Watter raad het hy en ander vorige deelnemers vir die nuwe spannetjie?

Hoopvolles het klaar vir hul gunsteling-boer geskryf en op 16 September skop die derde reeks af met Elma Postma wat die tien boere in die reeks se briewe gaan aflewer. Die vyf boere wat die meeste briewe ontvang het, kies dan elk tien vroue met wie hulle op ’n blitsafspraak gaan. Hieruit kies elkeen vyf vroue met wie hy op ’n langer afspraak gaan. En uiteindelik kies elke boer drie kandidate om by hom op die plaas te gaan kuier.

Die vorige reekse het sowat 500 000 kykers gelok. Kan ons weer uitsien na ’n troue of gaan die boere, soos baie van die voriges, eers ná die reeks geluk vind?

Tiaan naudé (36) van Cradock,

Boer soek ’n vrou 1

Toe en nou:

Die enigste verhouding wat hy deesdae het, is met sy Jack Russell, spot Tiaan,’n besproeiingsboer van Cradock.

Uit die briewe wat hy destyds gekry het, het hy gedink hy het in Hesmari de Ridder sy droomvrou gevind. Maar sy het toe intussen te besig geraak om aan die reeks deel te neem en onttrek. Toe Tiaan uiteindelik vyf vroue moes kies om saam met hom op ’n afspraak te gaan, het hy begin huil en gesê hy kan nie voortgaan nie, want hy glo ná haar brief Hesmari is sy vrou.

Maar sy besluit om vroeër uit die reeks te gaan en Hesmari beter te leer ken was vergeefs, want nadat hulle twee maande uitgegaan het, het dingedoodgeloop. Tiaan wonder steeds of hulle nie vir mekaar bestem was nie. “Ek het regtig gedink dit gaan werk.”

 

Ek het regtig gedink dit gaan werk.”

 

Raad aan die nuwe boere:

“Moenie binne die eerste tien minute op ’n meisie verlief raak nie,” sê Tiaan vandag. “Gaan deur die hele reeks en besluit aan die einde  wie jy wil hê. Moet ook nie jou hart op nasionale TV uitstort nie, want baie mense vra my nou nog wat van Hesmari geword het!”

Lekker en sleg: Twee jaar ná die reeks herken mense hom steeds, vertel Tiaan.

“Ek was nou die dag in Bloemfontein om implemente vir die plaas te koop. Ek het Leon Schuster se nuwe fliek gaan kyk. ’n Ma met haar twee kinders het voor my kom sit. Die seuntjie het omgekyk, sy sussie op die skouer getik en gesê: ‘Daar sit boer soek ’n vrou.’ Toe waai ek maar vir hulle. Dít was nice, maar dan kry jy die geval waar ’n dronk ou vir my vra of ek al ’n meisie gekry het. Dít ignoreer ek maar.”

En as hy weer die geleentheid kon kry om in te skryf?

“Sal ek dit beslis doen, want ek is nog single. Die reeks was ’n avontuur en ek het ’n klomp nuwe mense ontmoet.”

Ludwig oberholzer (38) van Ficksburg,

Boer soek ’n vrou 2

Toe en nou:

Ludwig het sommer vroeg in die reeks kykers se aandag getrek toe hy vir Clarina Linde, ’n hoërskoolvriendin van sy suster, by die onderhoude in Kaapstad raakgeloop het.

Clarina, ’n mediese verteenwoordiger van Pretoria, het oorspronklik vir Johann Pistorius ’n brief geskryf,maar Ludwig het haar gevra om saam met die ander twee vroue wat hy gekies het na sy plaas, waar hy met skaap, bees en gesaaides boer, te gaan.

Hy kon egter nie die wow-faktor waarna hy so hard in ’n vrou soek, in sy drie kandidate vind nie. En hy bly enkellopend.

Stel hy nie dalk te veel onrealistiese eise nie?

Nee, sê hy.

“My siening oor verhoudings het nie verander nie. Ek soek steeds daai wow-faktor. Ek weet nie hoe om dit te beskryf nie. As ek dit raaksien, sal ek weet.”

 

Ek soek steeds daai wow-faktor."

 

Raad aan die nuwe boere:

Hulle moet weet wat vir hulle voorlê, sê Ludwig. Boer soek ’n vrou is ’n game wat jy moet speel.“Dis byna onmoontlik om jouself te wees.”

Lekker en sleg:

“Sommige tonele van die program is oor en oor geskiet en het onnatuurlik gevoel,” sê Ludwig.

“Dít het dit moeilik gemaak om myself te wees. Toe ek weer na die program kyk, het ek gedink: Dis nie ék nie.”

Tog was dit ook ’n lekker ervaring.

“Ek het goeie vriende met die boere van albei reekse geword en ook met van die vroue wat deelgeneem het.”

Johann Pistorius (31) van Standerton,

Boer soek ’n vrou 2

Toe en nou:

Wat het geword van die mooi, blonde Stella Zwiegers wat Johann tydens die reeks na sy plaas genooi het, al het sy nie ingeskryf nie?

Johann,’n graan-en-beesboer, het Stella by ’n braaigeselligheid ontmoet terwyl Boer soek ’n vrou verfilm is en dadelik belang gestel. Hy het besluit om die reeks klaar te maak en tyd saam met die drie vroue wat hy plaas toe gevra het, deur te bring. Maar hy het nie een van die drie gekies nie en Stella het uiteindelik die laaste deel van die reeks saam met hom voltooi. Hulle het toe agt maande lank uitgegaan.

“Sy’s ’n pragtige meisie, maar daar was net te veel dinge wat veroorsaak het dat ons nie sou trou nie,” vertel Johann, wat nou weer enkellopend is.

Raad aan die nuwe boere:

Betoon die hele tyd respek aan die vroue, en wees nederig en behou jou waardigheid, sê Johann.

“Wees jouself. En geniet elke oomblik. Dit gaan gou verby.

 

Wees jouself. En geniet elke oomblik. Dit gaan gou verby."

 

“Dis ’n geleentheid om nuwe mense te ontmoet. As dit ’n match made in heaven is en daardie spesiale meisie skryf in, sal dinge tussen julle uitwerk.”

Lekker en sleg:

Die “vrag” emosies wat hy moes hanteer toe hy moes kies wie van die vroue moes huis toe gaan, was baie moeilik. Maar hy’s oor niks spyt nie,want hy het alles voluit gedoen.

“Ek het elke situasie na die beste van my vermoë probeer hanteer.”

Zaza scribante (40) van Louwsburg,

Boer soek ’n vrou 2

Toe en nou:

Vir Zaza was Boer soek ’n vrou net die regte ding om haar te laat besef sy’s ook net ’n vrou wat op soek is na ’n man wat haar kan beskerm.

“My openlike erkenning op TV dat ek iemand in my lewe wil hê, het daartoe gelei dat ek my hart en kop vir die liefde oopgemaak het.

“Soms moes ek diep delf om te besef waarna ek op soek is in ’n man voordat ek sommige van Elma Postma se vrae oor verhoudings en die liefde kon beantwoord.”

Einde verlede jaar het Zaza se pad weer gekruis met ’n jare lange vriend, Ian van der Vyver, maar hierdie keer het die liefde tussen hulle geblom.

 

Soms moes ek diep delf om te besef waarna ek op soek is"

 

Raad aan nuwe boere:

Vroueboere moet hulle dit nie aantrek as hulle nie genoeg briewe kry om uiteindelik onder die topvyf-boere te wees wat kan kies watter briefskrywers hulle na hul plaas wil nooi nie. Tot dusver in die reeks kon nog nie een vrou genoeg briewe kry nie. Dit het niks met die vroue te doen nie, dis net nie in mans se aard om liefdesbriewe vir vroue te skryf nie,meen Zaza. “Vroue skryf van kleintyd af liefdesbriewe. Dis vir hulle makliker om hul gevoelens op papier neer te pen.” Lekker en sleg:

Zaza sal Boer soek ’n vrou vir enigiemand aanbeveel.

“Die blootstelling is fantasties. Dit gee jou ’n kans om met meer mense as net Jannie van die buurplaas in aanraking te kom. Dis ’n goeie ding vir ’n boer om uit jou gemaksone te kom, veral omdat jy gewoond is om die show te run op die plaas.Om tussen vreemde mense te wees en nuwe mense te ontmoet laat jou toe om te groei.” Die slegter deel is dat jy vir ’n ruk in die kollig is en ander mense dan insae in jou private lewe kry, sê sy. *Die derde reeks van Boer soek ’n vrou begin 16 September op kykNET.