Dit was nie ’n maklike besluit nie,maar die hunkering om iets anders te doen het al vir ’n ruk aan
Angelique Gerber geknaag.Vir die publiek was sy Clara-ja!, die sprankelende Roemeense meisie van 7de Laan.

Maar ná drie jaar was dit vir haar tyd om net weer Angelique te wees. “Toe neem ek die sprong en doen ’n oudisie om die nuwe aanbieder van Boer soek ’n vrou te word,” vertel die petite rooikop. Só het dit gebeur dat sy nou die skakel is tussen die kykers en die boere en vroue wat deelneem aan dié gewilde werklikheidsprogram.

Maar voordat Angelique voor die kameras kon inskuif,moes sy eers ’n nuwe klerekas kry. Haar persoonlike styl – ’n liefde vir girly-modes soos rokke en hoëhakskoene – was nie prakties vir die plaasomgewing nie.Dié dat sy saam met ’n stilis, Maegan Joubert, op ’n sending gestuur is: Kry 30 uitrustings vir die program!

“Ek het vinnig ’n jeans-tekkies-en- T-hemp-meisie geword.Die idee was om die stylvolle girl next door te wees, baie soos Jennifer Aniston. Die nuwe uitrustings moes van só ’n aard wees dat dit nie die boere afskrik nie,maar ook nie die deelnemers oorskadu nie,” verduidelik Angelique.

Met plase om te besoek – van Worcester en Robertson in die Wes- Kaap tot Roedtan en Dwaalboom in Limpopo – was dit moeilik om die regte klere vir elke klimaat te kry.

“Sommige plase is heeldag koud, ander is soggens koud en smiddae warm. Ons moes eintlik voorsiening maak vir al die seisoene.Die eerste dag was ons van agtuur die oggend tot nege-uur die aand in die winkels. Die laaste winkel wat ons besoek het, was al besig om die ligte af te sit, toe is ek nog in die aanpaskamer besig!”

Die inkopietog het uiteindelik 2 dae geduur. En hier wys Angelique die resultaat:

Haar 16 gunstelinguitrustings wat bestaan uit verskeie items wat sy op verskillende maniere dra:

 Angelique Gerber

1. “Ek is mal oor kakie. Die kleur pas by my vel, oë én hare. Die top laat my toe om my wintervetjies bietjie weg te steek, en die spanbroek wys my bene se vorm en hou dit terselfdertyd warm. Ek dink die hoedjie gee die uitrusting ’n edge.”

 Angelique Gerber 2. "Dis die kleure wat ek gewoonlik dra. Die koraal en lila is baie girly. Ek sal so 'n uitrusting ook self dra.”
 Angelique Gerber 3. “Dis die goue detail wat dié uitrusting so glansryk maak. Ek hou van die verskillende teksture en ek dink die kakie en die country-gevoel pas goed by die boere.”
 Angelique Gerber 4. "Turkoois is een van my gunsteling-kleure. Die titsel daarvan in die serp is net genoeg om die prentjie ’n bietjie kleur te gee.”
 Angelique Gerber 5. "Ek is gaande oor die gehekelde trui, wat ek in ’n serp omskep het en hierby dra. Dit gee tekstuur aan
die hele voorkoms.
Beige is een van my
gunstelinge.”
 Angelique Gerber 6. “Die broek laat my dink aan my verloofde, Ben-G [van Niekerk]. Hy is mal oor cargobroeke met baie sakke.
Ek sal nie sommer so ’n broek dra nie, maar dis beslis gemaklik.”
 Angelique Gerber

7. "Die baadjie sit vir my verskriklik mooi. Dis vroulik, daarom gee dit so ’n mooi vorm aan jou lyf.”

 Angelique Gerber
8. "Dié kombinasie kleure werk. Ek is mal hieroor!
 Angelique Gerber
9. “Ek voel sexy maar steeds gemaklik hierin. Alles van die uitrusting sit net reg aan my lyf.”
 Angelique Gerber
10. "My gunsteling-deel van dié uitrusting is beslis die belt. Dit doen net iets en bring alles bymekaar.”
 
11. "Ek love mos 'n rokkie! Ek het besluit dit kan maar hoe koud wees, dié rokkie sal ek dra.”
 Angelique Gerber
12. "Dié is nou 'n pragtige country-meisievoorkoms. Die kleure lyk net so mooi saam met die ligte jeans. Dis vir my speels.”
 Angelique Gerber
13. "Seker my gunsteling-jas. Jy kan dit op soveel verskillende maniere dra! Die styl en die grys is baie veelsydig.”
 Angelique Gerber
14. "Ek is bang vir dié uitrusting, want die ligte kleur en die wye moue kan my dalk groter laat lyk as wat ek is. Maar ek dink tog die belt kan dit voorkom.”
 Angelique Gerber
15. “Hierdie is een van die gemaklikste uitrustings. Die pers lyk mooi in kontras met die plaasomgewing.”
 Angelique Gerber
16. "Dis ék! Ek kan op 'n trekker klim en steeds sexy lyk. Moenie skaam wees om kortbroeke in die winter te dra nie. Jy hoef nie jou bene in langbroeke weg te steek nie!”

Boer soek ’n vrou begin vandag, 1 September om 19:30 op kykNET.