeiding. “Hy het my in alles ondersteun. Toe ek op negentien ’n staalkonstruksie-onderneming begin, het hy vir my ’n hoekslyper gekoop. Dit het vir my baie beteken, want hy het vir die stadsraad gewerk en daar was nie geld vir luukshede nie.”

Damian moes vinnig grootword ná sy ouers se egskeiding en het al as jong kind geleer om sy eie potjie te krap – een van die redes, glo hy, dat hy sukses as sakeman behaal het. Buiten sy bees- en skaapboerdery op Bapsfontein het hy ook ’n landbougereedskap-onderneming en ander landbouverwante sakebelange. “Ek het al alles in my lewe gedoen!” lag hy. “Ek het al velsorgklinieke bedryf, ’n vervoeronderneming in die mynbedryf gehad, mielies uitgevoer en selfs ’n nagklub besit. En ek oorweeg nou om ’n dieselstasie oop te maak om die boerdery aan te vul.”

Boer is nog altyd sy passie, sedert sy kinderjare toe hy oor naweke op sy oom se plaas buite Cullinan gekuier het. “Daai vryheid, die oopte het my bygebly en ek het geweet ek wil eendag boer. Ek het deur die jare alles wat ek nou oor boerdery weet, uit boeke geleer – my kantoor is vol stokou boeke oor landbou wat ek versamel. My eerste boerdery was ’n klein plasie naby Vrede in die Vrystaat, maar dit was net te ver met al my sakebelange in Pretoria. Toe sien ek vyf jaar terug dié plek op Bapsfontein. Dit was ideaal. Ek sal altyd boer, al is dit vandag baie uitdagend. Om wakker te word met ’n haan se gekraai, jou eie ding te doen ... niks kom daarby nie.” Min mense besef egter hoe moeilik boerdery regtig deesdae is, sê hy.

“Die dae is verby wat jy ’n bestaan kan maak met ’n paar beeste en skape, want groot maatskappye het die skaal van boerdery verander en bestaansboere kan nie meer byhou nie. Familieboerderye maak toe, nes die familiekafees op die hoek wat met ’n supermark vervang is. En dan is daar die stres oor klimaatsverandering en die droogtes die laaste paar jaar. Ek is betrokke by ’n droogtehulporganisasie en dit breek jou hart as ’n boer daar ‘day zero’ aankondig. Dit beteken hy kan nie sy diere voer nie, kan nie kos op die tafel sit nie, hy kan nie eens sy kinders aanry skool toe nie. Die regering doen nie genoeg vir boere nie, nie naastenby nie.”

Maar steeds bly dit sy groot liefde. Dit, sy vier honde, en musiek – saam met die “familie” van vriende. “Oor die jare het ek en ’n paar vriende wat ook uit Pinksterkerke geskop is, saamgekom en die kerk se musiek begin speel, want ons het dit gemis. Ons het onsself so vyf jaar gelede begin opneem en dit op Facebook gelaai. Daardie groep, Pinkster Musiek, het nou al oor die 15 000 lede. Musiek doen nou maar net iets vir die siel.”

En die dag sal ook kom dat hy sy eie kernfamilie het, al het hy nie liefde op Boer soek ’n vrou gevind nie. Ná die tyd is hy weer deur die briewe wat hy nie as sy tien moontlike pasmaats gekies het nie, maar hy het daarteen besluit om kontak te maak.

“Dis die een moeilike ding as jy op ’n plaas woon. Ek is net 25 km buite Pretoria, maar ek het nie tyd om oor ’n naweek ver te ry om by iemand te gaan kuier nie. En, regtig, ek sit nie saans en kou my polse af omdat ek alleen is nie, want ek is baie onafhanklik. Ek is ’n beter mens in ’n verhouding, dit gee betekenis aan die lewe, maar ek gaan ook nie in ’n verhouding wees net om in een te wees nie. As dit reg is, sal dit gebeur.”

Ongeag sy liefdeslewe, wil hy ’n pa wees. “Ek het besluit ek wil kinders hê, maak nie saak wat nie. Ek wil bitter graag ’n kind hê en ek oorweeg steeds aanneming of surrogaatskap, of ek nou in ’n verhouding is of nie. As gay mens maak jy jou eie familie.”

WAT SÊ DIE WET?

Volgens die Kinderwet van 2005 is daar geen beperkings op aanneming deur gay mense nie, hetsy in ’n verhouding of enkellopend, maar private agentskappe mag hul eie kriteria in dié opsig hê, aldus ’n dokument deur die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN). Verskillende CMR-takke het ook hul eie beleid.

René Pretorius, bestuurder van die CMR-Noord, sê hoewel die tak nie diskrimineer op grond van kultuur, seksuele voorkeur of verhoudingstatus nie, is daar meer as een rolspeler betrokke. “Die hof, departement van maatskaplike ontwikkeling en registrateur van aannemings moet aannemings goedkeur. Hulle probeer babas plaas binne dieselfde kultuur, godsdiens, ekonomiese agtergrond, taal en meer, en sulke plasings kry voorkeur.”

Dina Bosch, bestuurder van die CMR-tak Gauteng-Oos, sê ook dié tak diskrimineer nie, maar die werklikheid is dat kinders steeds makliker by heteroseksuele pare geplaas word. “Ons lê altyd drie profiele aan die biologiese ma voor, wat die aanneemouers self saamstel, en ma’s kies gewoonlik ’n man en vrou. Waar daar nie biologiese ouers is nie, neem ’n maatskaplike werker die besluit en gay paartjies kry dan makliker ’n baba.”

Dinge het beslis verander die afgelope dekade, sê sy verder, en baie meer babas word by gay paartjies geplaas.